
Dit is amper weer Paasfees. Dis ‘n tyd wanneer ons onthou en fokus op wat Jesus, met Sy dood en opstanding, vir ons kom doen het. Daar is sommer baie verskillende dinge wat Hy kom doen het, maar vandag gaan ons kyk na net vyftien van dié dinge.
Jy sal sien dat daar elke keer ‘n Bybelvers is wat sê wat Jesus kom doen het. Dan is daar iets waaroor jy kan nadink en dan ook ‘n aksiestap wat jy kan neem om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas.
Gebruik dié artikel in jou stiltetyd of Bybelstudietyd om jou hart voor te berei vir Paasfees.
GOD WYS SY LIEFDE IN JESUS.
Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
DINK NA: In dié vers lees ons wat God gedoen het omdat Hy die wêreld liefgehad het. Wat beteken hierdie wonderlike daad vir jou?
AKSIESTAP: Vir wie kan jy vandag van God se groot liefde vir hom/haar vertel? As jy aan iemand gedink het, gaan dan en vertel die goeie nuus vir daardie persoon.
JESUS BRING VERLOSSING.
Handelinge 4:12: “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
DINK NA: Dié vers sê dat Jesus alleen vir ons verlossing bring. Hoekom kan niemand anders, nie eers onsself, dit doen nie?
AKSIESTAP: Glo jy in Jesus as Verlosser? As jy nog nie jou hart vir Hom oopgemaak het nie, bid dan sommer nou dadelik ‘n eenvoudige gebed. Sê vir Hom jy glo Hy is die Seun van God en dat Hy vir jou sondes gesterf het.
JESUS BRING VERGIFNIS VAN SONDE.
Efesiërs 1:7-8: “In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig.”
DINK NA: Lees Jesaja 53:1-12, Handelinge 13:38-39 en 2 Korinthiërs 5:21. Wat leer jy uit hierdie gedeeltes oor die vergifnis van sonde?
AKSIESTAP: Memoriseer 1 Johannes 1:9 om jou altyd daaraan te herinner dat jou sondes vergewe is.
JESUS HET JOU LOSGEKOOP EN GEREINIG.
Titus 2:14: “Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ‘n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen.”
DINK NA: Ons is losgekoop en gereinig, en God wil hê dat ons ywerig moet wees om goed te doen. Lees Efesiërs 2:10. Wat leer jy uit hierdie vers oor goeie werke?
AKSIESTAP: Vra die Here wat jy vandag kan doen om die goeie werke, wat Hy vir jou voorberei het, te doen. Wees gehoorsaam as Hy jou wys wat jy kan doen!
JESUS VERSOEN JOU MET GOD.
2 Korinthiërs 5:19: “Dit [die bediening van versoening] bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou.”
DINK NA: Wat beteken versoening met God vir jou?
AKSIESTAP: Skryf ‘n gebed in jou joernaal waarin jy God dank dat jy met Hom versoen is. Bid dan die gebed in jou stiltetyd tot Hom.
JESUS BRING VREDE MET GOD.
Romeine 5:1-2: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.”
DINK NA: Deur Jesus het jy nou vrede met God. Jy kan dus altyd met vrymoedigheid na Hom toe kom. Doen jy dit, of dink jy dat Hy nog kwaad is vir jou?
AKSIESTAP: Word stil voor die Here en sê vir Hom dankie dat daar nou vrede is tussen jou en Hom.
JESUS GEE LEWE.
1 Johannes 5:11-12: “En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
DINK NA: Omdat jy in Jesus glo, het jy die lewe. Wat beteken hierdie waarheid vandag vir jou?
AKSIESTAP: Deel wat hierdie waarheid vir jou beteken met iemand anders. Doen dit sommer vandag nog.
JESUS HET DIE DUIWEL SE DADE VERNIETIG.
1 Johannes 3:7-8: “Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig.”
DINK NA: Wat, dink jy, beteken dit dat Jesus gekom het om die duiwel se dade te vernietig?
AKSIESTAP: Sê vandag ‘n paar keer hardop vir jouself dat Jesus die duiwel kragteloos gemaak het, dat sy dade vernietig is. Herinner jouself daaraan dat jy uit slawerny bevry is en dat jy nie meer in vrees hoef te leef nie.
JESUS VERVUL DIE WET EN PROFETE.
Mattheus 5:17-18: “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.”
DINK NA: Wat beteken dit dat Jesus gekom het om die Wet en die Profete te vervul?
AKSIESTAP: Wat wil jy vir Jesus sê oor wat jy vandag geleer het? Dalk het jy ‘n vraag of dalk wil jy dankie sê. Wat dit ookal is, praat met Hom daaroor.
JESUS VERBIND GEBROKE HARTE.
Jesaja 61:1: “Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is…”
DINK NA: Jesus weet wanneer jy om een of ander rede ‘n gebroke hart het en Hy wil jou weer heelmaak. Dink vandag bietjie na oor hierdie waarheid. Wat beteken dit vir jou?
AKSIESTAP: Jesus weet wanneer jy swaarkry. Hy vra dan ook van ons om raak te sien wanneer ander swaarkry. Wie ken jy wat swaarkry en hoe kan jy hulle ondersteun?
JESUS STIL JOU GEESTELIKE DORS.
Johannes 4:13-14: “Jesus het haar geantwoord: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.”
DINK NA: Lees Johannes 4:7-17. In dié gedeelte noem Jesus ‘n hele paar dinge oor die water wat Hy vir ons gee. Maak ‘n lys in jou joernaal van die dinge wat Hy opnoem, wat die water doen en is.
AKSIESTAP: Gee jou verbeelding vrye teuels en teken ‘n prentjie in jou joernaal van die fontein van water wat in jou opborrel. Onthou dat dit ‘n geestelike strekking het, so probeer dit inwerk.
JESUS BRING GENESING.
Jesaja 53:3-5: “Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.”
DINK NA: Wat leer jy uit dié gedeelte oor Jesus en siekte? Lees ook Mattheus 8:1-3. Wat leer hierdie gedeelte jou oor Jesus?
AKSIESTAP: Bid vandag vir iemand, wat siek is, vir genesing. As jy nie iemand ken wat siek is nie, bid in die algemeen vir alle mense wat siek is.
JESUS BRING OORWINNING.
1 Korinthiërs 15:56-57: “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde lê in die wet. Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”
DINK NA: Dink aan ‘n paar dinge waaroor Jesus vir ons oorwinning gegee het. Skryf dit sommer in jou joernaal neer.
AKSIESTAP: Lees Romeine 3:35-37 en Johannes 16:33. Kies een van die twee verse en memoriseer dit sodat jy altyd daarvan bewus kan wees dat jy in Christus meer as ‘n oorwinnaar is.
JESUS HELP JOU VRUG DRA.
Johannes 15:5: “Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”
DINK NA: Jesus sê as ons in Hom bly, sal ons baie vrug dra. Wat beteken dit om vrug te dra?
AKSIESTAP: Skryf vir Jesus ‘n brief waarin jy erken dat jy niks sonder Hom kan doen nie. Vra Hom dan om jou te help om baie vrug te dra.
JESUS HET VIR JOU PLEK GAAN VOORBEREI.
Johannes 14:2-3: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
DINK NA: Gee jou verbeelding so ‘n bietjie vrye teuels. Hoe dink jy gaan dit wees om eendag saam met God die Vader en Jesus in die hemel te wees?
AKSIESTAP: Skryf ‘n dankgebed waarin jy Jesus dank dat Hy gegaan het om vir jou ‘n plek voor te berei, en dat Hy gaan terugkom om jou te kom haal. Wanneer jy klaar is, bid dit tot Hom.
GRATIS PAASFEES E-BOEK.
As hierdie artikel, oor wat Jesus vir ons kom doen het met Sy dood en opstanding, vir jou van waarde was, dan sal die e-boek, Sien Die Verlosser, ook vir jou van waarde wees.
Jy kan dié boekie gratis aflaai en in Heilige Week, dis die week voor Paasfees, gebruik om jou verder te help om jou hart voor te berei vir Paasfees.
My gebed is dat hierdie Paasseisoen vir jou tot groot seën gaan wees en dat jy Jesus sommer nóg liewer gaan kry en dat jy wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het, nog meer gaan waardeer.