DIE KRAG VAN ONS GEDAGTES

krag van gedagtes

Die Bybel het heelwat te sê oor ‘n mens se gedagtes. Dit maak nie saak of jy die Ou of die Nuwe Testament lees nie, iewers gaan jy ‘n Bybelvers of twee raakloop waarin God daaroor praat. Want jy sien, ‘n mens se gedagtes het baie krag. Dit beïnvloed die manier waarop ons na die lewe kyk. Dit beïnvloed hoe ons voel en wat ons doen. En daarom is dit só belangrik dat ons meer daaroor weet sodat ons kan leer hoe om ons gedagtes, volgens die beginsels van God se Woord, te beheer. So, kom ons kyk na ‘n paar verse uit die Bybel oor gedagtes, sodat ons kan sien wat ons daaroor kan leer.

JOU GEDAGTES VORM JOU KARAKTER.

Spreuke 23:7 (OAV): “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…”. In die New King James Version word hierdie vers só vertaal: “…for as he thinks in his heart, so is he.”

Hierdie vers herinner ons daaraan dat dit wat in ons koppe aangaan, ‘n baie groot invloed op ons karakter het. Dit vorm nie net die mens wat jy word nie, maar ook die manier waarop jy jou lewe leef.

Daarom is dit só belangrik dat ‘n mens dink waaroor jy dink.

Partykeer is dit maklik om raak te sien dat jou gedagtes nou nie heeltemal is wat dit moet wees nie. Ander kere is dit meer subtiel en gaan die Here vir jou moet wys dat jy aan die verkeerde dinge of op die verkeerde manier, dink.

Vra dus die Here om jou te help om raak te sien wanneer jou gedagtes nie goed is vir jou of vir die mense rondom jou nie. Vra Hom om jou te help om te verander hoe en waaroor jy dink. En vra Hom ook om jou te help om te fokus op dit wat goed en mooi en reg en opbouend is en om daaroor te dink.

Onthou, jou gedagtes het die vermoë om jou lewe te word, so maak seker dis die lewe wat jy wil hê!

JOU GEDAGTES EN JOU WOORDE EN DADE.

Lukas 6:45: “Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”

Jesus waarsku ons in Lukas 6 dat dit wat in jou hart aangaan – of, anders gesê, in jou gedagtes aangaan – by jou mond gaan uitkom.

Maar dit gaan nie net by jou mond uitkom nie. Dit gaan oral in jou lewe, in alles wat jy doen, gesien word.

Ons gedagtes is soos ‘n stroompie wat die rivier van ons woorde en dade, voed. Wanneer dit wat in ons harte en gedagtes aangaan negatief is, gaan mense dit in ons woorde hoor en in ons dade sien. Maar wanneer dit waaroor ons dink positief en opbouend is, gaan dit ook in ons gedrag sigbaar en in ons woorde hoorbaar wees.

Ons het dus ‘n keuse. Ons kan verkeerde en negatiewe gedagtes bly dink en ‘n lewe leef wat vir ander presies vertel wat in ons aangaan. Of ons kan kies om ons gedagtes te vernuwe met die Woord van God en begin om goeie dinge, wat waar en reg is, te dink. Wanneer ons dít doen, gaan ons lewens ook wys wat in ons aangaan en ons gaan verseker vir God daarmee verheerlik.

BEWAAR JOU GEDAGTES.

2 Korintiërs 10:4-5: “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

In hierdie gedeelte beklemtoon Paulus die belangrikheid daarvan dat ons alle gedagtes wat nie strook met God se Woord nie, moet verwerp. Dis ook net so belangrik om daardie gedagtes dan te vervang met gedagtes wat wél strook met die Woord en wat vir Christus eer.

Ons dink baie keer dat ons nie regtig beheer het oor dit wat ons dink nie. Maar dis nie waar nie. Wanneer ‘n gedagte in jou kop kom, het jy die keuse of jy daaroor gaan dink of nie. As dit ‘n goeie en mooi gedagte is, kan ons kies om daaroor te bly dink en dit, as’t ware, uit te brei.

Maar as dit ‘n negatiewe of slegte gedagte is, kan ons kies om op te hou om daaroor te dink. Ons kan eenvoudig vir onsself sê, “Nee, ek gaan nie hieroor dink nie” en kies om daardie gedagte met een te vervang wat goed en opbouend is. (Sê sommer hardop vir jouself dat jy nie verder daaroor gaan dink nie. Wanneer jy hardop praat, onderbreek dit jou gedagtes en maak dit dus makliker om op te hou dink oor iets.)

GOD SE GEDAGTES OOR ONS.

Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

God het hierdie woorde, as ons dit in konteks lees, oor die Jode, wat in ballingskap was, gesê. Maar dit is vir ons ‘n baie mooi beeld van Sy gedagtes oor elkeen van ons as Sy kinders.

Sy hart vir ons is vol goeie dinge, want dit kom uit ‘n hart vol liefde. Die gedagtes wat Hy oor ons dink is vol hoop en vrede.

Wanneer ons fokus op Hom – op wie Hy is en die goeie wat Hy vir ons in Jesus gegee het en steeds gee – vul dit ons gedagtes met hoop en vrede. Dit verander ook sommer die uitkyk wat ons op die lewe het van negatief na positief. En dít is altyd ‘n goeie ding!

WAAROOR ONS MOET DINK.

Filippense 4:8: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Die Here is so goed vir ons, dat Hy nie net vir ons sê dat ons anders moet begin dink nie. In Sy groot genade gebruik Hy vir Paulus om vir ons ‘n praktiese gids te gee wat vir ons verduidelik waaroor ons moet dink.

DIT WAT WAAR IS.

In die vers hierbo sien ons dat ons moet dink aan dit wat waar is. God se Woord is die waarheid.

As ons dus oor dit wat waar is wil dink, dan is die Woord ‘n goeie plek om te begin.

WAT EDEL EN REG IS.

Verder sê Paulus ons moet dink oor dit wat edel en reg is.

In die 2020-vertaling is die woord wat hier met ‘edel’ vertaal is, met ‘eerbaar’ vertaal. Daar is baie dinge in hierdie lewe wat nie eerbaar is nie en ons as God se kinders, moenie daaroor dink nie.

Dit beteken nie ‘n mens begrawe jou kop in die sand en probeer alles wat onaangenaam en onwaardig is vermy nie. Nee, dit beteken ons fokus nie op dinge wat onaangenaam en onwaardig is nie – ons laat nie toe dat hierdie dinge ons gedagtes beheer nie.

DIT WAT REIN, MOOI EN PRYSENSWAARDIG IS.

Dan sê Paulus ook dat ons moet dink aan dit wat rein, mooi en prysenswaardig is.

Iemand skryf ‘rein’ verwys tien teen een na morele reinheid. (Die mense van Paulus se tyd, net soos ons vandag, was gebombardeer met versoekinge om seksueel onrein te leef).

En iets wat prysenswaardig is, is die moeite werd om oor te praat.

Dink jy aan dinge wat die moeite werd is om oor te praat?

Is jou gedagtes vol van dinge wat mooi en rein is, of is dit waaroor jy dink presies dieselfde as dit waaroor die wêreld dink?

DEUG EN LOFWAARDIGE SAKE.

Laastens skryf Paulus ons moet dink oor watter deug of lofwaardige saak daar mag wees. As ‘n saak deug het, gaan dit ons motifeer om beter te doen. En as dit lofwaardig is, kan dit met ander gedeel word.

Onthou, ons moenie ons breinkrag mors deur te dink aan dinge wat onsself of ander afbreek nie. Ons moet dink aan dit wat opbou.

OPSOMMING.

Dit is belangrik om te dink waaroor jy dink, want dit wat in jou kop aangaan bepaal wie jy word, wat jy sê en doen en hoe jy na die lewe kyk.

God het in Sy groot genade Sy Woord vir ons gegee sodat ons ons gedagtes daarmee kan vernuwe. Hy het ook vir ons gesê presies waaroor ons moet dink, sodat ons gedagtes altyd op Hom gerig is en Hom eer.

Vandag wil ek jou dus aanmoedig om te begin dink waaroor jy dink. Vra die Here om jou te wys wanneer dit wat jy dink nie is vir jou goed nie. Vra Hom ook om jou te help om te fokus op Hom en op alles wat goed en reg en opbouend en waar en rein is. Dit gaan nie net jou eie lewe verander nie, maar ook goed en opbouend wees vir die mense wat elke dag jou pad kruis!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *