HOE LYK ‘N VRUGBARE HART?

Hoe lyk 'n vrugbare hart?

Wens jy jou hart was soos die goeie grond waarvan Jesus in Markus 4 praat? Hier is 6 eienskappe van so ‘n hart – en hoe jy met die hulp van die Heilige Gees só ‘n vrugbare lewe kan leef.

In Markus 4 vertel Jesus die gelykenis van die saaier – ‘n bekende storie, maar een met ‘n diep boodskap. Daarin val die saad – wat die Woord van God verteenwoordig – op vier verskillende soorte grond: op die pad, tussen rotse, tussen onkruid, en op goeie grond. Maar net die saad wat op goeie grond val, kom op, ontwikkel sterk wortels, en bring uiteindelik ‘n oorvloedige oes voort.

Wat maak van iemand se hart “goeie grond”? Hoe kan jy weet of jou hart die tipe grond is waarin God se Woord werklik kan groei?

Kom ons kyk na ses eienskappe van so ‘n hart.

‘n LEERBARE HART.

Goeie grond begin met ‘n nederige hart – een wat besef dat hy God se leiding nodig het. So ‘n hart erken dat menslike wysheid beperk is en is bereid om te leer, te groei, en verander te word.

In Spreuke 1:7 lees ons: “Ontsag vir die Here is die begin van kennis…” ‘n Leerbare hart laat toe dat God se Woord hom vorm en lei – selfs wanneer dit ongemaklik is.

‘n HART WAT VERSTAAN.

Jesus sê self dat die mense wie se harte soos die pad is, die Woord hoor maar dit nie verstaan nie (Mattheus 13:19). ‘n Goeie grond-hart verstaan egter die Woord, nie omdat die persoon so slim is nie, maar omdat hy tyd in God se Teenwoordigheid spandeer en die Heilige Gees toelaat om hom te help verstaan.

Spreuke 3:5 herinner ons: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie.” Die Heilige Gees is ons Leermeester. As jy Hom vertrou en stil raak in God se Woord, sal Hy jou verstand verlig. Hy sal, as’t ware, lig op die onderwerp werp!

‘n HART WAT DIE WOORD OORDINK.

‘n Vrugbare hart laat nie toe dat God se Woord by die een oor in en by die ander een uitgaan nie. So ‘n hart oordink die Woord. Dink aan Psalm 1:2, waar daar staan: “maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.”

Wanneer jy nadink oor wat jy gelees het, maak jy plek vir die Heilige Gees om die Woord diep in jou hart te bêre. Baie mense vind dit help om hulle gedagtes neer te skryf, dalk in ‘n joernaal of sommer net in ‘n notaboek. Dit is in hierdie stille nadink waar die Woord wortel begin skiet.

‘n HART WAT GEVORM KAN WORD.

Die Woord is nie net daar om ons op te bou nie – dit is daar om ons te vorm, te snoei en soms te konfronteer. 2 Timoteus 3:16-17 sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer…om verkeerdhede reg te stel… sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

‘n Goeie grond-hart is dus ‘n hart wat bereid is om getoets en gesnoei te word. Dis ‘n hart wat nie net sê “ja en amen” nie, maar ook sê: “Heer, wys my waar ek moet verander.”

‘n GEHOORSAME HART.

Om die Woord te verstaan en daaroor na te dink beteken niks as dit nie tot aksie lei nie. Jakobus 1:22 waarsku: “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”

‘n Goeie grond-hart is gehoorsaam, selfs wanneer dit opofferings vra. Dit gehoorsaam nie net die dele van die Bybel wat lekker lees of maklik is nie, maar ook die moeilike dele wat vra dat jy jouself verloën, ander vergewe, of jou drome aan God se wil onderwerp.

‘n HART VOL GELOOF.

Uiteindelik is geloof die sleutel wat alles aktiveer. Romeine 10:17 sê: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” Wanneer jy die Woord hoor, verstaan, oordink, daaraan gehoorsaam is en jou hart laat vorm, dan bring dit geloof voort.

Hierdie geloof is wat jou staande hou in tye van beproewing en wat jou laat volhard wanneer ander tou opgooi. ‘n Goeie grond-hart vertrou dat God se Woord sal doen waarvoor Hy dit gestuur het, al sien jy nie dadelik resultate nie.

WATTER TIPE GROND IS JOU HART?

Elke keer as jy met die Woord van God in aanraking kom, is jou hart soos ‘n stuk grond. Jy kies of jy toelaat dat die Woord-saad net bo-op lê en of jy dit gaan toelaat om jou hart binne te dring en wortel te skiet.

Mag jy ‘n hart hê wat leerbaar is, wat die Woord verstaan, daaroor nadink, daardeur gevorm word, dit gehoorsaam en wat vol geloof is. Só ‘n hart sal, in God se tyd, ‘n wonderlike oes oplewer.

DIE WEG VAN WYSHEID.

Psalm 119 is die langste en een van die diepste psalms in die Bybel. Dit is vol wysheid oor God se Woord en hoe dit jou kan help om sterker in jou geloof te staan.

In Die Weg Van Wysheid reis ons vir 22 dae saam deur hierdie psalm.

My doel met hierdie e-boek is om jou te help om hierdie psalm nie net te lees nie, maar om dit te leef. Maak sommer vandag nog ‘n draai in ons aanlyn-winkel en begin jou reis deur Psalm 119 en ontdek die vreugde van ‘n goeie grond-hart en ‘n lewe wat gebou is op en geanker is in God se Woord.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *