
Dit is sowaar al amper weer Desember en tyd vir vakansie en Kersfees. Hoewel hierdie tyd van die jaar eintlik ‘n tyd is waar mense kan rus, is dit vir baie die besigste tyd van die jaar.
Werk moet klaargemaak word voor jy met verlof kan gaan.
Alles moet reggekry word vir die familie wat Kersfees kom kuier.
Die kinders, wat gou verveeld raak, moet besig gehou word.
Kersgeskenke moet gekoop en toegedraai word. Die Kersete moet beplan word en op een of ander stadium voorberei word.
Dis maar net ‘n paar van die dinge wat ons gewoonlik in Desember moet doen. En juis omdat dit so besig is, is dit maklik om te vergeet waaroor Kersfees nou eintlik gaan.
Vandag wil ek 31 gedeeltes uit die Bybel met jou deel, wat jy in Desember kan gebruik om jou hart en gedagtes op Jesus – die Een oor wie Kersfees gaan – te fokus.
Jy kan elke dag net die gedeelte of vers vir die dag lees. Of jy kan dit ‘n stappie verder neem en die gedeelte vir die dag in jou dagboek of joernaal neerskryf. Dan kan jy dit nog ‘n bietjie verder neem en neerskryf wat die gedeelte vir jou beteken. Of jy kan ‘n gebed, waarin jy God dank vir wat in die gedeelte staan, neerskryf. Dan kan jy natuurlik ook sommer al hierdie dinge doen!
Die Bybelgedeeltes is in vier weke ingedeel. Elke week het ‘n ander onderwerp waaroor die verse of gedeeltes gaan.
Jy kan ook die 31 Bybelverse vir Desember aflaai sodat jy dit maklik in jou stiltetyd of Bybelstudietyd kan gebruik.
WEEK 1: DIE GEBOORTE VAN JESUS.
Jesaja 7:14: Daarom sal my Heer self vir julle ‘n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.
Jesaja 9:5-6: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.
Mattheus 1:21: Sy sal geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.
Lukas 1:30-32: Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan ‘n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.”
Lukas 2:4-7: Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, ‘n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.
Lukas 2:11-12: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.
Galatiërs 4:4-5: …maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word.
WEEK 2: WONDERWERKE VAN JESUS.
Johannes 2:6-10: Daar het, ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode, ses klipkanne gestaan wat elk tussen twee en drie metretes kon hou. Jesus sê toe vir hulle: “Maak die kanne vol water.” En hulle het dit tot bo toe volgemaak. Daarop sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en neem dit vir die hoofkelner.” Hulle het dit toe geneem. Toe die hoofkelner die water proe wat wyn geword het – hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het – roep hy die bruidegom en sê vir hom: “‘n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.”
Johannes 5:5-9: Daar was ‘n man wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom daar sien lê, bewus daarvan dat hy reeds lank siek is, vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?” Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog besig is om nader te gaan, gaan iemand anders voor my in.” Jesus sê vir hom: “Staan op, tel jou slaapmat op en loop.” En dadelik het die man gesond geword, sy slaapmat opgetel en begin loop.
Mattheus 20:29-34: Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het ‘n groot skare Hom gevolg. En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg.
Mattheus 17:14-18: Toe hulle by die skare kom, het ‘n man na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly erg. Dikwels val hy in die vuur, en dikwels in die water. Ek het hom na u dissipels gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.” Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Daarop het Jesus die demoon bestraf, en hy het uit hom uitgegaan. Van daardie oomblik af was die seun gesond.
Lukas 7:11-15: Kort daarna het Jesus na ‘n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en ‘n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar ‘n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee.
Mattheus 8:23-27: Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar ‘n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
Markus 15:29-31: Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. ‘n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik.
WEEK 3: WOORDE VAN JESUS.
Mattheus 22:34-40: Toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, ‘n wetskenner, het vervolgens ‘n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete.”
Lukas 6:27-31: Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle.
Mattheus 7:7-8: Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.
Mattheus 18:21-22: Toe het Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer.”
Mattheus 6:19-24: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
Mattheus 13:31-32: Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak.”
Mattheus 5:2-12: Hy het begin praat en hulle geleer en gesê: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.’

WEEK 4: VERLOSSING DEUR JESUS.
Johannes 3:16-18: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.
Handelinge 48-12: Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor ‘n goeie daad aan ‘n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. Hy is ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
Johannes 14:1-7: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.”
Romeine 10:9-13: Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”
Romeine 6:22-23: Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Handelinge 16: 29-33: Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop.
Johannes 1:29: Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
31 VERSE VIR DESEMBER.
Soos ek gesê het, het ek hierdie 31 Bybelverse vir Desember vir jou bymekaargesit sodat jy dit kan aflaai en uitdruk. Jy kan dit dan rustig in jou stiltetyd of Bybelstudietyd gebruik.
Ek vertrou dat hierdie 31 Bybelverse vir Desember jou gaan help om jou oë en hart hierdie Kersfees op Jesus gefokus te hou!

Baie dankie vir die. Ek vra net dat jy saam met my sal bid tot die Here dat Hy my sal help uit die krisis wat ek in is asb. Ek glo vas in die Here en ek weet niemand behalwe Hy kan my help. Hy sal vvir my die kennis gee of die weg wys wat ek moet doen
Dankie ook vir jou en die tyd wat jy afstaan om vir ons die nodige toerusting te gee om op die Here te fokus, want sonder Hom is ons niks
Elsa, ek bid saam met jou en vir jou!