RAGAB – ‘N BEELD VAN VERLOSSING

Ragab - 'n beeld van verlossing

Het jy al opgelet dat daar ‘n hele paar interessante vroue in die Bybel is? In die Ou Testament is daar Tamar, Rut, Ragab, Hanna, Debora, Jael en nog meer. En in die Nuwe Testament is daar Maria (Jesus se ma), Maria Magdalena, Martha en haar suster Maria, Tabita (of Dorkas) en Priscilla, om maar net ‘n paar te noem.

In antieke tye was vroue gesien as mense wat nie veel waarde gehad het nie. Maar in God se oë is alle mense ewe waardevol. Daarom sien ons dat Hy keer op keer van vroue gebruik maak om Sy wil uit te voer.

RAGAB DIE PROSTITUUT.

In Josua, die sesde boek van die Bybel, lees ons hoe die Israeliete Jerigo verower het. Dis ook waar ons die eerste keer van Ragab lees.

Sy was ‘n prostituut wat in Jerigo, in die muur van die stad, gebly het.

Die verkenners, wat Jerigo moes gaan verken, bly die nag by haar oor. Die koning van Jerigo vind uit van hulle en dring daarop aan dat sy die twee manne aan hom uitlewer. Maar Ragab doen die teenoorgestelde. Sy steek die manne op die dak van haar huis onder vlasstingels weg. Vir die manne wat hulle kom soek het, sê sy dat hulle die stad verlaat het voor die stadspoort gesluit is.

Later laat sy hulle met ‘n rooi tou by die venster van haar huis afsak (onthou, haar huis was in die stadsmuur). Maar voor sy hulle laat afsak, sluit sy eers ‘n ooreenkoms met hulle. Die manne belowe om haar en haar familie se lewens te spaar wanneer hulle die stad inneem, as sy niks sê oor wat hulle beplan nie.

‘N BEELD VAN VERLOSSING.

In die verhaal van Ragab sien ons ‘n pragtige beeld van verlossing.

Dis ook ‘n voorbeeld van God se genade teenoor heidene of Nie-Jode. Verlossing is beskikbaar vir almal wat in Jesus glo, maak nie saak of hulle Jode of Nie-Jode is nie.

Kom ons kyk so ‘n bietjie meer na die beeld van verlossing wat ons in Ragab se verhaal sien.

RAGAB – ‘N SONDAAR.

In die eerste plek sien ons Ragab was ‘n sondaar. Sy was ‘n prostituut.

Maar dis meer as net dit.

In Romeine 3:23 lees ons: “Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle…”

Ons almal, maak nie saak wie ons is nie, het gesondig. Hoekom? Want in Romeine 14:23 lees ons: “Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.”

Ragab, en elke ander mens wat nog ooit geleef het, het dus gesondig omdat ons nie geloof in God gehad het nie.

SONDE WORD GEOORDEEL.

Sonde word altyd geoordeel.

In hierdie verhaal sien ons dat Jerigo, en die mense wat daar gewoon het, geoordeel is. Ons sien ook dat God die ander nasies, wat in die Beloofde Land gebly het, oordeel vir die sonde wat hulle gedoen het.

Ons het ook onder God se oordeel gestaan. Maar God het daardie oordeel op Jesus laat neerkom. Almal wat Hom in geloof aanneem, ontvang genade.

Want voor God oordeel, gee Hy altyd eers genade.

GOD SE GENADE.

Dit is dan ook wat God met Ragab doen.

Hy gee vir haar genade.

Voor die oordeel op die stad en sy mense voltrek word, het Ragab die geleentheid om God se genade te aanvaar. (Ek is seker as daar van die ander mense in die stad was wat ook na God gedraai het, sou hulle ook genade ontvang het.)

Hierdie tydgleuf na Jesus se kruisiging en opstanding, en voor Hy weer terugkom, is God se genade-periode vir ons mense.

Almal wat in Jesus glo en deur Hom na God toe kom, ontvang genade en word gered.

DIE BOODSKAP BRING GELOOF.

In Josua 3:9-11 lees ons wat Ragab alles omtrent God gehoor het.

Sy het geweet Hy het die land vir die Israeliete gegee. Sy het ook geweet dat God die Rietsee vir die Israeliete laat opdroog het en wat hulle gedoen het aan die twee konings van die Amoriete.

Al hierdie dinge wat sy en haar mense gehoor het, het hulle baie bang gemaak.

Maar vir Ragab het dit meer gedoen as om haar net bang te maak.

Dit het geloof in God in haar hart gewek. In vers 11 sê sy: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.”

Vandag word geloof in mense se harte gewek wanneer hulle die boodskap oor Jesus hoor. In Romeine 10:17 lees ons: “Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.”

GELOOF EN DADE.

In Jakobus 2:24-26 lees ons: “Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.”

Ragab het gehoor wat daar oor die God van Israel vertel is en sy het dit geglo. Sy het egter nie net geglo wat oor God vertel is nie, maar het in Hom geglo.

En toe voeg sy dade by haar geloof en help die verkenners om te ontsnap.

In die verse wat ek hierbo aangehaal het, lees ons dat geloof sonder dade dood is.

Ons moet onthou dat ‘n mens weergebore word uit genade en deur geloof. Jy kan nie daarvoor werk nie. God gee dit as ‘n geskenk (genade) en jy aanvaar dit deur geloof.

Maar geloof kan nie alleen staan nie. Daar moet dade by gevoeg word.

Noudat ons weergebore is, doen ons sekere dinge wat wys ons het geloof in Jesus. Ons doen dit nie om gered te word nie, maar omdat ons reeds gered is.

DEEL DIE GOEIE NUUS.

Nadat Ragab vir die verkenners vertel het wat hulle alles oor God gehoor het, en wat sy as gevolg daarvan nou oor Hom glo, sluit sy ‘n ooreenkoms met hulle.

Sy vra hulle om haar en haar familie te laat leef omdat sy guns aan hulle betoon het.

Die verkenners onderneem om dit te doen, maar hulle waarsku haar dat sy moet sorg dat haar hele familie by haar in die huis is wanneer hulle aanval.

Ek kan net dink dat Ragab so gou as moontlik vir haar familie die goeie nuus gegee het, dat hulle gered gaan word wanneer die Israeliete Jerigo inneem.

Later lees ons dan ook dat haar hele familie saam met haar gered is.

Net soos Ragab die goeie nuus met haar familie gedeel het, moet ons ook die goeie nuus oor Jesus met ander deel.

Onthou die vers hierbo uit Romeine 10? In vers 17 het ons gelees dat geloof kom wanneer mense die goeie nuus oor Jesus hoor. Mense kan dus nie glo as hulle nie in die eerste plek die nuus gehoor het nie. Daarom moet ons vir mense van Jesus, en wat Hy alles in ons lewens doen, vertel.

DIE ROOI TOU.

Ragab help die verkenners ontsnap deur hulle met ‘n rooi tou by die venster van haar huis te laat afsak.

Daar word meer as een interpretasie geheg aan dié rooi tou.

Dit kan dalk verwys na haar werk as prostituut – ‘n rooi tou in plaas van ‘n rooi lig?

Of dalk het dit so gebeur om ons te wys hoe God mense beskerm, wat Hom opsigtelik help. Die rooi tou moes baie opsigtelik gewees het. Niemand sou dit dus kon miskyk nie.

Maar hoe dit ookal sy, die rooi tou is ‘n beeld van die bloed van Jesus. Sy bloed het gevloei om vir ons sondes te betaal en ons verlossing of redding te verseker.

RAGAB WORD ‘N BRUID.

Ons lees nie net van Ragab in Josua nie. Ons lees ook van haar in onder andere Jakobus 2:25 en Hebreërs 11:31.

En dan lees ons ook van haar in Mattheus 1:5, in die geslagsregister van Jesus.

Jy sien, Ragab was Boas se ma. Boas was met Rut getroud. Hulle seun, Obed, was Isai se pa. En Isai was koning Dawid se pa.

Ragab, die prostituut, het genade van God ontvang en sy word ‘n bruid wat deel word van die geslagsregister van die Messias.

Net so ontvang ons ook genade wanneer ons in Jesus glo en word ons deel van die Bruid van Christus.

RAGAB SE STORIE.

Ek vertrou dat jy van nou af met ander oë na die storie van Ragab gaan kyk.

Gaan lees dit sommer nou weer in Josua 2:1-24 en Josua 6:1-25.

En wanneer jy dit lees, onthou wat God vir jou gedoen het toe Hy Jesus gestuur het om die prys te betaal, sodat jy Sy kind kan wees en met Hom ‘n verhouding kan hê.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *