
Iemand skryf nou die dag vir my dat die Bybel op dié stadium vir hom soos ‘n geskiedenisboek is. Ek kan dit verstaan, want groot dele van die Ou Testament is eintlik maar deel van Israel se geskiedenis.
Maar die Bybel is soveel meer as dit.
God vertel byvoorbeeld vir ons van Adam en Eva en die slang in die Tuin van Eden, sodat ons kan verstaan waar sonde vandaan kom en waarom elke mens as sondaar gebore word.
Hy vertel vir ons van die Tabernakel – alles wat daarin is en al die verskillende offers wat die volk moes bring – want al hierdie dinge is ‘n heenwysing na Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.
GOD SE VERHAAL.
Jy sien, alles wat in die Bybel staan, van Genesis tot Openbaring, is eintlik God se verhaal. Dis die verhaal van hoe God die mensdom so liefgehad het, dat Hy nie bereid was om hulle in hulle sonde te laat doodgaan nie. Nee, Hy stuur ‘n Verlosser wat hulle kan red, sodat hulle Hom kan ken en die ewigheid saam met Hom kan deurbring.
Die hele Bybel is dus die verhaal van God se verlossingswerk vir die mensdom.
Vandag wil ek jou uitdaag om jou Bybel deur daardie lens te begin lees.
Soek na voorbeelde van waar God iemand, wat ‘n Verlosser nodig gehad het, verlos het. Daar is baie sulke verhale.
Dink maar aan Jakob en sy familie, toe daar hongersnood in die land was.
Of aan die Hebreërs wat God uit Egipte bevry het.
En wat van Ester en die res van die Jode van haar tyd?
Daar is die verhaal van Rut en Naomi. En die een van Ragab die prostituut.
En dan is daar natuurlik die pragtige verhaal van Jesus, wat vir ons aan die kruis gesterf het, omdat almal van ons ‘n Verlosser nodig gehad het. Hy gee Sy lewe en verlos só elke mens wat hierdie geskenk in geloof aanvaar.
Die voorbeelde hierbo is maar net ‘n paar van die verlossingsverhale wat ons in die Bybel kry.
Soek ook na plekke in die Bybel wat heenwys na wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Daar is sommer ook baie van hulle.
Onthou, as jy die Bybel deur die lens van God se verlossingsplan gaan begin lees, gaan dit vir jou soveel meer as net ‘n geskiedenisboek word!

dankie vir die geleentheid om meet te weet van gebed. Ek sukel met my gebed lewe