
Ons leef in ’n wêreld wat altyd besig is. ‘n Mens het altyd nog iets om te doen, nog iets wat jou aandag vra en nog ‘n paar dinge waaroor jy bekommerd is. Ek weet nie van jou nie, maar soms voel dit of ek liggaamlik moeg is terwyl dit ander kere voel asof my siel moeg is. Wanneer ek sê my siel is moeg, dan praat ek van my hart, my emosies en sommer ook alles wat in my kop aangaan. Dis wanneer ek só voel, dat ek daarop fokus om tyd met die Here te spandeer, sodat ek rus in Hom kan vind.
Vandag wil ek met jou ‘n klompie verse deel wat jou daaraan herinner dat jy ook rus by die Here kan vind. Sien hierdie verse as Sy uitnodiging aan jou om by Hom te kom sit, stil te word in Sy Teenwoordigheid, en die rus wat daar vir jou in Hom is, in te drink.
MATTHEUS 11:28-29.
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
PSALM 23:1-3.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
EKSODUS 33:14 (OAV).
En Hy antwoord: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”
JESAJA 26:3 (OAV).
U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.
PSALM 62:2.
Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.
JEREMIA 6:16.
So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind.
HEBREëRS 4:9-10.
Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.
PSALM 46:11.
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
JESAJA 30:15.
So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.
FILIPPENSE 4:6-7.
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
PSALM 4:9.
Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.
JESAJA 40:31.
…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
JOHANNES 14:27.
Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.
PSALM 116:7(OAV).
My siel, keer terug tot jou rus; want die Here het goed aan jou gedoen.
SPREUKE 3:5-6.
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
PSALM 91:1-2.
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
KLAAGLIEDERE 3:21-23.
Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.
1 PETRUS 5:7.
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
PSALM 37:5-7.
Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie.
ROMEINE 15:13.
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
GAAN ‘N BIETJIE DIEPER.
Rus in die Here beteken nie dat jou lewe altyd maklik of sonder probleme gaan wees nie. Maar dit beteken dat jy, selfs in moeilike tye, ‘n veilige plek in die Here kan vind. Hy nooi jou uit om stil te word, al jou laste by Hom neer te lê en Hom te vertrou dat Hy getrou is en dat Hy sal doen wat jy nie kan doen nie.

Om jou te help om stil te word by die Here en na te dink oor die rus wat jy in Hom kan vind, het ek die e-boek, Rus In Die Here – 21 Dae In Die Woord, saamgestel. Elke dag bevat ‘n Bybelvers en ‘n kort oordenking oor daardie vers om jou te bemoedig, jou nader te trek aan die Here en jou te help rus vind in Hom. Kliek op die knoppie hieronder as jy graag meer oor dié oordenkingsboek wil weet.
