
Kersfees gaan oor meer as kersbome, geskenke en al die baie kos. Dis die tyd wanneer ons die geboorte van Jesus vier. Hoewel Sy dood en opstandige die belangrikste deel van die Evangelie is, is Sy geboorte tog ook belangrik. Want as Hy in die eerste plek nooit gebore is nie, sou Hy nie ons Verlosser kon wees nie!
Die beste manier om Jesus te leer ken, is om die Bybel te lees. Vandag gaan ons dus ‘n paar gedeeltes oor Hom uit die Bybel lees en in kort daaroor gesels.
Gebruik dit om jou hart voor te berei vir Kersfees, sodat jou fokus op Jesus is.
JESAJA 9:5-6.
Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.
In hierdie gedeelte sien ons ‘n pragtige beeld van Jesus, ons Verlosser.
Hy is die Wonderbare Raadgewer, die Magtige God, die Ewige Vader en die Vredevors.
Sy koninkryk is een van vrede sonder einde, waar reg en geregtigheid altyd geskied.
MIGA 5:1-3.
Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.
Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir ‘n swanger vrou om geboorte te skenk. Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete.
Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God. Hulle sal veilig gevestig wees, want dan sal hy magtig wees tot aan die uithoeke van die aarde.
God het jare gelede ‘n jong seun uit Betlehem gekies om koning te wees oor Israel. Hy haal Dawid tussen die skape wat hy opgepas het uit en maak die hom die grootste koning wat Israel geken het.
In dié gedeelte sien ons dat God weer ‘n Koning uit Betlehem sal laat opstaan – Jesus, die Verlosser van die wêreld. Op presies die regte tyd word Hy in Betlehem gebore en, al sien ons Hom nie dan as Koning oor alles nie, weet ons dat daar ‘n tyd gaan kom wanneer Hy gaan terugkom, en Koning gaan wees vir ewig.
Dís iets waaraan ek en jy vandag, en elke dag, met vreugde en hoop kan vashou.
JESAJA 11:1.
Maar ‘n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
Jesus was uit die nageslag van Dawid, wie se pa, as jy Dawid se geskiedenis onthou, Isai was.
God het Dawid belowe dat sy troon, sy koningskap, altyd sal bly voortbestaan.
As jy die geskiedenis van Israel lees, sal jy sien dat Dawid se nageslag nié altyd geregeer het nie.
Dis omdat God na Jesus verwys het, wat uit Dawid se nageslag sou kom en tot in ewigheid Sy plek op die troon sou inneem.
JEREMIA 23:5-6.
“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf.
In sy dae sal Juda verlos word, en Israel sal veilig woon. En dit sal sy naam wees wat hy genoem word, ‘Die Here is ons geregtigheid.'”
As ‘n mens dié gedeelte in konteks lees, sien jy dat God die herders – die geestelike en politieke leiers van die volk – skerp aanspreek.
Hulle het hulle plig teenoor die mense versuim. En daarom kom God en kondig aan dat Hy Self ‘n nuwe begin met hulle sal maak.
Hy belowe ‘n koning, ‘n regverdige koning, wat Hy oor hulle sal aanstel.
In vers 6 staan die koning sal ‘Die Here is ons geregtigheid’ genoem word.
Die koning wat in daardie tyd oor Juda regeer het, se naam was Sedekia, wat ‘Die Here is my geregtigheid’ beteken.
Sien jy die teenstelling tussen die betekenis van die twee name?
God maak ‘n nuwe begin vir die mens deur in Jesus Christus self vir ons geregtigheid te bewerk.
Hy maak Hom, wat geen sonde geken het nie, sonde ter wille van ons, sodat ons in Hom voor God geregverdig kan word (2 Korinthiërs 5:21).
MATTHEUS 1:18-21.
Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees.
Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei.
Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.
Sy sal geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”
‘n Joodse huwelik het uit drie stappe bestaan.
Die paartjie kon verloof raak as albei families ingestem het tot ‘n huwelik. Dit is dan in die openbaar aangekondig en die paartjie het verloof geraak. So ‘n verlowing was net so goed soos ‘n huwelik, en net die dood of ‘n egskeiding kon dit verbreek. Die paartjie kon egter nie seksueel verkeer tot hulle getroud was nie.
Josef en Maria was reeds verloof, so die feit dat sy swanger was, was vir Josef ‘n groot probleem. Omdat hy geweet het dis nie sy kind nie, het dit net een ding beteken – sy was ontrou aan hom.
Die Joodse regstelsel het bepaal dat hy van haar kon skei en dat die Joodse leiers haar met klippe kon doodgooi. Hy besluit dus om van haar te skei, maar om dit nie openlik te doen nie.
God steek egter ‘n stokkie voor sy plan.
‘n Engel verskyn in ‘n droom aan hom en stel hom gerus deur vir hom te sê Maria is swanger deur die Heilige Gees en dat sy ‘n seun sou hê. Die engel beveel hom ook dat hy met haar moes trou.
Die woorde van die engel maak ‘n belangrike waarheid omtrent Jesus bekend. Hy is God wat mens word sodat Hy vir ons sondes kan sterf en verlossing bewerk vir almal wat in Hom glo.
LUKAS 2:8-13.
Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het.
‘n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik.
Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees:
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.
Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
In vers 11 hierbo lees ons die woorde van die engel aan die herders: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.”
Dawid was die bekendste herder in die Bybel. Hy was sekerlik ook dié herders, vir wie die engel die boodskap oor Jesus gegee het, se rolmodel.
Hulle het geweet wat dit beteken om ‘n verlosser te wees. Hulle moes gereeld skape, wat soekgeraak het, gaan soek en terugbring na die trop.
En hulle het Christus – die gesalfde Een – verstaan, want hulle het olie op die skape se koppe gegooi om hulle te beskerm teen insekte, die son en wind.
God het hierdie herders, wat soveel vir hulle skape omgegee het en so mooi na hulle gekyk het, geëer deur hulle eerste te vertel van die Goeie Herder, wat Sy lewe vir die skape sou kom aflê, se geboorte.
MATTHEUS 2:10-12.
Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar.
Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre.
En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.
As jy vir mense vra hoeveel sterrekykers daar was, gaan meeste antwoord daar was drie. Maar nêrens in die Bybel lees ons presies hoeveel daar was nie. Die idee dat daar drie was, kom van die drie geskenke wat hulle vir Jesus gegee het.
Hierdie geskenke word soms simboliese waarde geheg.
Goud was die geskenk wat vir ‘n koning gegee is.
Wierook was ‘n geskenk wat aan ‘n godheid gegee is.
Mirre was ‘n spesery vir ‘n mens wat sou sterf.
En dis presies wat Jesus was.
Hy is die Koning van die heelal, die Seun van God, wat mens word om vir die sondes van die wêreld te sterf, sodat almal wat in Hom glo, gered kan word.
JOHANNES 1:14.
En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.
Jesus is die Woord van God, self God.
In Hom sien ons die Vader. Hy wys vir ons die Vader se karakter. Wanneer Hy praat, is dit die Vader se woorde wat by Sy mond uitkom. En wanneer Hy iets doen, is dit presies wat die Vader ook doen.
Ons sien in Hom ook God se genade en waarheid. Genade red. Waarheid maak vry. Daarom kan ons vertrou op God se genade en leef volgens Sy waarheid.
NOG BYBELVERSE.
Hier is nog Bybelverse wat jy kan lees en studeer om jou hart voor te berei vir Kersfees: Lukas 1:26-38; Jesaja 7:14; Lukas 1:5-25; Lukas 1:39-56; Lukas 1:57-66; Mattheus 1:18-25; Lukas 2:1-7; Lukas 2:8-20; Lukas 2:21-40; Mattheus 2:1-12; Mattheus 2:13-18.
