
Daar is sommer baie verskillende Bybelstudie-metodes wat ‘n mens kan gebruik. Sommige is heel eenvoudig en net reg vir iemand wat nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie. Ander is weer ‘n bietjie moeiliker en meer geskik vir diegene wat al ‘n ruk lank Bybelstudie doen. Maar het jy al daaraan gedink dat jy jou eie Bybelstudie-metode kan saamstel?
Dis sommer baie makliker as wat jy dink!
EENVOUDIGE BYBELSTUDIE-METODES.
Die heel maklikste manier om jou eie Bybelstudie-metode saam te stel, is om die eenvoudige metodes wat klaar bestaan, daarvoor te gebruik.
As jy nog nie weet watter eenvoudige metodes daar is nie, kan jy gerus die gratis Bybelstudie-metode e-boek, wat op dié blad beskikbaar is, aflaai.
Vul net jou inligting in die vorm hieronder in en jy sal ‘n skakel kry waar jy die e-boek kan aflaai.
Ek stel voor dat jy elke metode waaroor ons in die boekie gesels, vir ‘n ruk lank probeer. Dit sal jou help om agter te kom watter metodes die beste vir jou werk.
Nou kom die interessante deel.
STAP 1: KIES JOU STUDIE-METODES.
As jy my raad hierbo gevolg het, dan weet jy van watter studie-metodes jy die meeste hou.
Jou volgende stap is om na die verskillende stappe van elke metodes te kyk sodat jy kan raaksien waar hulle dalk met mekaar oorvleuel.
Is daar van die stappe wat dieselfde is?
Is daar van die vrae wat dieselfde is?
Skryf hierdie dinge neer.
Volgende gaan jy bietjie dink oor die rede waarom elke metode vir jou werk. Dalk werk ‘n metode omdat jy dit op baie verskillende gedeeltes in die Bybel kan gebruik. Ek noem dit dalk nie genoeg nie, maar nie alle metodes werk vir alle gedeeltes van die Bybel nie.
Of dalk hou jy van ‘n metode omdat dit baie op God fokus en jou help om meer oor Hom te leer.
Wat ookal die rede is waarom jy van ‘n spesifieke metode hou, skryf dit neer.
STAP 2: KIES JOU STAPPE.
Die volgende stap is om die stappe wat jy wil gebruik, te kies.
Jy verkies dalk om te bid, dan die gedeelte te lees, dan vrae oor die gedeelte te vra en neer te skryf wat jy raaksien en dan ‘n gebed te skryf oor wat jy geleer het.
Of dalk is jou stappe om te bid en dan die gedeelte te lees en woord vir woord neer te skryf. Jou volgende stappe kan wees om met kleurpotlode die verskillende dinge wat jy raaksien te merk, vrae oor dit wat jy gemerk het te vra en neer te skryf hoe jy wat jy geleer het, gaan toepas.
Sien jy hoe jy die verskillende stappe van die studie-metodes kan gebruik om jou eie Bybelstudie-metode saam te stel?
Skryf die stappe wat jy wil gebruik, asook die volgorde waarin jy dit wil gebruik, neer.
STAP 3: KIES JOU VRAE.
Die derde stap is om te kies watter vrae van die verskillende studie-metodes jy gaan gebruik.
Jy kan ‘n lang lys met vrae saamstel en soveel moontlik van die verskillende metodes se vrae, gebruik.
Of jy kan net ‘n paar vrae gebruik wat jou help om die teks wat jy studeer, in bietjie meer diepte te bekyk.
Ek stel voor jy maak twee lyste met vrae. Maak ‘n langer lys vir dié dae waar jy meer tyd het vir Bybelstudie. Maak ook ‘n korter lys vir dae wanneer jou tyd meer beperk is.
Jy kan die vrae wat jy wil gebruik sommer net in jou notaboek of joernaal neerskryf. Jy kan ook vir jou ‘n vorm in ‘n Word-dokument bymekaarsit, wat jy elke keer wanneer jy Bybelstudie doen, kan uitdruk en gebruik.
As jy so ‘n vorm saamstel, maak net seker jy los genoeg spasie tussen die verskillende vrae vir die dinge wat jy wil neerskryf!
STAP 4: TOETS JOU METODE.
Die laaste stap is om jou eie Bybelstudie-metode vir ‘n ruk lank te probeer, sodat jy kan sien waar jy dalk dinge moet verander.
As jy sien iets werk nie so mooi nie, kyk hoe jy dit kan verander sodat dit beter werk. Hou aan om aan jou studie-metode te skaaf en skuur tot jy tevrede is daarmee.
Wanneer jy tevrede is, kan jy jou metode ook met ander deel. ‘n Mens weet nooit wie by jou spesifieke metode gaan baatvind nie!
Jy kan ook later van tyd die moeiliker metodes gebruik om ‘n meer gevorderde studie-metode saam te stel.
VOORBEELD VAN ‘N EIE BYBELSTUDIE-METODE.
Hier is ‘n voorbeeld van ‘n Bybelstudie-metode. Ek het die stappe van die S.O.A.P.-metode gebruik. Dis ‘n Engelse akroniem wat staan vir Scripture (Skrifgedeelte), Observation (Waarneming), Application (Toepassing) en Prayer (Gebed).
Ek het die vrae van die ander metodes, soos die Swaard-metode, gebruik om my te help om raak te sien wat die gedeelte sê (waarneming) en ook hoe ek dit kan toepas.
Die metode lyk so:
SKRIFGEDEELTE.
My eerste stap is om die gedeelte wat ek studeer ‘n keer of wat deur te lees.
Volgende skryf ek dit woord vir woord in my joernaal.
WAARNEMING.
My volgende stap is om die teks waar te neem, met ander woorde, wat sien ek raak in die verse?
Hierdie vrae help my daarmee:
Wie het die gedeelte geskryf? Hoekom het hy dit geskryf?
Wat leer ek oor God, oor Jesus of oor die Heilige Gees uit die gedeelte?
Wat leer ek oor mense in die algemeen? Waarom tree hulle op soos hulle optree? Waarom dink hulle en voel hulle soos hulle dink en voel? Met wie identifiseer ek en hoekom?
Is daar woorde wat herhaal word? Is daar woorde wat uitstaan?
Wat is die boodskap wat die skrywer wou oordra?
TOEPASSING.
My derde stap is om te dink hoe ek dit wat ek geleer het, in my lewe kan toepas. Ek het ook ‘n paar vrae om my daarmee te help:
Wat het ek uit die gedeelte geleer, wat ek moet glo?
Het ek iets geleer waarvoor ek dankbaar moet wees?
Wat het ek geleer waarvoor ek God moet prys?
Is daar iets in die gedeelte wat my hoop gee?
Is daar ‘n belofte in die gedeelte, wat ek myne kan maak? Kom die belofte met ‘n voorwaarde? Hoe kan ek die voorwaarde nakom?
Wat se voorbeelde sien ek in die gedeelte, wat ek moet volg? Sien ek ‘n voorbeeld wat ek nié moet volg nie?
Is daar ‘n sonde wat ek moet vermy?
is daar ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam?
GEBED.
My laaste stap is om dit wat ek geleer het te gebruik om ‘n gebed te skryf.
In my gebed loof ek die Here vir dinge wat ek geleer het, waarvoor ek Hom kan loof.
Ek sê ook vir Hom dankie vir die dinge wat ek geleer het.
En ek vra Hom om my te help om Sy opdragte te gehoorsaam of die voorwaardes van Sy beloftes na te kom.
Wat ek ookal geleer het, gebruik ek op een of ander manier in my gebed. Na ek my gebed geskryf het, bid ek dit tot God.
TEN SLOTTE.
Ek hoop dat hierdie artikel jou inspireer om jou eie Bybelstudie-metode saam te stel.
Mag die Here jou ontmoet elke keer wat jy Bybelstudie doen en jou leer wat jy in jou lewe, in jou unieke situasie, moet weet.
