JOB – ‘N BIETJIE AGTERGROND

Job: 'n bietjie agtergrond

Job is een van die boeke in die Ou Testament waarvan baie mense nie regtig hou nie. Dis moeilik om te lees van al Job se swaarkry, want dit herinner ons aan die tye wat ons ook swaar gekry het.

Maar daar is tog so baie wat ons uit hierdie boek kan leer, dat dit die moeite werd is om dit te lees en ook te studeer. In hierdie artikel gaan ons ‘n bietjie gesels oor van die agtergrond-inligting wat jy nodig het, wanneer jy die boek wil studeer.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Die boek is, soos ‘n hele paar ander boeke in die Bybel, vernoem na een van die hoofkarakters, Job.

WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.

Job speel af in die land Us.

Dit was waarskynlik noordoos van Palestina, naby ‘n woestynagtige gebied tussen Damaskus en die Eufraatrivier.

Niemand weet regtig wanneer die gebeure in die boek afgespeel het nie, maar dit was waarskynlik in die tyd voor die stamvaders.

WIE HET JOB GESKRYF?

Sommige Bybelkenners dink dat Job self die boek geskryf het.

Daar is egter ook ander wat dink dit was Moses, Salomo of Elihu, maar eintlik weet niemand regtig wie die boek geskryf het nie.

Here, Leer My Hoe Om Bybelstudie Te Doen

‘n Tien-dae Bybelstudie wat die vier stappe van die S.O.A.P. Bybelstudie-metode gebruik om jou te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

WAT SE TIPE BOEK IS JOB?

Ons kry ‘n hele klomp verskillende literatuursoorte in Job.

Daar is wysheidsliteratuur, psalmliteratuur en ook regsliteratuur in die boek.

Dan is daar ook klaagliedere, hofgedinge en dispute wat voorkom.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Die hoofdoel van die boek is om lig te werp op die swaarkry van mense as gevolg van rampe en siekte. Ons lees wat gewone mense se siening was van waar hierdie dinge vandaan kom. Maar ons sien ook dat God die duiwel as die outeur daarvan identifiseer.

Job leer ons ook meer oor die waarde van volharding (Jakobus 5:10).

Verder leer ons wat die betekenis van ware geloof is en ook dat God altyd daar is om Sy mense te help en te red, wanneer hulle tot Hom roep.

HOOFTREKKE VAN JOB.

Die boek begin met ‘n kykie na wat in die hemel gebeur het. In dié gedeelte kla Satan by God dat Job Hom net dien omdat Hy goed is vir hom.

Volgende lees ons van twee toetse wat Job se pad kruis, om te kyk of hy regtig in God glo.

Dan volg daar gesprekke tussen Job en sy vriende en ook ‘n gesprek tussen Job en God.

Die boek sluit af met die vertelling dat dit later weer goed gegaan het met Job en dat hy baie meer gehad het as waarmee hy begin het.

.

BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.

Buiten Job, lees ons ook van die volgende belangrike karakters in die boek:

Elifas uit Teman;

Bildad uit Suag;

Sofar uit Naäma;

Elihu die Bussiet.

JESUS IN JOB.

As ‘n mens Job 19:25-27 lees, kan jy nie anders as om te besef dat Job van Jesus geweet het nie.

Daar staan: “Maar ek, ek weet: My Losser leef! Uiteindelik sal Hy op aarde opstaan. Nadat hulle my vel so afgeskeur het, sal ek, ‘n mens van vlees en bloed, God sien, wat net ek sal sien; my eie oë, en niemand anders nie, sal Hom sien. My hele wese smag daarna.”

Hierdie is een van die wonderlikse openbaringe omtrent die opstanding uit die dood as gevolg verlossing deur geloof in Jesus Christus.

SLEUTELVERSE IN JOB.

Die sleutelverse in die boek kom uit hoofstuk 42:1-6.

Daar staan: “Job het die Here geantwoord; hy het gesê: “Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie is die een wat ‘n plan verberg, terwyl hy geen kennis het nie? Daarom het ek, sonder begrip, ja, sonder kennis, my mening gegee oor dinge wat vir my te wonderbaar is. Luister, en ek sal praat! U het gesê, ‘Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!’ Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek dit, en het ek berou – in stof en as.””

KENMERKENDE EIENSKAPPE.

  • In die Hebreeuse Bybel is Job die eerste van die poëtiese boeke.
  • Die boek gee ons meer insig omtrent die werk van die duiwel.
  • Volgens Esegiël 14:14 en 20 en ook Jakobus 5:11 was Job ‘n man wat regtig bestaan het.

JOB IN DIE NUWE TESTAMENT.

Die boek word op twee plekke in die Nuwe Testament aangehaal.

In Job 5:13 lees ons: “Hy wat wyses met hulle eie slinksheid vang, sodat die planne van geslepenes vinnig tot ‘n einde kom.”

Dit word in 1 Korinthiërs 3:19 aangehaal: “…want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan immers geskryf: “Hy vang die wyses deur middel van hulle eie slinksheid…””

En in Job 41:2 staan daar: “Wie het al teen My standpunt ingeneem, sodat Ek hom moes vergoed? Alles onder die hemel behoort aan My.”

Dit word weer in Romeine 11:35 aangehaal: “Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed?”

VORIGE ARTIKELS.

Dit is dan al oor die boek Job.

Ons het reeds oor die vorige boeke in die Bybel gesels. As jy van die artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *