JESAJA – AGTERGROND-INLIGTING

Jesaja - agtergrond-inligting

Ons gesels hier by Bybel En Gebed gereeld oor verskillende Bybelstudie-metodes. Een metode wat jy kan gebruik om jou Bybel te studeer en beter te verstaan, is ‘n agtergrond-studie. ‘n Agtergrond-studie help ‘n mens om ‘n Bybelboek of gedeelte in die Bybel beter te verstaan omdat jy die boek of gedeelte sien teen die agtergrond van die tyd waarin dit geskryf is.

In hierdie artikel gaan ek ‘n paar dinge oor die boek Jesaja met jou deel, wat jou gaan help wanneer jy so ‘n agtergrond-studie wil doen.

JESAJA – ‘N BLOEMLESING UIT VERSKILLENDE TYE.

In die eerste vers van Jesaja word die boek toegeskryf aan Jesaja, die seun van Amos. Maar die ses-en-sestig hoofstukke van die boek is egter ‘n bloemlesing, wat uit drie eenhede bestaan.

Die eerste deel, hoofstukke 1-39, kan gesien word as die werk van Jesaja. Hy het as profeet opgetree tydens die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Om dit van die ander twee dele te onderskei, word die gedeelte dikwels Protojesaja genoem.

In die tweede deel, hoofstukke 40-55, sien ons ‘n heel ander situasie. Die volk is nou in ballingskap en daar word verwys na Kores, die Persiese koning wat Babilon in 539 ingeneem het. Hierdie hoofstukke moet dus toegeskryf word aan ‘n ander profeet. Niemand weet wie hy was nie, maar hy het, soos Jesaja, die volk bemoedig met God se boodskap. Hierdie gedeelte word Deuterojesaja genoem.

Die laaste deel, hoofstukke 56-66, weerspieël weer ‘n ander situasie. Nou sien ons dat daar verwys word na die omstandighede in Jerusalem na die ballingskap. Weereens is niemand seker wie hierdie hoofstukke geskryf het nie. Om dit van die ander dele te onderskei, word hierdie deel gewoonlik Tritojesaja genoem.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Hoewel die boek deur verskillende profete geskryf is, dra dit die naam van die eerste profeet, Jesaja, die seun van Amos.

WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.

Jesaja speel af in Jerusalem asook in Babilonië.

Die tydperiode waartydens die boek afspeel is ongeveer 740vC tot 480vC. Die boek het dus oor ‘n tydperk van byna twee eeue ontstaan.

WAT SE TIPE BOEK IS JESAJA?

Jesaja is een van die sogenaamde groot profete en in ons Bybel is dit dan ook deel van die profeteboeke.

Maar al is dit ‘n profeteboek, bestaan dit uit verskillende tipes literatuursoorte.

Daar is poësie, biografiese vertellings, verhale in prosavorm, dankliedere en psalms in die vorm van klaagliedere.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Elkeen van die dele van die boek het ‘n ander doel.

Die doel van hoofstukke 1-39 is om God se oordeel aan te kondig, maar om ook hoop te gee vir die gesuiwerde oorblyfsel.

Hoofstukke 40-55 se doel is om die volk, wat in ballingskap is, te vertroos en hulle te bemoedig met die boodskap dat God hulle binnekort na hulle eie land sal laat teruggaan.

Die derde gedeelte, hoofstukke 56-66, se doel is om die ballinge wat teruggekom het Jerusalem toe, te bemoedig en aan te moedig om die Here werklik te doen.

.

BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.

Ons kry verskillende belangrike karakters in die verskillende dele van die boek.

In hoofstukke 1-39 is die belangrike karakters Jesaja en sy twee seuns. Die een seun se naam was Sjear-Jasjoeb, wat beteken “‘n oorblyfsel sal terugkeer”. Die ander seun se naam was Maher-Sjalal-Gasj-Baz. Dit beteken “Vinnig-buit-spoedig-roof”.

Dan is die twee konings, Agas en Hiskia, ook belangrike karakters in hierdie eerste deel.

In die tweede gedeelte, hoofstukke 40-55, is Kores en die ander voorstellinge van die dienaar van die Here die belangrike karakters.

JESUS IN JESAJA.

Jesaja is die boek waarin daar seker die meeste profesieë oor Jesus is.

Hier is ‘n paar van dié profesieë:

Jesaja 7:14: “Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem” (1953-vertaling).

Jesaja 9:1: “Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien; hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn” (2020-vertaling).

Ook Jesaja 9:5: “Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (2020-vertaling).

Jy kan ook kyk na Jesaja 11:1-2; 28:16; 32:1; 40:3-5; 42:1-4; 42:6; 50:6; die hele hoofstuk 53 en ook Jesaja 61:1.

SLEUTELVERSE IN JESAJA.

Die sleutelverse in Jesaja moet, soos met soveel ander dinge in die boek, gesien word in die lig van die drie hoofdele.

SLEUTELTVERSE IN HOOFSTUKKE 1-39:

In die eerste deel is daar drie sleutelverse. Dit is:

Jesaja 7:9b: “As julle nie vertroue het nie, sal julle beslis nie behoue bly nie” (2020-vertaling).

Jesaja 28:16: “Daarom, so sê my Heer, die Here: ‘Kyk, Ek lê ‘n fondamentklip in Sion, ‘n uitgesoekte klip – ‘n kosbare hoeksteen as fondament gelê. Die een wat vertrou, hoef nie haastig weg te gaan nie'” (2020-vertaling).

En Jesaja 30:15: “Want so sê my Heer, die Here, die Heilige van Israel: ‘In bekering en rustigheid lê julle redding, ‘n kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier'” (2020-vertaling).

SLEUTELTVERSE IN HOOFSTUKKE 40-55:

Die tweede gedeelte bevat ook drie sleutelverse. Dit is:

Jesaja 40:2a: “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is!” (2020-vertaling).

Jesaja 40:31: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie” (2020-vertaling).

En Jesaja 41:13: “Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help'” (2020-vertaling).

SLEUTELTVERSE IN HOOFSTUKKE 56-66:

Die laaste gedeelte van Jesaja bevat net een sleutelvers:

Jesaja 60:20: Jou son sal nie weer ondergaan nie, en jou maan sal nie verdof nie; want die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jou routyd sal verby wees” (2020-vertaling).

JESAJA IN ONS LEWENS.

Daar is baie dinge wat ons uit Jesaja kan leer en ook in ons eie lewens toepas. Ek deel net die volgende:

  1. Daar is baie mense wat deesdae sê dat ‘n mens nie aan jou sondigheid herinner moet word nie. Dis glo nie goed vir jou selfbeeld nie. Maar Jesaja herinner ons almal aan ons ongehoorsaamheid en sondigheid – individueel en gesamentlik – waaroor God sal oordeel. (Jesaja 1-39)
  2. God is die Skepper van alle dinge en is steeds by Sy skepping betrokke en hou dit in stand. (Jesaja 40-55)
  3. God se genade is nie net vir sommige mense nie, maar vir almal. (Jesaja 56-66)
  4. In tye van nood is God se arm nooit te kort om te help nie. Sy oor is ook nie doof om te luister na iemand wat probleme het nie. (Jesaja 56-66)

VORIGE ARTIKELS.

Ons het reeds in vorige artikels oor boeke soos Genesis, Numeri, Rut, Psalms, ensovoorts gesels. Ek het skakels na al dié artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om ‘n artikel te kry.

Jy kan die artikels HIER lees.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *