
Desember kan nogal besig raak. As dit nie ‘n funksie by die werk is nie, dan is ‘n mens besig om kersgeskenke te koop. Of jy is besig om die huis bietjie reg te ruk voor die familie kom kuier. Dan moet jy boonop nog beplan wat daar op Oukersaand en Kersdag geëet gaan word. En dan is daar natuurlik Oukersaand en Kersdag self! Met al die voorbereidings en partytjies kan ‘n mens se Bybelstudie-tyd maklik by die agterdeur uitvlieg. Maar ek wil jou aanmoedig om hierdie jaar dinge anders te doen. Maak ‘n punt daarvan om een keer ‘n week ‘n uur of wat opsy te sit vir ‘n dieper tyd in die Woord. Gebruik een van hierdie Bybelstudie-idees vir Kersfees en berei jou hart voor vir die feesseisoen.
DIE VROUE IN JESUS SE GESLAGSREGISTER.
In die geslagsregister van Jesus in Mattheus 1:1-17 lees ‘n mens van heelwat vroue. Daar is Tamar, Ragab, Rut, Batseba (die vrou van Urija), en natuurlik Maria.
Doen ‘n studie oor een van dié vroue. Soek ander plekke in die Bybel, waar jy ook van hulle lees.
Wat leer jy oor die vroue? Wat leer jy oor God uit elkeen se verhaal?
Jy kan selfs die karakter-studiemetode gebruik en ‘n karakterstudie oor elke vrou doen.
DIE KARAKTERS IN DIE KERSVERHAAL.
Doen ‘n Bybelstudie oor die verskillende karakters in die kersverhaal.
Josef: Gebruik Mattheus 1:18-25 en Mattheus 2:19-23 en kyk wat dié gedeeltes jou oor Josef leer.
Maria: In Lukas 1:26-38 lees ons dat God die engel Gabriël na Maria gestuur het om vir haar te sê Jesus sou uit haar gebore word. Doen ‘n studie oor hierdie gedeelte en fokus spesifiek op wat jy by Maria oor gehoorsaamheid leer.
Die herders: Die verhaal van die herders kry ons in Lukas 2:8-20. Doen ‘n studie oor dié gedeelte en kyk wat jy alles daaruit leer. Doen dan ook sommer ‘n studie oor Psalm 23 en leer meer oor die Goeie Herder.
Simeon en Anna: In Lukas 2:25-38 lees ons van Simeon en Anna. Hulle het altwee vir Jesus gesien toe Josef en Maria Hom na die tempel toe gevat het om die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom na te kom. Doen ‘n studie oor dié twee. Wat leer jy by hulle oor Jesus?
PROFESIEë IN DIE OU TESTAMENT.
Oral in die Ou Testament is daar profesieë oor Jesus.
Doen ‘n Bybelstudie oor die profesieë oor Sy geboorte. Kyk eers wat jy kan leer uit die profesie. Soek dan die gedeelte waar die profesie in vervulling gegaan het en kyk wat jy daaruit kan leer.
As jy nie weet waar die verskillende profesieë staan nie, sal hierdie artikel jou help.
SAGARIA EN ELISABET.
Ons lees van dié twee karakters in Lukas 1:5-25 en 1:57-80.
Jy kan ‘n karakterstudie oor elkeen doen.
Of jy kan ‘n studie oor Sagaria se loflied in verse 67-79 doen.
Wat leer jy oor God? Wat leer jy oor Johannes die Doper?
DIE LOFLIED VAN MARIA.
In Lukas 1:46-55 lees ons die loflied van Maria.
Daar is soveel wat ‘n mens uit dié gedeelte oor God kan leer.
Gebruik die vers-vir-vers Bybelstudie-metode om ‘n Bybelstudie oor die gedeelte te doen.
DIE GEBOORTE VAN JESUS.
Die geboorte van Jesus word in twee van die Evangelies beskryf.
In Mattheus kan jy meer daaroor lees in hoofstuk 1:18-23.
Lukas s’n lees ons weer in hoofstuk 2:1-20.
Gebruik die twee verskillende gedeeltes en doen ‘n studie daaroor. Hierdie maklike Bybelstudie-idee is ideaal om hiervoor te gebruik.
WATTER STUDIE GAAN JY DOEN?
Ek vertrou dat hierdie ses Bybelstudie-idees vir Kersfees jou gaan help om ook in kerstyd tyd in die Woord te spandeer en meer oor God te leer.
Dit gaan jou veral help om jou oë op Jesus, die ware rede vir Kersfees, gerig te hou.
So, kies een van die studie-idees en begin sommer vandag nog met ‘n Kersfees-Bybelstudie!
