
Die hele Tabernakel is ‘n heenwysing na Jesus – wie Hy is en ook Sy werk wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.
Ons het ‘n paar weke gelede gesels oor die dinge wat jy oor Eksodus moet weet.
In Eksodus lees ons van die Tabernakel – hoe dit gemaak is en wat alles daarin was.
Min mense weet dit, maar elkeen van hierdie dinge is ‘n heenwysing na Jesus en Sy werk aan die kruis.
Kom ons kyk hoe ons Jesus in die Tabernakel kan sien.
DIE TABERNAKEL.
In Eksodus 26-30 en 37-39 lees ons hoe die Tabernakel, en alles wat daarbinne was, gemaak is.
Rondom die Tabernakel of Tent van Ontmoeting was ‘n binneplein. Daar was net een ingang na die binneplein. In die binneplein was die brandofferaltaar en die waskom. Beide was van brons gemaak. Die brandofferaltaar was reg by die ingang en die waskom was tussen die altaar en die ingang na die Tabernakel.

Die Tabernakel het bestaan uit twee dele: ‘n heiligste deel en ‘n allerheiligste deel. Dié twee dele is van mekaar geskei deur die voorhangsel.
In die heiligste deel van die Tabernakel was die tafel vir die vertoonbrode, die kandelaar en die altaar vir die reukwerk en salfolie.
In die allerheiligste deel was die verbondsark.

JESUS IN DIE TABERNAKEL.
Noudat ons weet hoe die uitleg van die Tabernakel gelyk het, kom ons kyk na hoe elkeen van hierdie dinge heenwys na Jesus en Sy werk aan die kruis.
DIE INGANG.
Die binneplein het, soos ek reeds gesê het, net een ingang gehad.
In Johannes 10:9 lees ons hierdie woorde van Jesus: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.”
Net soos die binneplein net een ingang gehad het, is daar ook net een ingang of deur na God.
Hierdie deur is Jesus.
Geloof in Hom en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, is die enigste manier om gered te word. Daar is nie ‘n ander manier nie.
Ons lees ook die volgende in Handelinge 4:10-12: “…moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, geminag is en die hoeksteen geword het. Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
Sien jy dit? Deur niemand anders is daar verlossing nie. Dis Jesus of glad nie.
DIE BRANDOFFERALTAAR.
Die brandofferaltaar is, soos sy naam aandui, gebruik vir offers.
Dit was die offers wat die priesters namens die Israeliete aan God gebring het vir hulle sondes, ensovoorts.
Jesus, as die Lam van God, was die offer wat die sonde van die wêreld weggeneem het.
Deur Sy dood aan die kruis het Hy die prys vir sonde betaal – ‘n prys wat ons nooit self sou kon betaal nie.
As wedergebore kinders van God kan ons nou met vrymoedigheid in Sy Teenwoordigheid verskyn omdat sonde nie meer tussen Hom en ons staan nie.
Deur geloof in Jesus is ons sonde van ons weggeneem so ver as die ooste van die weste is. God dink nie meer aan ons sondes nie, want Hy sien ons nou deur die bloed van Jesus. In 2 Korinthiërs 5:21 lees ons: “Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.”
DIE BRONSWASKOM.
Die waskom was, net soos die brandofferaltaar, van brons gemaak. Aaron en sy seuns moes hulle hande en voete daarin was voordat hulle die Tabernakel kon binnegaan.
In die Bybel is brons altyd ‘n heenwysing na oordeel.
Jesus het egter die oordeel vir sonde op Hom geneem. Sy bloed bring vir ons vergifnis van sonde en reinig ons van alle ongeregtigheid.
DIE WATER IN DIE WASKOM.
In Eksodus 38:8 lees ons die waskom is gemaak van bronsspieëls.
Dit is ‘n heenwysing na hoe Jesus ons reinig deur ons te was met water en met die Woord (Efesiërs 5:26).
Jy sien, nadat iemand weergebore is deur geloof in Jesus, begin die Heilige Gees ‘n proses van heiligmaking in daardie persoon.
In Johannes 17:17 lees ons: “Heilig hulle deur die waarheid – U woorde is die waarheid.”
God gebruik Sy Woord om ons te wys waar ons dinge verkeerd doen en waar ons leuens glo. Hy gebruik ook die Woord om ons dan te wys wat die regte dinge is om te doen en die waarheid wat ons moet glo.
Wanneer ons aan Hom gehoorsaam is en, met die hulp van die Heilige Gees ons lewens verander, word ons verander sodat ons al meer soos Jesus lyk.
Kyk net wat staan in 2 Korinthiërs 3:18: “En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.” (Sien jy die idee van ‘n spieël, net soos die waskom van spieëls gemaak was?)
DIE GOUE KANDELAAR.
Die kandelaar het bestaan uit ‘n stam met drie arms aan elke kant van die stam, dus sewe in getal.
Sewe is die volmaakte getal van God.
Die kandelaar was in die heiligste deel van die Tabernakel en moes, volgens Eksodus 27:21, altyd van die aand tot die môre toe voor God gebrand het.
Hierdie kandelaar is ook ‘n heenwysing na Jesus.
Onthou jy Jesus se woorde in Johannes 8:12? Daar staan: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Net soos die kandelaar lig gegee het in die Tabernakel, gee Jesus ook lig in ons lewens.

GOUE TAFEL VIR DIE TOONBRODE.
Op die tafel vir die toonbrode was daar 12 ringbrode wat in twee stapels van ses gepak is. Op elke stapel was ‘n bakkie suiwer wierook.
Elke Sabbatdag is hierdie brode vervang. Die brood wat die priesters verwyder het, was Aäron en sy seuns s’n om op ‘n gewyde plek te eet (Levitikus 24:5-9).
Ook hierdie toonbrode, wat in sommige Engelse vertalings ‘the bread of the Presence’ genoem word, wys heen na Jesus.
In Johannes 6:35 sê Jesus: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.”
En in 1 Korinthiërs 10:16a-17 lees ons: “Die brood wat ons breek [verwysing na die nagmaal], is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.”
ALTAAR VIR DIE WIEROOK.
Wierook is in die Bybel ‘n simbool vir gebed.
In Openbaring 5:8 lees ons van die vier-en-twintig ouderlinge wat elkeen ‘n goue bak vol reukwerk of wierook vasgehou het. Hierdie reukwerk is die gebede van die heiliges – dis nou ek en jy!
Ons lees ook in Romeine 8:34 waarom die wierookaltaar ‘n heenwysing na Jesus is. Daar staan: “Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”
Is dit nie wonderlik nie?
Jesus is, nou terwyl jy hier lees, besig om by God vir jou en my in te tree!
DIE VOORHANGSEL.
Die voorhangsel het die heiligste deel van die allerheiligste deel geskei en is ‘n simbool van die skeiding wat daar was tussen ons en God.
Dit is hiérdie voorhangsel wat van bo tot onder middeldeur geskeur het, toe Jesus aan die kruis gesterf het (Mattheus 27:51).
As gevolg van Jesus is daar nie meer skeiding tussen die mens en God nie. Enige iemand wat in Jesus glo, word gered en kan nou in ‘n verhouding met God staan.
En, omdat die voorhangsel van bo na onder geskeur het, weet ons dis God wat die nodige gedoen het, nie mense nie.
DIE VERBONDSARK.
Die verbondsark was agter die voorhangsel in die allerheiligste deel. Bo-op die ark was die versoendeksel. Binne die ark was die kliptafels met die wet, ‘n kruik met manna en Aäron se staf wat gebot het (Hebreërs 9:4).
Elkeen van die items binne die verbondsark is ‘n heenwysing na die Israeliete se ongehoorsaamheid en rebellie. Dis ook ‘n simbool van ons rebellie en ongehoorsaamheid.
Die Tien Gebooie – God het die Tien Gebooie vir die Israeliete gegee as deel van Sy verbond met hulle. Maar hulle kon dit nie nakom nie en het dit keer op keer verbreek.
Die kruik met manna – God voorsien kos vir die Israeliete in die woestyn. Dis letterlik soos brood wat uit die hemel val. Maar hulle kla daaroor en sê hulle is sat vir die slegte kos (Numeri 21:5). Hulle is dus ontevrede met God se voorsiening in hulle lewens. (Ons is ook soms ontevrede!)
Aäron se staf wat gebot het – God het die Leviete as priesters aangestel. Aäron en sy seuns was die eerstes. Maar van die Israeliete kom in opstand daarteen. God laat Aäron se staf bod om vir hulle te wys dat die Leviete regtig deur Hom aangestel is (Numeri 16-17). Ons weier ook baie keer om onder die gesag te kom van diegene wat God oor ons aangestel het.
JESUS EN DIE VERBONDSARK.
Bo-op die verbondsark is die versoendeksel. Dis ‘n heenwysing na Jesus, wat ons sondes wegneem en ons weer met God versoen.
Elkeen van ons het teen God in opstand gekom en was ongehoorsaam aan Hom.
Jesus, daarenteen, het elke gebod van God in totale gehoorsaamheid onderhou. Daarom was Hy die perfekte Lam, wat vir die sondes van die wêreld kon sterf, omdat Hy self sonder sonde was.
Die nuwe verbond is nou tussen Hom en God die Vader en is beseël deur Sy bloed (1 Korinthiërs 11:25). Dit kan nooit weer verbreek word nie, want dis ‘n ewige verbond.
DIE KRUIS.
As ‘n mens na die verskillende dinge kyk wat in die binneplein, in die heiligste deel en ook in allerheiligste deel was, dan vorm dit ‘n kruis.
Jesus het gesterf aan die kruis. Deur geloof in Hom word ons vrygespreek en in ‘n verhouding met God gebring.
Ons word nie meer veroordeel nie, want in Hom is ons voor God geregverdig (2 Korinthiërs 5:21).
SIEN JESUS IN DIE TABERNAKEL.
Ek vertrou dat hierdie artikel jou ‘n beter idee gee van die Tabernakel en hoe dit gelyk het.
Ek vertrou ook dat jy van nou af vir Jesus in die Tabernakel gaan sien, as jy daarvan lees.

Hi Risa
baie dankie vir jou artikels en bybel studies ek waardeur dit opre
More Risa
Dankie vir jou stukkies wat jy deur stuur elke week. Ek sien so daarna uit en leer so baie dankie.
n geseende dag vir jou
Dis sommer ‘n baie groot plesier. Ek is bly dit beteken iets vir jou.