
Daar is verskeie seisoene op die jaarlikse Kerkkalender. Almal van hulle is belangrik, maar die belangrikste een is Paasfees. Op Goeie Vrydag onthou ons dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het en so vir ons sondes betaal het. En op Opstandingssondag onthou ons dat Jesus nie in die graf gebly het nie, maar uit die dood opgestaan het. Sonder Sy dood en opstanding, sou daar vir die mensdom geen hoop gewees het nie. Daarsonder sou ons vir ewig van God geskei gewees het. Maar, omdat Jesus vir ons kom sterf het en weer uit die dood opgestaan het, kan ons, deur geloof in Hom, in ‘n verhouding met God staan.
Ek deel vandag graag ‘n paar Goeie Vrydag en Opstandingssondag Bybelverse met jou. Laat God toe om jou deur elke vers te bemoedig, hoop te gee en jou geloof te versterk.
BYBELVERSE VIR GOEIE VRYDAG.
GOD SE LIEFDE VIR SONDAARS.
Johannes 3:16-17: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
HY HET ONS SONDESKULD GEDRA.
Jesaja 53:4-6: “Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom.”
SY WONDE BRING GENESING.
1 Petrus 2:24: “…wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is.”
BESPOT, GESPOEG, GEGéSEL.
Markus 10:33-34: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”
DEUR GOD VERLAAT.
Markus 15:33: “Op die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?'”
JESUS STERF.
Mattheus 27:50-54: “Toe het Jesus weer met ‘n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik Seun van God.””
JESUS STERF VIR SONDAARS.
Romeine 5:6-8: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. ‘n Mens sal nie maklik vir ‘n regverdige persoon sterf nie, al sou ‘n mens dalk nog die moed hê om vir so ‘n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
DRIE DAE IN DIE GRAF.
Mattheus 12:40: “Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
BYBELVERSE VIR OPSTANDINGSSONDAG.
DIE KLIP IS WEGGEROL.
Markus 16:1-4: “Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was ‘n baie groot klip.”
HY HET OPGESTAAN.
Lukas 24:5-7: “Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.'”
GOD HET JESUS OPGEWEK UIT DIE DOOD.
Handelinge 3:14-15: “Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat ‘n moordenaar vir julle begenadig word; maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies.”
DIE APOSTELS GETUIG OOR SY OPSTANDING.
Handelinge 4:33: “Die apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom.”
HY SAL NIE WEER STERF NIE.
Romeine 6:9-10: “Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
EK IS DIE OPSTANDING EN DIE LEWE.
Johannes 11:25-26: “Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?””
GLO, BELY EN WORD VERLOS.
Romeine 10:9: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”
‘N HEMELSE ERFENIS.
1 Petrus 1:3-5: “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.”
GOD SAL ONS OPWEK.
1 Korinthiërs 6:14: “Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek.”
ONS SAL SAAM MET HOM LEEF.
Romeine 6:8: “As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef.”
DIE EERSTE EN DIE LAASTE EN DIE LEWENDE.
Openbaring 1:17-18: “Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”
