BYBELVERSE OOR GEESTELIKE GROEI

Bybelverse oor geestelike groei

Ek is seker jy het al gehoor dat ‘n kind van God veronderstel is om geestelik te groei. God die Vader wil hê ons moet volwasse Christene word. Hy wil hê ons moet al hoe meer soos Jesus word. Dit mag na ‘n moeilike opdrag klink, maar gelukkig hoef ons dit nie op ons eie te doen nie! Die Vader het die Heilige Gees vir ons gegee om ons daarmee te help.

In hierdie artikel deel ek graag ‘n klompie Bybelverse oor geestelike groei met jou. Gebruik dit om self ‘n Bybelstudie daaroor te doen. Die Bybelvers-studiemetode is ideaal om hiervoor te gebruik.

ROMEINE 8:29:

…want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees…

MATTHEUS 5:6:

Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

2 PETRUS 3:18:

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

HEBREëRS 5:13-14:

Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is ‘n suigeling. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

1 KORINTHIëRS 11:1:

Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.

FILIPPENSE 1:4-6:

Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

1 PETRUS 2:1-3:

Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.

KOLOSSENSE 1:9-12:

Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig.

1 KORINTHIëRS 13:11:

Toe ek nog ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind agtergelaat.

HEBREëRS 6:1-2:

Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, van onderrig oor reinigingsrituele, oplegging van hande, opstanding uit die dood, en van ewige oordeel.

1 KORINTHIëRS 14:20:

Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke.

KOLOSSENSE 3:16-17:

Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.

ERESIëRS 4:11-16:

En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.

Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.

2 KORINTHIëRS 3:16-18:

Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.

1 THESSALONISENSE 3:11-13:

En mag God ons Vader self, en ons Here Jesus, ons pad na julle rig; mag die Here julle liefde vir mekaar en vir almal laat toeneem en oorvloedig maak, soos ons liefde vir julle ook is. Mag Hy julle harte versterk, sodat julle met die koms van ons Here Jesus, saam met al sy heiliges, onberispelik in heiligheid voor ons God en Vader kan wees. Amen.

JOHANNES 15:4-8:

Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.

1 TIMOTHEUS 4:6-8:

Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy ‘n goeie dienskneg van Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof, en die goeie leer wat jy noukeurig navolg. Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe.

2 KORINTHIëRS 5:17:

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.

FILIPPENSE 2:12-16:

Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.

2 THESSALONISENSE 1:3:

Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem.

2 TIMOTHEUS 2:15:

Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as ‘n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui.

Ek vertrou dat hierdie verse jou help om beter te verstaan waaroor geestelike groei gaan. Onthou, dit is om al hoe meer soos Jesus te word. Dis om soos Hy te dink, te doen en te wees. En jy doen dit nie alleen, in jou eie krag nie. Dis die Heilige Gees wat jou laat geestelik laat groei en jou verander sodat jy al meer soos Jesus word.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. baie dankie vir die bybelverse. Dit sluit so mooi aan met die 21 dae bybelstudie wat ek doen om die Here se stem te hoor.

    Geseende mooi dag en week vir jou

    Van Elsa

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *