
Baie mense se gunsteling boek in die Bybel is Psalms. Dit raak hulle harte wanneer hulle lees hoe die skrywers God loof en prys, tot Hom bid en na Hom roep om hulp.
Hoewel die psalms vir baie gelowiges tot groot seën is, is die persone wat die meeste daarby gebaat het, diegene, soos Dawid, wat die psalms geskryf het.
Jy sien, om ons gedagtes neer te skryf, soos Dawid gereeld gedoen het, sodat ons dit kan ondersoek en daaroor nadink, is ‘n goeie hulpmiddel om te gebruik om geestelik te groei.
Daarom is dit dus ‘n goeie idee om ‘n geestelike joernaal te hou.
Ons lees nêrens in die Bybel van geestelike joernale nie, maar in baie boeke van die Bybel lees ons tog van dinge wat ‘n mens in ‘n geestelike joernaal sou skryf.
So, kom ons gesels ‘n bietjie oor die hou van ‘n geestelike joernaal en wat jy alles daarin kan neerskryf.
WAT IS ‘N GEESTELIKE JOERNAAL?
‘n Geestelike joernaal is ‘n boek waarin jy boekhou van jou geloofsreis.
Dis nié ‘n dagboek nie, hoewel ‘n mens soms dinge neerskryf wat jy in dagboek sou skryf.
In ‘n geestelike joernaal val die fokus op jou verhouding met God en hoe jy die lewe sien as gevolg van jou geloof in Hom. Dis ‘n plek waar jy met God praat oor dinge, saam met Hom dink oor dinge en waar jy uitpluis in watter rigting Hy jou lei.
WAT JY NODIG HET VIR ‘N GEESTELIKE JOERNAAL.
Al wat jy nodig het om ‘n geestelike joernaal te begin, is ‘n boek en ‘n pen.
Dit kan ‘n gewone hardeband notaboek wees. Of jy kan vir jou ‘n regte joernaal koop en dit gebruik.
Kies vir jou ‘n plek wat jy gaan gebruik om in jou joernaal te skryf. Enige plek kan werk, solank dit stil en rustig is en niemand jou gaan pla nie.
Besluit ook wanneer jy in jou joernaal gaan skryf. Dit maak nie saak watter tyd van die dag jy kies nie, solank dit weereens ‘n tyd is wanneer jy nie gepla gaan word nie.
DINGE OM TE ONTHOU.
Hoewel daar geen reëls omtrent die hou van ‘n geestelike joernaal is nie, is daar tog ‘n paar dinge om te onthou.
Nommer 1: Begin altyd met die datum. Op dié manier kan jy later sien wanneer God jou byvoorbeeld iets geleer het, ‘n opdrag gegee het, of ‘n gebed beantwoord het.
Nommer 2: Moenie bekommerd wees oor gramatika, spelling en die perfekte handskrif nie. Niemand gaan jou punte gee vir wat jy geskryf het nie, so skryf net.
Nommer 3: Bêre jou journaal op ‘n veilige plek, waar niemand dit in die hande kan kry en lees nie. As jy weet niemand anders gaan jou joernaal lees nie, gaan jy baie eerliker wees wanneer jy skryf.
Nommer 4: Skryf gereeld. Aan die begin gaan jy dalk nie elke dag skryf nie, maar probeer om ten minste ‘n paar keer ‘n week te skryf. Hoe meer jy jou joernaal gebruik, hoe meer gaan jy dit wil gebruik.
WAT OM IN JOU JOERNAAL TE SKRYF.
Jy kan oor enige iets in jou joernaal skryf, solank dit fokus op God en jou verhouding met Hom.
GEBEDE.
Jy kan byvoorbeeld jou gebede neerskryf.
As jy sukkel met gedagtes wat dwaal wanneer jy bid, is hierdie ‘n goeie oplossing vir die probleem.
DINK OOR DIE WOORD.
Jy kan jou joernaal gebruik om na te dink oor God se Woord.
Skryf neer watter gedeelte jy dié dag uit die Bybel gelees het. Skryf dan jou gedagtes daaroor neer.
Dis verbasend watter gedagtes by ‘n mens opkom wanneer jy skryf en hoe jy agterna kan sien dat God jou iets uit daardie gedeelte geleer het, wat jy dalk nie voorheen geweet het nie.
GOD SE GOEDHEID.
Nog iets wat jy kan doen is om ‘n lys te maak van tye waar jy God se goedheid en getrouheid in jou lewe gesien het.
Dink na oor jou lewe en skryf soveel van hierdie dinge neer soos jy aan kan dink.
JOU PROBLEME.
As daar dinge is waarmee jy sukkel, skryf dit in jou joernaal.
Jakobus leer ons dat ons geloof getoets gaan word, so skryf neer wanneer jy sulke geloofstoets ervaar.
Onthou net om plek te los om agterna te skryf hoe God jou gehelp het.
NOTAS IN DIE KERK.
Jy kan jou joernaal saamvat kerk toe en notas oor die preek daarin maak.
Dan kan jy deur die week, as deel van jou stiltetyd, weer na die notas kyk en vir God vra om jou nog meer daaroor te leer.
VERSKILLENDE LYSIES.
Jy kan elke dag ‘n paar dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is. Onthou dan om in jou stiltetyd vir God dankie te sê daarvoor.
Jy kan selfs ‘n lys maak van mense en dinge waarvoor jy wil bid. Dis die ideale plek om iemand se naam neer te skryf, wanneer jy belowe om vir hom of haar te bid. Op dié manier gaan jy nie vergeet nie.
Hierdie is maar ‘n paar dinge waaroor jy in jou geestelike joernaal kan skryf. Onthou dat dit jóú joernaal is. Jy kan enige ding wat jy voel jou verhouding met God gaan verbeter, daarin skryf.
LEES JOU JOERNAAL ELKE NOU EN DAN.
Om in jou joernaal te skryf is net een deel van die proses. Die ander deel is om dit elke nou en dan te lees. Dis wanneer jy lees wat jy geskryf het, wat jy die meeste voordeel uit joernaal-hou trek.
Wanneer jy jou joernaal weer lees, kan jy dinge raaksien wat jy voorheen gemis het. Jy besef dalk dat jy gereeld oor dieselfde ding geskryf het. Jy sal ook kan sien hoe jy gegroei het in hoe jy dit verstaan.
Dis ook ‘n goeie manier om jou te herinner aan dinge wat God jou geleer het, wat jy dalk intussen van vergeet het.
En dis verseker ‘n goeie manier om te sien of jy besig is om geestelik te groei en of jy dalk stilstaan of besig is om agteruit te gaan.
Daar is baie voordele aan verbond om ‘n geestelike joernaal te hou. Ek hoop dat jy vandag nog vir jou ‘n notaboek en pen gaan kry en dat jy sommer dadelik gaan begin met jou geestelike joernaal. Jy sal beslis nie spyt wees nie!
