GEBED: GEDAGTES EN BYBELSTUDIE-VERSE

Gebed: gedagtes en Bybelstudie-verse

Gebed is een van die grootste voorregte wat ons as God se kinders het.

Dis iets wat baie intiem is, want ons kom in Sy heilige Teenwoordigheid wanneer ons bid. Dis daar waar ons die geleentheid het om deur Sy Teenwoordigheid en heerlikheid oorspoel te word. En dis ook wanneer ons, veral as dit net ons en God is, ons harte met groot eerlikheid voor Hom kan leegmaak.

Vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor gebed. Ons gaan kyk na die elemente wat daaraan verbonde is en ek gaan vir jou Bybelverse oor elkeen daarvan gee, wat jy kan gebruik om jou eie Bybelstudie oor gebed te doen.

HOEKOM BID ONS?

Daar is baie redes waarom ons kan bid. Maar daar is twee wat belangriker is as enige ander rede.

In die eerste plek bid ons omdat ons na God verlang.

In Psalm 42:2-3 staan: “Soos ‘n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?”

Die woorde wat die psalmdigter gebruik om te sê presies hoeveel hy na God verlang, is treffend. Hy sê hy smag en dors na God.

Volgens die HAT het die woord ‘smag’ twee betekenisse. Dit beteken om weg te kwyn, veral van dors. Dit beteken ook ‘n hewige, vurige verlange. Sien jy hoe beskrywend hierdie twee woorde is van hoe ons oor God moet voel?

In die tweede plek bid ons omdat ons graag by God wil wees en met Hom wil praat.

In Eksodus 33:11a staan: “Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos ‘n man met sy vriend praat.”

Moses was die enigste man wat daardie tyd so ‘n intieme verhouding met God gehad het, want hy was getrou aan God en het Hom volkome vertrou. Nie een van die ander Israeliete het so ‘n verhouding met God gehad nie.

Ek en jy kan egter vandag ook, deur geloof in Jesus, so ‘n verhouding het God hê. Ons kan by Hom wees en met Hom praat, soos vriende met mekaar praat.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: 1 Kronieke 16:10-11; Psalm 105:3-4; Psalm 130:5-6; Spreuke 8:17; Jesaja 26:9; Handelinge 17:27-28; Psalm 27:4; Psalm 73:23-26; Psalm 145:18-20; Jesaja 55:6; Mattheus 18:20.

GEBED EN GELOOF.

Ons het hierbo gesien dat ons ‘n intieme verhouding met God kan hê. Maar dit gaan geloof van ons vra.

In Hebreërs 11:6 staan: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.”

Sien jy dit?

Wanneer ons in gebed na God toe kom, moet ons glo dat Hy regtig bestaan. Ons moet ook glo dat Hy ons gaan beloon omdat ons Hom soek.

Hoe beloon Hy ons?

Met Sy wonderlike Teenwoordigheid.

Verder moet ons ook seker maak dat ons gebede met opregte geloof en eerlikheid gebid word.

In Mattheus 6:7 staan: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor word.”

Dis nie hoe lank ons gebede is wat maak dat God ons hoor en ons gebede antwoord nie. Dis wanneer ons dit met geloof bid.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Mattheus 21:21-22; Markus 11:22-24; Efesiërs 3:12; Hebreërs 10:22; Jakobus 4:1-6.

Is jy op soek na ‘n Bybelstudie om hierdie jaar te doen? Kyk dan gerus na die Bybelstudie oor Jesus se gelykenisse. Dit gaan jou nie net meer oor Sy gelykenisse leer nie, maar ook hoe om self Bybelstudie te doen.

GEBED VERANDER JOU.

Iemand wat na God toe kom en onthou wie Hy is, word verander wanneer hy bid.

Hoekom?

Omdat hy in die Teenwoordigheid van die lewende God staan. Hierdie God is ‘n heilige en magtige God. Hy is ‘n God vol genade, barmhartigheid en trou.

Wanneer ons na Hom toe kom in gebed, omvou Hy ons met Sy liefde en trou. Dis iets wat vir ewig staan, iets wat nooit gaan ophou nie.

In God se Teenwoordigheid besef ons ook hoe groot Hy is en dit vul ons met dankbare toewyding.

En laastens besef ons in gebed dat alles net genade is.

‘n Mens kan dus nie anders as om te verander wanneer jy in gebed voor God verskyn nie.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Psalm 117:1-2; Openbaring 4:8; Openbaring 15:3-4; Jona 1:16; 2:1-2; 7-9; Psalm 123:1-2; Hebreërs 4:16.

GEBEDSPOSISIES.

Die Bybel leer ons dat daar verskeie posisies is waarin ons kan wees wanneer ons bid.

Ons kan sit, staan, kniel en ons hande uitstrek na bo.

Ons hoef ook nie noodwendig ons hande te vou of ons oë toe te maak nie. Om die waarheid te sê, nêrens in die Bybel staan daar dat ons ons oë moet toemaak wanneer ons bid nie! Meeste van ons doen dit dalk omdat dit ons help om gefokus te bly op dit waarmee ons besig is. As my oë nie toe is nie, gaan ek verseker dinge raaksien wat my aandag kan aftrek!

VERSE VIR BYBELSTUDIE: 2 Samuel 7:18; 1 Kronieke 8:54; Lukas 22:41; Efesiërs 3:14; 1 Samuel 1:26; Markus 11:25; Eksodus 9:29; Psalm 141:2.

WANNEER MOET ONS BID?

In die Bybel lees ons van verskeie tye wat mense gebid het.

Ons lees dat Jesus vroeg in die oggend gebid het: “Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na ‘n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid” (Markus 1:35).

In Daniël 6:11 lees ons die volgende oor Daniël: “Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op ‘n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.”

En laastens lees ons dat daar mense was wat sommer die hele nag gebid het: “‘Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.’ Samuel was ontsteld en het die hele nag na die Here om hulp geroep.”

Nêrens lees ons dat ons spesifiek op hierdie tye moet bid nie. Dis maar net ‘n manier om te sê dat ons gedurig kan en moet bid (1 Thessalonisense 5:16-17).

Dit maak dus nie saak waar ons is of waarmee ons besig is nie, ons kan altyd in gesprek met God wees.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Psalm 5:4; Psalm 55:17-18; Lukas 2:37.

MEER OOR GEBED.

Daar is nog baie meer wat ons oor gebed kan leer, maar hierdie artikel raak nou ‘n bietjie lank. Dus los ons dit vir die volgende artikel.

Dan gaan ons gesels oor dinge soos aanbidding, lofprysing, voorbidding, sondebelydenis en gebedsverhoring.

Deel hierdie blad

3 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *