PAS DIE BYBEL TOE IN JOU LEWE

Pas die Bybel toe in jou lewe

Daar is sommer baie redes waarom ons die Bybel moet lees en studeer. Die grootste rede is omdat ons deur die Bybel vir God leer ken.

In die Bybel leer Hy ons wie Hy is. Ons sien Sy karaktertrekke, wat Hy doen, waarvan Hy hou en nie hou nie. Deur die Bybel leer ons ook hoe Sy stem klink, sodat ons weet wanneer Hy ons deur Sy Gees lei.

Nog ‘n rede waarom ons die Bybel lees en studeer, is sodat ons weet hoe God wil hê ons moet leef.

In Jakobus 1:22 lees ons: “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”

Jy sien, dis een ding om te weet wat in die Bybel staan. Dis iets heel anders om dit uit te leef. Maar dis presies wat ons moet doen.

En wanneer dit by Bybelstudie kom, is dit juis die toepassing-gedeelte wat meeste mense pootjie.

WAT IS TOEPASSING?

As jy al lank by Bybel En Gebed is, sal jy weet ek skryf gereeld dat ‘n mens moet weet hoe jy dit wat jy uit die Bybel geleer het, in jou lewe moet toepas.

Maar wat beteken dit?

Dit beteken eenvoudig dat jy die waarhede wat jy uit die Bybel leer op een of ander manier gaan uitleef.

Om die waarhede uit te leef, kan baie dinge beteken.

Dit kan beteken jy het voorheen iets nie geglo nie. Maar nou het jy die waarheid in die Bybel gesien en nou glo jy dit. Dink maar aan iemand wat nie in Jesus as die Seun van God glo nie. Dan kry hy ‘n Bybel in die hande en lees dit. En met die hulp van die Heilige Gees verander sy ongeloof in geloof en hy word ‘n kind van God.

Om die Bybel in jou lewe toe te pas kan ook beteken dat jy dit wat jy doen, verander. Jy het dalk nog altyd maklik ‘n leuen vertel. Dan lees jy dat God nooit vir mense jok nie en dat jy dit ook nie moet doen nie. As jy daardie waarheid wil toepas, dan hou jy op jok.

‘n Mens pas ook die Bybel toe wanneer jy verander wat jy sê. Jy het dalk nog altyd gesê jy’s ‘n bang mens is wat nie maklik nuwe dinge aanpak nie. Dan lees jy God sê vir Josua dat hy nie bang nie, maar dapper moet wees, want God is by hom. En jy weet dis wat God vir jou ook sê. Jy kan hierdie gedeelte dan in jou lewe toepas deur op te hou sê jy is bang en te sê jy is dapper en kan doen wat God jou beveel omdat Hy by jou is.

Sien jy hoe toepassing werk?

PERSOONLIKE TOEPASSING.

Een ding wat jy moet onthou is dat elke mens die dinge wat hy uit die Bybel leer op ‘n ander manier gaan toepas.

Almal van ons is unieke mense met unieke omstandighede, en daarom is daar nie ‘n ‘one size fits all’ manier hoe ons dit wat ons leer moet toepas nie.

Wanneer jy dus Bybelstudie doen of die Bybel lees en jy leer iets, is dit belangrik dat jy dink hoe jy dit persoonlik moet toepas.

Dis ‘n goeie idee om neer te skryf hoe jy dit gaan doen. Dit gee jou kans om bietjie daaroor te dink.

Moet ook nie vergeet om God te vra om jou te wys hoe jy dit wat jy geleer het moet toepas nie. Jou idee van hoe jy dit moet toepas verskil dalk van Syne, so vra Hom om jou te help.

Skryf jou toepassing in die eerste persoon, met ander woorde, gebruik woorde soos ‘ek’ en ‘my’.

MAAK DIT PRAKTIES.

Die volgende belangrike ding wat jy moet onthou is dat ‘n toepassing prakties uitgevoer moet kan word.

Soms gaan dit beteken dat jy net een stap het om uit te voer.

Ander kere gaan dit beteken jy het ‘n hele projek, met ‘n klomp klein stappe.

‘n Onpraktiese toepassing is byvoorbeeld wanneer jy lees dat jy dit wat God jou mee seën onder andere moet gebruik om ander mee te help (Efesiërs 4:28). Nou besluit jy jy gaan dit in jou lewe toepas deur al jou geld vir die armes uit te deel.

Dis nie baie prakties nie, want waarvan gaan jy en jou gesin leef?

‘n Meer praktiese toepassing sal wees om iemand wat hulp nodig het te identifiseer en dan gereeld te help tot hy nie meer hulp nodig het nie.

IS DIT MOONTLIK?

Soms sukkel ons om iets uit die Woord in ons lewens toe te pas omdat ons dit probeer toepas op ‘n manier wat nie moontlik is nie.

Dalk het God jou oortuig dat jy hierdie jaar meer gereeld jou Bybel moet lees. Jy is nou so vuur en vlam dat jy besluit om sommer elke dag die hele Bybel deur te lees.

Sien jy dat dit iets is wat nie moontlik is nie?

Maar om te besluit dat jy elke dag ‘n hoofstuk of dalk twee gaan lees, is wel iets wat jy kan doen. Dis iets wat moontlik is.

So maak seker dat jy die Bybel in jou lewe toepas op ‘n manier wat moontlik is.

‘N SPERDATUM.

Laastens is dit party keer nogal ‘n goeie idee om ‘n sperdatum vir jou toepassing te hê.

Dit gaan nie vir alle toepassings werk nie, maar soms is dit tog moontlik.

Jy is dalk iemand wat lief is daarvoor om by die werk besig te lyk, terwyl jy eintlik nie veel meer doen as om op sosiale media rond te hang nie. Dan lees jy in Efesiërs 6 dat jy veronderstel is om jou werk tot eer van die Here te doen.

Jou persoonlike toepassing, met ‘n sperdatum, kan só lyk: Ek gaan ophou om by die werk op sosiale media te wees en my werk begin doen. Ek gaan my kollega vra om aan die einde van die week te vra hoeveel van my werk ek die week klaargemaak het. Ek gaan hom vra om dit elke week te doen.

Sien jy hoe die sperdatum werk? In die geval hierbo beteken dit dat jy ‘n week het om ‘n klomp werk af te handel voor jou kollega jou gaan vra wat jy daardie week gedoen het. Jy het ook jou sperdatum só opgestel dat daar elke week een is.

DIE BYBEL KAN STEEDS TOEGEPAS WORD.

Daar is mense wat dink dat die Bybel nie regtig meer in vandag se tyd toegepas kan word nie. Maar dis nie waar nie.

Elke waarheid wat jy in God se Woord lees, kan op een of ander manier in jou lewe toegepas word. Jy moet net daaroor bid en daaroor nadink en dan neerskryf wat die Here jou wys.

En dan moet jy natuurlik jou toepassing gaan uitleef.

Onthou, as jy net ‘n hoorder van die Woord is, mislei jy jouself.

Maar as jy die Woord hoor en dit dan in jou lewe toepas, sal jy gelukkig wees in wat jy doen (Jakobus 1:25).

So, moenie langer net ‘n hoorder wees nie, maar word ‘n doener van die Woord deur die Bybel in jou lewe toe te pas!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *