
As jy Bybelstudie oor ‘n boek in die Bybel wil doen, dan is dit altyd goed om sekere agtergrond-inligting te hê. Dié inligting help jou baie keer om die boek beter te verstaan. Hier by Bybel En Gebed kyk ons elke nou en dan na die agtergrond-inligting van Bybelboeke, sodat jy nie self daarna hoef te gaan soek nie. Vandag is Esegiël, een van die sogenaamde groot profete aan die beurt.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek is vernoem na die priester en profeet Esegiël. God het vir hom, deur middel van visieone, boodskappe vir die ballinge in Babilonië gegee.
ONTSTAANTYD, AGTERGROND EN SKRYWER.
Esegiël het in dieselfde tyd as Jeremia geleef. Hy het voor, gedurende en na die val van Jerusalem as profeet opgetree, ongeveer 597-570 vC.
Hierdie was ‘n tyd van groot onsekerheid. Daar was ‘n gebrek aan leierskap en ‘n groot verval onder die volk.
Esegiël is dan ook een van die ballinge, wat in 597 vC weggevoer is na Babilonië.
Hy het self die boek, wat sy naam dra, iewers na 571 vC geskryf.
WAT SE TIPE BOEK IS ESEGIëL?
Esegiël is ‘n profetesie boek, een van gesigte en simboliese handelinge.
Daar word dan ook in die boek van verskeie literêre vorme gebruik gemaak. Daar is fabels, mitologiese verhale, anekdotes en natuurlik ook visioene.
Dis nie ‘n maklike boek nie, maar as jy Openbaring wil verstaan, dan is dit goed om met Esegiël vertroud te wees.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Hierdie boek het meer as een doel.
In die eerste plek moet dit Israel herinner aan die sonde wat hulle gedoen het, wat veroorsaak het dat hulle in ballingskap weggevoer is.
Tweedens gee dit hulle ook hoop, want daar is beloftes van herstel en dat God die volk sou terugbring na hulle land.
Derdens fokus Esegiël baie daarop dat die mens ‘n persoonlike verantwoordelikheid teenoor God het.
Laastens herinner dit daaraan dat die Here die ware God is. Dinge gebeur omdat Hy dit so wil. Elkeen wat dit glo, besef die sin van die lewe kan net gevind word in ‘n lewende verhouding met die Here.
HOOFTEMANS VAN ESEGIëL.
Die boek kan in ses ses hooftemas ingedeel word:
WEET DAT EK DIE HERE IS.
Die woorde, ‘Julle sal weet dat Ek die Here is’, kom soos ‘n refrein oral in die boek voor.
Die volk het gedink dat God in hulle land agtergebly het of langs die pad weggeraak het. Maar Esegiël herinnner hulle daaraan dat Hy steeds by hulle is.
DIE HERE IS DIE HEILIGE.
Esegiìl sien die heilge God van die temepel wat aan hom verskyn te midde van ‘n storm.
God se heiligheid straf, maar dit seën ook. Hy is oral teenwoordig, ook in die ‘onrein’ land van Babilonië.
GOD LEEF EN IS IN BEHEER.
Dit het nie vir die volk gelyk of God nog in beheer was nie, daarom herinner Esegiël hulle daaraan.
Wat gebeur word deur Hom bepaal. Dit staan onder Sy beheer. Hy beheer selfs die lotgevalle van die ander volke.
DIE MENS: ‘N SELFGESENTREERDE WESE.
Esegiël skets die leiers en die mense as selfgesentreerde wesens wat net daarop uit is om afskuwelike dinge te doen.
Hulle gebruik selfs hulle godsdiens om op een of ander manier munt daaruit te slaan.
GENADE, TEN SPYTE VAN…
God is ‘n genadige God. Hy bewys genade en red ter wille van Homself, nie omdat die volk iets gedoen het om dit te verdien nie.
LEEF IN ‘N LEWENDE VERHOUDING MET DIE LEWENDE HERE.
Esegiël roep die volk, en ons, op om in ‘n lewende verhouding met die Here te staan.
Godsdiens moet beleef word. Dit moet ook geleef word.
JESUS IN ESEGIëL.
Ons sien vir Jesus in Esegiël in die feit dat God dissiplineer en straf, maar dat Hy ook die kruis van Jesus altyd in gedagte het.
ESEGIëL IN JOU LEWE.
- Esegiël is geskryf vir mense wat in baie moeilike omstandighede geleef het. Die Joodse rabbi’s het geleer dat iemand wat jonger as 30 jaar is, nie die boek moes lees nie. Hulle was bang die vreemdheid van die beelde en visioene kon die mense verwar. Maar die boek is vol bemoediging vir almal wat hulle in moeilike omstandhede bevind.
- Verder sien ons ook in Esegiël hoe ons moedeloosheid en vrese kan hanteer. Dit herinner ons daaraan dat God as Helper verskyn van mense wat hulle donkerste uur beleef. Hulle het geen meriete waarmee hulle Hom kan beïndruk nie. Hy red hulle bloot ter wille van Homself. Dit is vir elkeen van ons, wat ‘n donker uur beleef, ‘n groot vertroosting.
- Ons lees die woorde, ‘dan sal die mense besef dat Ek die Here God is’, 54 keer in Esegiël. Israel en Juda moes uit wat in hulle geskiedenis gebeur het, leer om die Here raak te sien en te vertrou. Ek en jy moet ook leer dat die Here altyd besig is om agter die skerms te werk en Hom erken as God.
VORIGE ARTIKELS.
Ek het vroeër genoem dat ons elke nou en dan na die agtergrond-inligting van ‘n boek van die Bybel kyk. As jy van die vorige artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.