PSALM 8 – ‘N LES OOR GEBED

Psalm 8 - 'n les oor gebed

Psalm 8 is ‘n psalm van Dawid. In die 1983-vertaling is die opskrif van dié psalm, Lof Aan Die Skepper. En dis presies wat die psalm is. Daarin bring Dawid lof aan die Here en prys hy Hom vir allerhande dinge.

Toe ek nou die dag die psalm lees, het ek besef dat daar ‘n hele paar lesse oor gebed daarin opgesluit is. Ek wil graag daardie lesse vandag met jou deel.

Maar voor ons daarby kom, kom ons lees net eers die psalm:

Vir die koorleier: met musiek. ‘n Psalm van Dawid.
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,
U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:
skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,
die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

DIE HEERLIKHEID VAN GOD.

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (vs.2).

Dawid begin sy psalm op ‘n pragtige manier. Vir hom was God se Naam, en dus God Self, wonderbaar – of heerlik of magtig, soos dit in die ander vertalings vertaal word.

Dawid se manier van doen is vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons óns gebede moet begin. In plaas daarvan om net met die deur in die huis te val en God te vra vir alles wat ons nodig het, kom ons word eers stil.

Begin jou gebed deur te erken God is wonderbaar, heerlik en magtig. Aanbid Hom vir wie Hy is. Fokus op Sy karaktereienskappe – dinge soos Sy liefde, getrouheid, genade, barmhartigheid, geduld, goedheid, ensovoorts.

DIE KRAG VAN LOFPRYSING.

Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring (vs.3).

Wanneer ons God loof en prys, gebeur daar twee dinge.

  1. Dit fokus ons aandag op Hom in plaas van op ons probleme.
  2. Dit maak die duiwel stil. Hy kan nie verdra dat mense God loof en prys nie. Hy sal eerder vlug as om te staan en luister na gelowiges wat God se Naam besing.

Hierdie versie is dan ook vir ons ‘n voorbeeld van wat ons volgende in gebed moet doen.

Ons het eers gefokus op God en wie Hy is. Nou fokus ons op wat God alles doen. Loof en prys Hom vir al die wonderlike dinge wat Hy in jou lewe doen en gedoen het.

DANKBAARHEID VIR DIE WERKE VAN GOD.

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (vs.4-5).

Ek weet nie van jou nie, maar ek geniet dit om in die aand buite te sit en na die maan en sterre te kyk. Dis veral lekker wanneer daar nie straatligte is nie, want dan sien jy sterre wat jy nie eers geweet het bestaan nie!

As ‘n mens na al die pragtige dinge in die natuur kyk, kan jy nie anders as om God te loof en prys nie. En om te dink dat die Skepper van al daardie mooi dinge omgee vir ons nietige ou mensies!

Om die waarheid te sê, Hy is só lief vir ons, dat Hy Sy Seun gestuur het om die prys vir ons sondes te betaal. Hy het gedoen wat nodig was sodat ons weer in ‘n verhouding met Hom kan wees.

Hierdie gedeelte van Dawid se psalm sê vir my dat daar soveel dinge is waarvoor ons God nie net kan loof en prys nie, maar waarvoor ons Hom kan dankie sê. Dis dan ook wat ons in gebed moet doen. Ons moet onthou wat God alles vir ons doen en gee en Hom daarvoor dankie sê.
 

RUS IN GOD SE TEENWOORDIGHEID.

U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (vs.6).

Het jy al ooit daaraan gedink dat God ons met aansien en eer gekroon het?

In die 1933-vertaling staan dat God die mens met heerlikheid gekroon het. Ek het iemand hoor sê die heerlikheid van God is Sy geopenbaarde Teenwoordigheid.

Dink net daaraan.

Deur die Heilige Gees woon God in elkeen van ons, so Sy Teenwoordigheid is altyd by ons.

Maar is ons altyd daarvan bewus? Dink ons altyd daaraan dat God by ons is, in ons is, en dat Hy belowe het om ons nooit te verlaat nie?

Rus ons ooit in Sy Teenwoordigheid wanneer ons tyd met Hom spandeer in Sy Woord en in gebed?

Die les oor gebed wat ek uit hierdie versie haal is dat ons moet rus in God se Teenwoordigheid. Ons moet iewers in ons gebed stil word, en stilbly, en sommer net by God wees. Ons moet Hom toelaat om ons met Sy liefde te omvou.

Dis wanneer ons stil is in Sy Teenwoordigheid, wat ons Sy stem kan hoor en Hy met ons kan praat.

HERE, EK HET GESONDIG.

U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis (vs.7-9).

Toe God vir Adam en Eva geskape het, het Hy hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28).

Dit is nog steeds God se plan vir ons, dat ons moet heers. Maar ongelukkig maak ons soms ‘n groot gemors daarvan. Ons kyk nie na die skepping nie. Soveel spesies het al uitgesterf as gevolg van dinge wat die mens gedoen het.

Dis hartseer om te dink dat God die aarde, en alles daarop, aan ons toevertrou het, maar ons kyk nie daarna en pas dit op nie. Ons is dus nie besig om te doen wat God ons opdrag gegee het om te doen nie.

En dis waar van elke ander gebied in ons lewens. Ons weet wat God se wil is, wat Sy opdragte is, maar ons ignoreer dit baie keer en doen ons eie ding.

Hierdie gedeelte van Psalm 8 is daarom vir my ‘n herinnering daaraan dat ek nie altyd aan God gehoorsaam is nie. Dis ook vir my ‘n herinnering dat ek my ongehoorsaamheid teenoor Hom moet bely, sodat ek vergifnis kan ontvang.

HOU JOU FOKUS OP GOD.

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! (vs.10).

Dawid eindig sy psalm op presies dieselfde manier as wat hy dit begin het.

Hy het begin deur God te loof en homself te herinner daaraan dat God se Naam wonderbaar is. En nou eindig hy deur presies dieselfde woorde te gebruik.

Ek en jy kan weereens by hom leer en dieselfde doen.

Ons kan ons gebede afsluit deur weereens op God te fokus. Ons moet onsself weer daaraan herinner dat Hy God is, dat Hy groter is as enige probleem wat ons het en dat Hy in staat is om ons te help.

Sluit dus jou gebed af deur God nog ‘n slag te loof en prys vir wie Hy is en wat Hy alles doen.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *