BYBELVERSE VIR ADVENT

Bybelverse vir Advent

As jy al ooit in die weke voor Kersfees ‘n erediens bygewoon het, het jy seker al die term ‘Advent’ gehoor. Dit verwys na die vier weke voor Kersfees en is ‘n tyd waartydens ons nadink oor die koms van Jesus. Dis ‘n tyd wanneer ons onsself herinner aan wie Hy is, wat Hy vir ons kom doen het, en wat nou ons s’n is as gevolg van Sy dood en opstanding. Vandag deel ek graag ‘n klompie Bybelverse vir Advent met jou. Gebruik hierdie verse in jou stiltetyd of doen ‘n Bybelstudie daaroor. Vra die Here om jou meer te leer oor Jesus en die Verlossingsboodskap. Vra Hom ook om jou hart voor te berei vir Kersfees sodat jy met die regte gesindheid die feesseisoen ingaan.

PROFESIE.

Die eerste klompie verse wat ek met jou deel, is profesieë oor die koms van Jesus wat ons in die Ou Testament kry. Daar is baie sulke profesieë – hierdie is maar net ‘n handjievol daarvan.

JESAJA 9:1.

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.

JESAJA 9:5-6.

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

JESAJA 11:1-2.

‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

JESAJA 7:14.

Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

MIGA 5:1.

Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!

DIE GEBOORTE VAN JESUS.

Die volgende klompie verse vertel vir ons dele van die verhaal van die geboorte van Jesus.

LUKAS 1:30-33.

Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

LUKAS 1:34-35.

Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.”

MATTHEUS 1:22.

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

LUKAS 2:7.

Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

LUKAS 2:9-14.

Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

VERLOSSING AS GESKENK.

Jesus se geboorte is net een deel van die Verlossingsverhaal. Die ander belangrike gedeelte is Sy dood en opstanding. Daardeur het Hy vir ons vergifnis van sonde, vryspraak, vrede met God, ‘n nuwe lewe, ensovoorts bewerkstelling. En God die Vader bied dit alles as ‘n geskenk vir ons aan. Al wat ons moet doen, is om daardie geskenk deur geloof in Jesus uit Sy hand te ontvang.

ROMEINE 6:22-23.

Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

GALASIëRS 4:4-7.

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

EFESIëRS 2:8-10.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

1 TIMOTHEUS 1:15-17.

Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

TITUS 3:3-7.

Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

FILIPPENSE 2:6-8.

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

JESUS GAAN TERUGKOM.

Soos ek geseê het, is Jesus se geboorte en Sy dood en opstanding dele van die Verlossingsverhaal. Maar daar is nog ‘n deel. Dit is die wonderlike waarheid dat Hy eendag, op die tyd wat die Vader daarvoor bestem het, weer gaan terugkom om ons te kom haal sodat ons vir altyd by Hom kan wees.

JOHANNES 14:1-3.

Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

DANIëL 7:13-14.

My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

OPENBARING 1:7-8.

Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

OPENBARING 22:12-13.

Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

OPENBARING 22:20-21.

Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.

Ek hoop dat hierdie Bybelverse vir Advent iets vir jou beteken het en dat die Heilige Gees hulle gebruik het om jou opnuut te herinner aan al die wonderlike waarhede omtrent ons Verlosser, Jesus Christus.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *