
In Efesiërs 6:10-20 lees ons van die wapenrusting van God. Hy het dit vir ons gegee sodat ons staande kan bly wanneer die vyand aanval. Hy het dit ook gegee sodat ons oorwinning oor die vyand kan behaal. Wanneer ons van hierdie wapenrusting lees, hou meeste van ons op by vers 17, waar Paulus skryf oor die helm van verlossing en die swaard van die Gees. Ons dink dit is die hele wapenrusting. Maar dis nie heeltemal waar nie. In verse 18 tot 20 skryf Paulus oor gebed. Dis gebed wat ons in staat stel om die wapenrusting te dra en die swaard van die Gees te gebruik.
Jy sien, ons kan nie die geveg teen die vyand in eie krag aanpak en wen nie. In Eksodus 17 lees ons hoe die Amalekiete teen Israel kom oorlog maak het. Moses het op die heuweltop gaan staan en vir die manne wat besig was om te veg, by God ingetree. Joshua en sy manne het in die vallei hulle swaarde gebruik om teen die vyand oorlog te maak. En Israel het die oorlog gewen. Maar beide gebed en die swaard was nodig om dit te doen.
Dis dieselfde in ons lewens. Ons het die wapenrusting van God en die swaard van die Gees nodig vir die geveg. Ons het ook gebed nodig, want dit is die krag wat die oorwinning behaal. Maar dis nie sommer enige gebed nie! Daarom skryf Paulus vir ons hoe ons moet bid sodat ons die vyand kan oorwin.
BID BY ELKE GELEENTHEID.
Paulus begin deur ons daarop te wys dat ons by elke geleentheid moet bid. In 1 Thessalonisense 5:17 druk hy dit só uit: “Bid gedurig.”
Dit beteken nie dat ons die hele tyd met toe oë en gevoude hande moet sit en bid nie. Onthou, Jesus het gesê dat ons gebede nie verhoor word omdat ons ‘n klomp woorde gebruik nie (Mattheus 6:7).
Nee, om gedurig te bid beteken eenvoudig dat ons heeltyd met God in verbinding bly. Ons is heeltyd bewus van Sy Teenwoordigheid by ons en praat deur die dag elke nou en dan met Hom.
Die gelowige wat ‘gedurig bid’ is bewus daarvan dat die vyand gereeld met versoekings en aanvalle kom. Dis dan ook nie so maklik vir die duiwel om oorwinning oor hierdie gelowige te behaal nie omdat hy heeltyd met God kommunikeer.
ALLE GEBED EN SMEKING.
Baie van ons weet dit nie, maar daar is nie net een tipe gebed nie.
Daar is gebed, smeking, danksegging en voorbidding (Filippense 4:6, 1 Timotheus 2:1). En al hierdie tipes gebed is belangrik.
Dis goed en reg om die Here te vra vir wat ons nodig het. Maar dis ook belangrik om vir Hom dankie te sê vir wat Hy klaar gegee het en steeds gee. Om die waarheid te sê, om God te dank in gebed is een van die kragtigste gebedswapens wat ons kan gebruik.
Dan is dit ook belangrik om vir ander mense te bid en vir hulle by God in te tree. Gebed vir iemand anders kan selfs vir ons oorwinning bring! Dink maar aan wat ons lees in Job 42:10. Daar staan: “Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het.”
Ons moet dus leer om al die tipes gebed wat God ons gegee het, te gebruik wanneer ons bid.
BID DEUR DIE GEES.
Die Bybel leer ons in Romeine 8:26-27 dat ons nie altyd weet wat ons moet bid nie. Ons weet nie altyd wat God se wil in ‘n situasie is nie en daarom weet ons nie hoe om volgens Sy wil te bid nie.
Maar God het Sy Gees vir ons gegee en Hy weet presies wat God se wil is. Daarom moet ons deur die Gees bid, want dan weet ons dat ons bid volgens die wil van God bid.
WEES WAAKSAAM.
Die opdrag om waaksaam te wees, of om te waak en bid, is een wat ons gereeld in die Bybel lees. Dit is wat ons moet doen as ons oorwinning oor die wêreld, die vlees en die vyand wil behaal.
Onthou jy Jesus het voor Sy kruisiging vir Petrus gesê hy gaan Hom drie keer verloën? Jesus het ook vir hom gesê hy moet waak en bid, maar Petrus, en die ander twee, het aan die slaap geraak. Jesus het hulle meer as een keer wakker gemaak, maar hulle het elke keer weer aan die slaap geraak.
Op die ou end het Petrus presies gedoen wat Jesus hom teen gewaarsku het. Hy het Jesus verloën en die vyand het ‘n oorwinning oor hom behaal.
God verwag van ons om ons Godgegewe sintuie te gebruik en die leiding van die Heilige Gees te volg, sodat ons weet wanneer die duiwel besig is om rondom ons te werk.
En daarom moet ons waak en bid, want ‘n mens weet nooit wanneer hy met ‘n aanval gaan begin of met ‘n versoeking jou pad gaan kruis nie.
BID MET VOLHARDING.
Om met volharding te bid beteken eenvoudig dat ons aanhou en nie opgee tot ons resultate sien nie. Die gelowiges in die eerste kerk het dit gedoen en ons moet dit ook doen.
Ongelukkig hou meeste van ons op bid net voor ons die antwoord op ons gebed, sien. Ons dink God hoor nie of gaan nie antwoord nie, en dan gee ons moed op. Maar dis nie wat Paulus sê ons moet doen nie.
Ons moet leer om aan te hou bid. Soms kom die antwoord op gebed vinnig. Meeeste van die tyd vat die antwoord egter langer as wat ons voor gehoop het. Maar ons moenie moed opgee wanneer dit gebeur nie. Ons moet volhard in gebed tot God vir ons ‘n antwoord op ons gebede gee.
BID VIR DIE GELOWIGES.
Die laaste ding wat Paulus skryf, is dat ons moet bid vir al die gelowiges. Ons is almal deel van die familie van God en daarom is dit net reg dat ons vir mekaar bid.
Ons moet ook bid vir diegene wat God se Woord uitdra. Paulus vra dan ook dat die gelowiges in Efese vir hom bid. Maar let op dat hy nie vra dat hulle bid vir sy veiligheid of vir een of ander fisiese behoefte nie. Nee, hy vra dat hulle bid dat hy die boodskap van die Evangelie met vrymoedigheid uitdra.
Dit beteken nie ons mag nie bid vir die fisiese behoeftes van mense wat God se Woord uitdra nie. Dit beteken ook nie ons mag nie bid vir hulle veiligheid nie. Daar is baie wat die Woord uitdra in lande waar dit baie gevaarlik is, so dis reg om daarvoor te bid. Maar ons moet veral bid dat die boodskap oor Jesus met vrymoedigheid uitgedra sal word.
DIE WAPENRUSTING VAN GOD EN GEBED.
Die duiwel is, volgens 1 Petrus 5:8, heeltyd besig om soos ‘n brullende leeu rond te loop en te soek na iemand wat hy kan verslind. Hy soek na iemand wat nié die volle wapenrusting van God gebruik nie en nie die krag van gebed ken.
Daarom moet ons elke dag die volle wapenrusting van God aantrek. Ons moet die swaard van die Gees opneem en ons moet deur gebed met God in verbinding bly.
As ons dít doen, sal die vyand elke keer aan die kortste ent trek, want ons sal die oorwinning behaal.
Baie dankie waardeer dit opreg het nog heeltyd gesoek na so tipe van studir
baie Dankie vir die Bybel studie. ek deel met ons Bybelgroep. ons is 8
Baie Dankie vur die Bybelstudies. Ek deel graag met my Bybelstudie groep. Ons is die Tabita’s. ons lei is Pastoor Lida Visser.