DIE WAPENRUSTING VAN GOD

Die wapenrusting van God

As ek vir jou sou vra waar jou grootste stryd in die lewe lê, wat sou jy antwoord? Meeste van ons sal sê ons stryd is teen ander mense. Ons raak ongelukkig oor wat hulle doen of nie doen nie. Ons word kwaad omdat ons probleme baie keer deur iemand anders veroorsaak word.

Maar as jy vir God sou vra waar ons grootste stryd lê, gee Hy ‘n ander antwoord.

In Efesiërs 6:12 lees ons: “Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.”

Sien jy dit?

Ons stryd is nie teen mense nie, maar teen die duiwel. Ons stryd is dus nie ‘n fisiese een nie, maar ‘n geestelike een. En omdat ons stryd teen die vyand in die geesteswêreld is, het ons spesiale geestelike toerusting nodig om hom mee aan te val sowel as onsself mee te verdedig.

God weet dit en daarom het Hy, in Sy groot genade, vir ons Sy wapenrusting gegee. Hierdie wapenrusting is dan ook ‘n geestelike een wat ons, deur geloof, gebruik.

Kom ons kyk na die verskillende dele van hierdie goddelike wapenrusting en hoe ons dit in ons stryd teen die vyand gebruik.

WAARHEID AS GORDEL.

Die eerste deel van die wapenrusting, waarop Paulus fokus, is die waarheid as gordel.

‘n Romeinse soldaat se gordel het die res van sy wapenrusting aanmekaar gehou. Dis ook waar van die gelowige se wapenrusting. Die waarheid ondersteun al die ander dele van die wapenrusting.

Onthou jy Jesus het gesê die duiwel is ‘n leuenaar en die vader van die leuen? Daarom het ons, as gelowiges, die waarheid nodig sodat ons hom kan oorwin.

Die gordel was ook die plek waar ‘n Romeinse soldaat sy swaard gebêre het. ‘n Gelowige kan nie die Woord van waarheid gebruik tensy hy die waarheid uitleef nie. Sodra ons die leuen plek gee in ons lewens, gaan dit uitmekaar val. Dink maar aan Dawid, wat na sy owerspel met Batseba vir meer as ‘n jaar lank daaroor stilgebly het. In daardie tyd het niks in sy lewe reg verloop nie.

As ons hierdie twee dinge in gedagte hou, dan sien ons dis belangrik dat ons weet wat die waarheid is. God het die waarheid vir ons in Sy Woord laat opteken. Dus is dit belangrik dat ons die Bybel lees en studeer. Wanneer die duiwel dan met ‘n leuen na ons toe kom, sal ons weet dis ‘n leuen omdat ons die waarheid ken.

In die tweede plek is dit belangrik dat ons die waarheid uitleef. Dit beteken eenvoudig ons is gehoorsaam aan God en doen wat Sy Woord sê ons moet doen. En as ons iewers ‘n verkeerde besluit neem en ons doen sonde, dan doen ons nie wat Dawid gedoen het nie. Nee, ons erken vinnig dat ons sonde gedoen het en aanvaar die vergifnis wat God in Christus vir ons gee.

DIE BORSHARNAS VAN VRYSPRAAK EN GEREGTIGHEID.

Die tweede deel van die wapenrusting waaroor Paulus skryf, is die borsharnas van vryspraak en geregtigheid.

‘n Romeinse soldaat se borsharnas was gemaak van metaalplate of ketting. Dit het sy liggaam, voor en agter, van die nek tot by die middellyf bedek.

Wanneer Paulus skryf oor hierdie deel van die wapenrusting, dan verwys hy na twee dinge.

In die eerste plek verwys hy na die vryspraak wat ons in Christus het (2 Korinthiërs 5:21). Dit beteken eenvoudig dat God ons nie verantwoordelik hou vir die sonde wat ons gedoen het nie. Jesus het daarvoor betaal en God het ons vrygespreek.

In die tweede plek verwys Paulus na die lewe van geregtigheid wat die gelowige in Christus leef. Dit beteken ons leef, met die hulp van die Heilige Gees, ‘n goddelike en heilige lewe.

Die Bybel leer ons dat die duiwel die aanklaer is. Maar hy kan nie iemand, wat deur God vrygespreek is en wat ‘n heilige lewe leef, aankla nie.

Hoe ons kies om te lewe is dus baie belangrik in ons stryd teen die vyand. Ons vryspraak in Christus, sonder ‘n lewe van geregtigheid, gee die duiwel net meer kans om ons aan te val en te oorwin.

DIE SKOENE VAN DIE EVANGELIE.

Die derde deel van die wapenrusting is die skoene van die evangelie van vrede.

‘n Romeinse soldaat het leersandale gedra, wat spykers in die sole gehad het. Dit het hom gehelp om beter vastrapplek te hê wanneer hy in ‘n geveg betrokke was.

As ons wil doen wat Paulus sê en ‘vasstaan’ en ‘staande bly’, dan het ons die skoene van die evangelie van vrede nodig.

Net soos die borsharnas, het die skoene ook twee verskillende betekenisse.

In die eerste plek het ons vrede met God wanneer ons die evangelie gehoor het en dit glo. Iemand wat vrede met God het, hoef nie vir die die aanvalle van vyand bang te wees nie.

Maar hou ook in gedagte dat ons vrede met mekaar moet hê as ons die duiwel wil oorwin (Jakobus 4:1-7). Ons moet dus alles in ons vermoë doen om in vrede met die mense rondom ons te leef.

In die tweede plek moet ons altyd bereid wees om die evangelie van vrede met ander te deel. Ons moet, wanneer God ons geleentheid gee, vir ander van Jesus vertel en Sy liefde teenoor hulle uitleef.

.

DIE SKILD VAN GELOOF.

Die volgende deel van die wapenrusting is die skild van geloof.

‘n Romeinse soldaat se skild was so groot dat hy heeltemal daaragter kon wegkruip. Die skild is van hout gemaak en met leer oorgetrek. Die kante van die skild was so gemaak dat dit by ‘n ander skild kon ‘inhaak’. Sodoende kon ‘n hele ry soldate hulle skilde inmekaar haak en soos ‘n soliede muur vorentoe beweeg.

Hieruit leer ons dat die gelowiges se geveg nie een-een geveg word nie, maar dat ons veronderstel is om mekaar te ondersteun in die stryd.

Die geloof waarvan Paulus hier praat, is nie die geloof wat ons red nie, maar eerder die geloof wat ons in ons daaglikse lewe gebruik. Dis vertroue in die beloftes en die mag en krag van God.

Geloof is ‘n verdedigingswapen wat ons gebruik om ons te beskerm teen die brandpyle van die vyand.

‘n Romeinse soldaat se skild het hom beskerm teen spiese en pyle. Soms is die pyle in iets wat vlambaar was gedoop en aan die brand gesteek voor dit na die vyand geskiet is.

Net so skiet die duiwel ook brandpyle na ons toe. Hierdie brandpyle sluit dinge in soos leuens, negatiewe gedagtes oor andere, twyfel, en die begeerte om sonde te doen.

Ons weet nie wanneer die duiwel so ‘n brandpyl op ons gaan afskiet nie. Daarom moet ons elke dag seker maak ons leef ‘n lewe van geloof sodat ons die brandpyle kan afweer en gehoorsaam bly aan God.

DIE HELM VAN VERLOSSING.

Die vyfde deel van die wapenrusting is die helm van verlossing.

Ons gedagtes is die eerste plek waar die duiwel ons aanval. Daarom moet ons die helm van verlossing gebruik, wat beteken dat ons God toelaat om ons gedagtes te beheer.

Ons doen dit deur tyd met God in die Woord te spandeer. Ons laat Hom toe om ons daardeur te leer sodat ons kan “groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18).

‘n Gelowige wat weet wat die Bybel sê en dit verstaan, gaan nie so maklik deur die vyand om die bos gelei word nie.

DIE SWAARD VAN DIE GEES.

Die laaste deel van die wapenrusting is die swaard van die Gees. Dis die aanvalswapen wat God ons gegee het om te gebruik.

‘n Romeinse soldaat het ‘n kort swaard in sy gordel gehad. Hy het hierdie swaard gebruik wanneer hy en die vyand in ‘n baie naby-geveg betrokke was.

Die Woord van God word in die Bybel in Hebreërs 4:12 vergelyk met ‘n swaard wat deurdring tot by die raakpunt tussen siel en gees. Die Woord word soos ‘n swaard in ons lewens gebruik om ons diep in die hart te tref en ons te oortuig van sonde (Handelinge 2:37). Dit word dus in die lewe van die mens gebruik om lewe te gee.

Maar dis ‘n heel ander storie wanneer die swaard van die Gees teen die vyand gebruik word. Teen hom is dit ‘n wapen wat hom die aftog laat blaas en vir ons oorwinning gee.

In Mattheus 4:1-11 sien ons hoe Jesus die swaard van die Gees teen die duiwel gebruik het. Elke keer wat die duiwel Hom probeer versoek het, het Hy geantwoord: “Daar staan geskryf….” Jesus het geweet wat die Bybel sê en kon daarmee die duiwel se leuens en versoekings afweer en weerstaan.

Dis wat ek en jy ook met die swaard van die Gees moet doen. Onthou net dat die duiwel ook weet wat in die Bybel staan! Hy haal net nie die Bybel ten volle aan nie, maar gebruik net die gedeeltes wat hom pas. Daarom is dit belangrik dat ons presies weet wat in die Bybel staan, sodat die duiwel ons nie eers om die bos kan lei met halwe skrifgedeeltes nie.

JESUS, DIE WAPENRUSTING VAN GOD.

As jy weer gaan kyk na die verskillende dele van die wapenrusting, sal jy agterkom dat dit in ‘n sin ‘n beeld is van Jesus.

Hy is die waarheid (Johannes 14:6).

Dan is Hy ook ons vryspraak en geregtigheid (2 Korinthiërs 5:21).

En Hy is ons vrede (Efesiërs 2:14).

Dit is Sy getrouheid wat ons geloof moontlik maak (Galasiërs 2:20).

Hy is ons verlossing (Lukas 2:30) en Hy is die Woord van God (Johannes 1:1;14).

Dit beteken dat ons die volle wapenrusting gekry het die dag toe ons in Jesus as Verlosser geglo het. Nou moet ons dit net elke dag in geloof gebruik sodat ons “op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat [ons] alles uitgevoer het, staande kan bly” (Efesiërs 6:13).

Deel hierdie blad

6 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *