WAS DIT GOD?

Was dit God?

Dis nie altyd maklik om te weet wanneer God met jou gepraat het nie. En ek praat nou nie van wanneer jy jou Bybel lees en God met jou praat nie. Nee, ek praat van wanneer God deur Sy Gees met jou praat.

Soms weet jy, sonder enige twyfel, dat Hy met jou gepraat het. Ek het onlangs so ‘n ervaring gehad. Terwyl ek gebid het, het daar woorde by my mond uitgekom wat ek wéét nie my eie woorde was nie. Dus weet ek dis die Heilige Gees wat daardie woorde in my mond gelê het. Deur Sy woorde het Hy my geloof versterk en hoop gegee vir die toekoms.

Maar dit gebeur nie altyd dat ‘n mens verseker weet God het nou met jou gepraat nie. Veral as dit wat jy gehoor het nie inpas by jou eie planne nie of van jou iets vra wat jou so ‘n bietjie bang maak of uit jou gemaksone gaan laat beweeg.

Vandag wil ek vir jou vyf vrae gee wat jy kan gebruik wanneer jy dink God het deur Sy Gees met jou gepraat, maar jy is nie seker nie.

VRAAG 1: VRA DIT GELOOF VAN JOU?

Alles wat God sê ons moet doen gaan geloof van ons vra. Hoekom? Want geloof behaag God.

Dink maar aan jou gunsteling karakter in die Bybel. As jy mooi na sy of haar lewe kyk, sal jy sien dit het geloof van hom of haar gevra om te doen wat God gesê het.

Kom ons gebruik Abraham as voorbeeld. Dit het geloof gekos om God te gehoorsaam en Isak te gaan offer. In Hebreërs 11 lees ons: “Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied… omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het” (vs.17;19).

Dit wat God vir jou sê om te doen, gaan dus altyd van jou vra dat jy dit in geloof moet doen.

VRAAG 2: VRA DIT DAT JY MOED AAN DIE DAG Lê?

Wanneer God ons vra om iets te doen, gaan dit altyd ook van ons vra om moed aan die dag te lê.

Toe Josua die leier van die Israeliete geword het, het God drie keer vir hom gesê dat hy sterk en vol moed (of dapper of vasberade in sommige vertalings) moet wees (Josua 1:6,7,9).

En selfs wanneer God nie uitdruklik vir mense gesê het om vol moed te wees nie, het dit wat hulle moes doen tog gevra dat hulle moed aan die dag lê.

So, as jy moed aan die dag moet lê om te doen wat jy ‘gehoor’ het, dan is dit nog ‘n teken dis God wat met jou praat.

.

VRAAG 3: STROOK DIT MET WAT IN SY WOORD Sê?

God sal nooit vir ons sê om iets te doen wat teenstryding is met Sy Woord nie.

Sy Woord is Sy wil.

As dit wat jy hoor dus nie strook met wat in die Bybel staan nie, dan is dit nie God wat met jou gepraat het nie.

VRAAG 4: HET JY VREDE IN JOU HART DAAROOR?

God sal altyd vir ons vrede gee oor die dinge wat Hy sê ons moet doen.

Jy mag dalk twyfel en dink dit kan nie God wees nie, omdat dit wat Hy gesê het nie virjou sin maak nie. Maar dit wat God vir ons sê maak nie altyd vir ons sin nie. Dink maar aan die aanvalsplan wat God die Israeliete gegee het toe hulle Jerigo ingeneem het!

Maar selfs wanneer jou kop vir jou sê dit kan nie God wees nie, sal jy in jou hart vrede hê dat dit wat jy gehoor het, wel Hy was.

VRAAG 5: IS DIT TEENSTRYDIG MET WAT DIE WêRELD DOEN OF Sê?

Wat God ookal vir jou sê sal teenstrydig wees met wat die wêreld doen en sê.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld. Die wêreld sê ons moet aan elke sent wat ons kry vashou sodat ons dit kan gebruik om in ons eie behoeftes te voorsien.

Maar God sê ons moet vrygewig wees en vir ander gee om in hulle behoeftes te voorsien. Dan moet ons Hom vertrou om in ons behoeftes te voorsien.

As dit wat jy ‘hoor’ teenstrydig is met wat die wêreld sê en doen, dan kan jy redelik seker wees dis God wat met jou gepraat het.

Nou-ja, dis dan die vyf vrae wat jy kan vra wanneer jy dink God het met jou gepraat, maar jy is nie seker nie.

En as jy, na jy die vrae gevra het, steeds nie seker is nie, sê dit dan vir God. Vra Hom ook om jou te verseker dat dit wel Hy was wat met jou gepraat het.

Jy kan Hom vertrou om dit te doen.

Deel hierdie blad

1 comment

  1. Dankie vir jou diens en bemoediging Risa en ouers. Mag die Here ook vir jul seen en getrou hou.

    Ok dat jul mag ervaar hoe Hy voorsien aan elke behoefte.
    M

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *