DIE BOEK-OORSIG BYBELSTUDIE-METODE

Die Boek-oorsig Bybelstudie-metode

Gebruik die Boek-oorsig Bybelstudie-metode om jou ‘n oorsig van ‘n Bybelboek te gee, sodat jy verstaan waarom die skywer dit geskryf het.

Martin Luther het glo gesê dat hy die Bybel studeer soos ‘n mens appels pluk.

Eers skud hy die appelboom, sodat die rypste appels kan afval. Dit beteken hy studeer die Bybel as geheel.

Dan klim hy in die boom en skud elkeen van die hooftakke. Dit beteken hy studeer ‘n boek van die Bybel.

Daarna skud hy elkeen van die sytakke. Dis om ‘n hoofstuk van ‘n Bybelboek te studeer.

Dan skud hy elke klein takkie. Dis om paragrawe en sinne in ‘n hoofstuk te studeer.

En laastens kyk hy onder elke blaar of daar nog appels is. Dit beteken hy studeer sekere woorde in die Bybel.

God het verskillende mense gebruik om die verskillende boeke van die Bybel te skryf. Elke boek leer ons iets anders en bou op die openbaring wat ons van God kry. Daarom is dit ‘n goeie idee dat ons doen wat Martin Luther gedoen het. Ons moet eers ‘n hele boek studeer, voor ons na die verskillende individuele dele van die boek kyk. Laastens sit ons dan weer alles wat ons geleer het bymekaar, sodat ons weer die geheelbeeld sien.

Om ons hiermee te help, kan ons drie verskillende Bybelstudie-metodes gebruik – die oorsigmetode, die ontledingsmetode en die samestellingsmetode.

Vandag gaan ons gesels oor die eerste van dié drie studiemetodes, die Boek-oorsig Bybelstudie-metode.

DIE BOEK-OORSIG BYBELSTUDIE-METODE.

Die studiemetode gaan jou help om ‘n oorsig te kry van die hele boek, sodat jy presies verstaan waarom die skywer die boek geskryf het.

Jy gaan ook verstaan wat die tema van die boek is, wat die struktuur van die boek is en ook wat die inhoud daarvan is.

Baie keer is daar verse in ‘n boek wat ‘n mens nie so mooi verstaan nie. Maar as jy dit sien in die konteks van die hele boek, dan gaan daar skielik vir jou lig op.

WAT JY GAAN NODIG Hê.

Jy gaan die volgende hulpmiddele nodig hê om ‘n boek-oorsig te doen:

‘n Studiebybel – Daar is heelwat studiebybels op die mark beskikbaar, wat jy kan gebruik.

Verskillende Bybelvertalings – Dis altyd handig om te sien hoe verskillende Bybelkenners dieselfde materiaal vertaal het. Jy kan hiervoor Engelse vertalings ook gebruik.

‘n Bybelwoordeboek of ensiklopedie. As jy nie so iets het nie, kan jy altyd aanlyn kyk. Daar is heelwat Webblaaie waar sulke hulpmiddele beskikbaar is.

‘n Bybelhandboek. Daar is ook heelwat sulke boeke op die mark beskikbaar. Jy kan natuurlik ook aanlyn daarna soek as jy nie so iets wil koop nie.

Dan kan jy ook Bybel-atlasse, historiese geografie-boeke, historiese agtergrondboeke en ander Bybel-oorsigboeke gebruik. Onthou net om eers jou eie studie oor ‘n boek te doen. Daarna kan jy hierdie boeke gebruik om seker te maak jou bevindinge is reg.

Here, Leer My Hoe Om Bybelstudie Te Doen is ‘n tien-dae Bybelstudie wat die vier stappe van die S.O.A.P. Bybelstudie-metode gebruik om jou te leer hoe om self Bybelstudie te doen. Besoek ons aanlyn-winkel vir meer inligting.

DIE STAPPE VAN DIE BOEK-OORSIG BYBELSTUDIE-METODE.

Die Boek-oorsig Bybelstudie-metode het ses stappe, wat weer in verskillende stappe opgedeel word.

STAP 1: LEES DIE BOEK.

Die eerste stap is om die boek wat jy wil studeer, te lees. Moenie nou enige ander materiaal oor die boek lees nie. Lees net die boek in jou Bybel.

Begin deur die hele boek op een slag deur te lees. Jesaja is een van die langste boeke in die Bybel en kan in drie tot vier ure deurgelees word. As jy nié die boek op een slag kan deurlees nie, probeer om dit in net twee sessies te doen.

Ignoreer die hoofstukke en opskrifte terwyl jy lees. Onthou, toe die boeke en briewe geskryf is, was daar nie hoofstukke en opskrifte nie. Dis eers later bygevoeg. Jou doel is nou net om in die vloei van die boek te kom.

Moet ook nie net een keer deur die boek lees nie. Lees dit soveel keer as wat jy kan. Dit is so dat ‘n mens elke keer nuwe dinge raaksien wanneer jy deur ‘n Bybelboek lees. Jy sal die boek ook beter verstaan as jy dit ‘n klomp keer na mekaar deurlees.

Dis ook belangrik om ‘n Bybel te gebruik waarin jy nie reeds notas gemaak het nie. Dit sal jou help om nuwe dinge raak te sien, in plaas van om vas te steek by die dinge wat jy reeds voorheen opgelet het.

Dis ook ‘n goeie idee om ‘n keer of wat die boek in ‘n ander vertaling te lees. Gebruik ‘n vertaling of vertalings waar die taalgebruik maklik is om te verstaan. Dit sal jou help om ook beter te verstaan wat jy lees.

En moenie vergeet om te bid voor jy begin lees nie! Vra die Here om jou oë oop te maak vir die waarhede in Sy Woord.

STAP 2: MAAK NOTAS.

Die tweede stap is om te begin om notas te maak oor dit wat jy in die boek raaksien.

Jy kan dit begin doen na jy die boek ‘n eerste keer deurgelees het.

Wees op die uitkyk vir hierdie nege dinge:

  1. Wat se tipe boek is dit?
  2. Wat is jou eerste indruk van die boek? Wat dink jy is die doel van die boek?
  3. Wat is die sleutelwoorde in die boek? Watter woorde word herhaal? Op watter woorde word klem gelê?
  4. Is daar ‘n sleutelvers in die boek? Is daar idees of frases wat herhaal word, wat kan aandui wat die skrywer se hoofgedagte is?
  5. Wat se literatuurtipe is die boek? Gebruik die skrywer baie beeldspraak? Gebruik hy logiese argumente?
  6. Wat is die emosionele toon van die boek? Is die skrywer kwaad, bekommerd, opgewonde, kalm? Hoe, dink jy, het die eerste lesers van die boek of brief gevoel toe hulle dit gelees het? Hoe laat dit jou voel?
  7. Wat is die hooftema? Is daar meer as een?
  8. Hoe is die boek uiteengesit? Fokus dit op mense, gebeure, plekke, idees?
  9. Wie is die hoofkarakters in die boek? Watter rol speel hulle in die boek?

STAP 3: DOEN ‘N AGTERGROND-STUDIE.

Die volgende stap is om te bepaal wat die historiese en geografiese agtergrond van die boek is. Jy kan die Agtergrond-studiemetode hiervoor gebruik. Jy kan ook die volgende vrae gebruik om jou daarmee te help.

  1. Wat kan ek leer oor die skrywer?
  2. Wanneer is die boek geskryf?
  3. Waar is die boek geskryf?
  4. Vir wie is die boek geskryf?
  5. Hoekom is die boek geskryf?
  6. Is daar ander agtergrond-inligting wat meer lig werp op hierdie boek?
  7. Watter plek neem die boek in die Bybel in? Is dit ‘n oorgang tussen verskillende periodes in die geskiedenis?
  8. Watter plekke word in die boek genoem? Waar was hierdie plekke?

Onthou, baie van die antwoorde op hierdie vrae gaan jy in die boek self kry. As jy nié die antwoorde in die boek kry nie, kan jy in ander boeke daarna soek.

.

STAP 4: MAAK ‘N HORISONTALE TABEL.

Die volgende stap van die Boek-oorsig Bybelstudie-metode is om ‘n horisontale tabel te maak. Dit beteken eenvoudig dat jy die inhoud van die boek in tabelvorm uiteensit.

Daar is baie voordele aan hierdie stap verbond. Dit gaan jou byvoorbeeld help om die hoofgedagtes van die boek op te som.

Dit gaan jou help om die inhoud van die hele boek met een oogopslag te sien.

En dit gaan jou ook help om te sien waar dieselfde gedagte op verskillende plekke in die boek genoem word.

Dan gaan dit jou ook help om oor die boek te dink en dit wat jy geleer het, te onthou.

WAT JY NODIG HET.

Jy gaan die volgende nodig hê om ‘n horisontale tabel te maak:

  1. ‘n Bybel waar die hoofstukke in paragrawe verdeel is. Nie alle Bybels is so uiteengesit nie. Wees dus op die uitkyk vir een wat wel so uiteengesit is.

Hierdie uiteensetting gaan jou help om die verskillende idees of gedagtes waaroor die skrywer skryf, beter te onderskei.

  1. ‘n Pen of potlood en ‘n liniaal.
  2. ‘n A4-vel papier. Probeer om die hele tabel op een vel papier in te pas, sodat jy die struktuur van die hele boek in een oogopslag kan sien. As jy ‘n langer boek studeer, soos Genesis, Psalms of Jesaja, gaan jy meer velle papier gebruik. Maar moenie te veel gebruik nie.

HOE OM DIE HORISONTALE TABEL TE MAAK.

Daar is vier stappe wat jy gaan volg om so ‘n tabel te maak.

  1. Trek soveel vertikale kolomme op jou vel papier as wat daar hoofstukke in die boek is.
  2. Lees deur die boek en kyk hoe die boek verdeel is. Wat is die hoofafdelings van die boek? Skryf hierdie hoofafdelings aan die bokant van die verskillende kolomme. Gebruik so min as moontlik woorde.
  3. Lees weer deur die boek en dink ‘n titel vir elke hoofstuk uit. Skryf dit titels wat jy uitgedink het onder die hoofafdelings wat jy in die kolomme geskryf het. Probeer om nie meer as vier woorde te gebruik nie. Gebruik, waar moontlik, woorde direk uit die teks. En probeer om nie woorde te gebruik wat jy voorheen, in van jou ander studies, in die titels gebruik het nie.
  4. Lees nog ‘n slag deur die boek en doen dieselfde met die verskillende paragrawe.

As jy nog nooit ‘n horisontale tabel van ‘n boek gedoen het nie, gaan jy dalk ‘n bietjie sukkel. Maar moenie moed opgee nie. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word.

STAP 5: SKRYF DIE HOOFPUNTE VAN DIE BOEK NEER.

Volgende gaan jy die hoofpunte van die boek neerskryf. Gebruik jou tabel wat jy in stap 4 gemaak het, om jou hiermee te help.

Begin by die hoofafdelings. Kyk dan na die onderafdelings. Hierdie kan die verskillende hoofstukke wess.

Volgende kyk jy na die belangrike punte wat onder elke onderafdeling val. Hierdie kan die verskillende paragrawe wees.

Nadat jy hierdie stap voltooi het, kan jy jou werk vergelyk met die werk van ander skrywers.

Moenie bekommerd wees as jou hoofpunte nie presies dieselfde is as hulle s’n nie. Daar is soms meer as een manier om ‘n boek se hoofpunte neer te skryf.

STAP 6: SKRYF ‘N PERSOONLIKE TOEPASSING.

In Jakobus 1:22 lees ons dat ons nie net hoorders van God se Woord moet wees nie, maar doeners ook. Om ‘n doener van die Woord te wees, beteken dat ons dit wat ons uit ‘n gedeelte geleer het, in ons lewens moet toepas.

Die laaste stap van die Boek-oorsig Bybelstudie-metode is dan ook om ‘n persoonlike toepassing te skryf.

Wat het God jou alles uit die boek geleer? Kies een daarvan en skryf jou toepassing. Onthou dat jou toepassing prakties moontlik moet wees. Dit moet ook gemeet kan word, met ander woorde, jy moet weet wanneer jy besig is om dit wat jy geleer het, toe te pas of uit te leef.

‘N VOORBEELD VAN ‘N BOEK-OORSIG BYBELSTUDIE.

In vandag se artikel het ons gekyk na die stappe wat jy gaan neem wanneer jy die Boek-oorsig Bybelstudie-metode volg.

In die volgende artikel gaan ons saam so ‘n studie doen, sodat jy kan sien presies hoe dit werk.

Hierdie Bybelstudie-metode is een van dié wat bietjie moeiliker is, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Probeer dit ‘n slag en kyk wat jy alles oor ‘n boek in die Bybel kan leer.

Deel hierdie blad

4 comments

  1. Ek Wil garage bybel studie doen omdat ek die bybel better Wil verstaan verstaan en dit uitleef.

  2. Ek verstaan nie altyd wat God vir my wil se as ek die bybel lees nie so ek lees net n paar verse wat vir my sin maak oor en oor. Ek wil graag meer weet oor wat ek lees.

  3. dit is baie intresant om so te kan verstaan by tye weet ek nie waar om te begin en dit is moeilik om te lees en nie te verstaan ek hoop dit sal help

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *