HOOGLIED – AGTERGROND-INLIGTING VIR BYBELSTUDIE

hooglied -agtergrond-inligting

Hooglied, of Hooglied Van Salomo, soos dit ook bekend staan, is die twee-en-twintigste boek in die Bybel. Dis die laaste nie-profetiese boek in die Ou Testament, want die boeke wat daarop volg, is almal profetiese boeke.

Dié boek het deur die eeue heen al baie kritiek gekry omdat ons daarin die eksplisietste verwysings na seks in die Bybel kry. Maar hoewel die boek ‘n mens kan laat bloos wanneer jy dit lees, is daar ook baie wat ‘n mens daaruit kan leer.

In hierdie artikel gaan ons ‘n bietjie kyk na van die agtergrond-inligting wat vir jou van waarde gaan wees as jy ‘n Bybelstudie oor Hooglied wil doen.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

In Hebreeus is die naam van hierdie boek Sjier hasjiŕim, na aanleiding van die eerste woorde van die boek. Dit beteken ‘die voortreflikste lied’ of ‘lied van die liedere’.

In die Afrikaanse Bybel hou die naam verband met die naam wat Martin Luther aan die boek gegee het. Sy naam daarvoor was Das Hohelied.

WIE HET HOOGLIED GESKRYF?

Volgens tradisie was Salomo die skrywer van Hooglied, omdat die boek begin met “Die lied van alle liedere. Van Salomo” (2020-vertaling).

Maar hierdie teks kan ook beteken ‘Vir Salomo’ of ‘opgedra aan Salomo’.

Daar is dus nie veel sekerheid oor wie nou eintlik hierdie boek geskryf het nie.

WANNEER HET DIE BOEK ONTSTAAN?

Oor die ontstaan van die boek is daar ook nie baie sekerheid nie.

Dis moontlik dat Hooglied 3:6-11 wel vir een van Salomo se baie huwelike gedig was en daarom uit ‘n vroeër tyd kan dateer. Maar omdat daar verskeie Persiese en Griekse leenwoorde in die boek voorkom, is dit meer waarskynlik dat die boek in die derde eeu vC sy finale vorm gekry het.

WAT SE TIPE BOEK IS HOOGLIED?

Hooglied is deel van die wysheidsliteratuur en bestaan uit ‘n klomp liedere.

Dis interessant dat die boek in Hebreeus 470 woorde het, waarvan 47 net in dié boek voorkom.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Hooglied kan op twee verskillende maniere geïnterpreteer word.

In die eerste plek kan dit gesien word as ‘n allegorie vir die liefde van God vir Israel en/of die kerk. Dit leer ons dus hoe groot God se liefde vir Sy kinders is.

In die tweede plek kan die boek letterlik verstaan word as die verhaal van twee mense se liefde vir mekaar. In hierdie geval leer dit ons meer oor die liefde, die huwelik en seks.

.

HOOFTREKKE IN HOOGLIED.

‘n Mens kan Hooglied amper soos ‘n toneelstuk lees, wat in vyf bedrywe (acts) geskryf is:

Haar verlange na haar geliefde – hoofstukke 1 en 2 (bedryf 1).

Die grootheid van Salomo – hoofstuk 3 (bedryf 2).

Hofmakery – hoofstuk 4-6 (bedryf 3).

Die huwelik – hoofstuk 7 (bedryf 4).

Epiloog – hoofstuk 8 (bedryf 5).

JESUS IN HOOGLIED.

Hoewel Jesus nêrens in Hooglied genoem word nie (God se Naam word nie eers in die boek genoem nie!), kan ons Hom tog in die boek sien.

Net soos die man in die liefdesverhaal sy bruid met sy hele hart liefhet, het Jesus ons ook met Sy hele hart lief. Hy het ons immers so liefgehad, dat Hy bereid was om vir ons te sterf.

SLEUTELVERSE IN HOOGLIED.

Die boek se sleutelvers is in hoofstuk 8:6-7, waar ons sien die liefde is sterker as die dood.

“Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur. Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word” (1983-vertaling).

VORIGE ARTIKELS.

Ek vertrou dat hierdie agtergrond-inligting jou gaan help wanneer jy ‘n Bybelstudie oor Hooglied wil doen.

In van ons vorige artikels het ons reeds oor die eerste 21 boeke van die Bybel gesels. Ek het skakels na daardie artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om te kry.

As jy dus agtergrond-inligting oor enige van daardie boeke nodig het vir jou Bybelstudie, kan jy dit HIER kry.

Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *