GEESTELIKE DOELWITTE VIR 2023

Geestelike doelwitte vir 2023

Die begin van elke jaar is gewoonlik die tyd wanneer mense dink oor wat hulle in die nuwe jaar wil bereik. Baie gelowiges het jaar na jaar die doelwit om nader aan God te kom. Maar aan die einde van die jaar kyk jy terug, en sien dat jy nie veel reggekry het wat dit aan betref nie.

As jy jou kop ‘ja’ geskud het, toe jy die vorige sin gelees het, dan gaan hierdie artikel jou help.

Jy sien, om maar net te sê jy wil nader aan God kom, is baie vaag. Hoe beplan jy om nader aan Hom te kom? Gaan jy ‘n Bybellees- of ‘n Bybelstudie-roetine begin? Watter nuwe gewoontes gaan jy aanleer om jou hiermee te help?

Die rede waarom ons nie altyd vorentoe geweeg met ons doelwitte nie, is omdat ons nie ‘n plan van aksie het nie.

Ons weet nie watter stappe ons gaan volg om by ons einddoel uit te kom nie.

En dan misluk ons en sê dat doelwitte nie regtig vir ons werk nie.

Maar dit hoef nie so te wees nie. Elkeen van ons het die vermoë om ‘n geestelike doelwit, of dalk selfs meer as een, te stel en dit te bereik.

Al wat nodig is, is dat ons die regte stappe neem of die regte gewoontes aanleer.

HOE OM GEESTELIKE DOELWITTE TE STEL.

Dit maak nie saak of dit ‘n geestelike doelwit of ‘n ander doelwit is wat jy wil stel nie, voor jy besluit wat jou doelwit is, doen eers die volgende.

VRA VIR LEIDING.

Daar is soveel verskillende geestelike dissiplines wat ‘n mens kan gebruik, dat dinge soms bietjie oorweldigend raak.

Dan is dit ook so dat God soveel beter weet as ons wat ons op enige gegewe stadium nodig het sodat ons geestelik kan groei.

Voor jy dus jou geestelike doelwitte vir die jaar opstel, word eers stil by Hom.

Vra Hom om jou daarmee te help.

In Psalm 37:4 staan: “Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.” Ek glo vas hierdie vers beteken, onder andere, dat ons God moet vra om Sy drome en ideale vir ons in ons harte te kom lê. As ons Hom vertrou om dit te doen, kan ons drome droom en doelwitte stel wat volgens Sy wil vir ons lewens is.

So vra Hom om Sy drome, Sy ideale, Sy doelwitte vir jou lewe in jou hart te lê. Vertrou Hom dat Hy jou hoor en dat Hy dit sal doen.

DIE JAAR WAT VERBY IS.

Daar word gesê dat ‘n mens nie die verlede kan verander nie, maar jy kan daaruit leer.

Jou volgende stap is om terug te kyk na die jaar wat verby is.

Watter geestelike doelwitte het jy vir die jaar gehad?

Het jy hulle bereik? As jy het, wat het jy gedoen om hulle te bereik? Is dit iets wat jy kan gebruik vir jou doelwitte vir die volgende jaar?

As jy nie jou doelwitte bereik het nie, waarom het jy dit nie bereik nie? Het jy dalk nie ‘n plan gehad nie? Was daar te veel dinge wat jy wou doen? Hoe kan jy, wat jy hieruit leer, in die volgende jaar gebruik?

GEBRUIK JOU VERBEELDING.

Volgende gaan jy ‘n bietjie jou verbeelding gebruik.

Maak jou oë toe en dink oor jouself en jou lewe ‘n jaar van nou af.

Hoe lyk jou geestelike lewe?

Droom so ‘n bietjie oor wat jy in die volgende jaar in jou geestelike lewe wil bereik.

Dit sal jou help om jou doelwitte in kleiner, uitvoerbare stappe af te breek.

Maak ‘n lys van dié dinge wat jy wil bereik.

MAAK DIE STAPPE KLEINER.

Soms het ‘n mens so ‘n groot doelwit, dat dit lyk asof jy dit nooit gaan bereik nie.

Maar onthou jy hierdie wyse woorde: Hoe eet ‘n mens ‘n olifant? Happie vir happie.

Nou-ja, met groot doelwitte – en selfs ook die kleineres – werk dit ook so.

‘n Mens doen dit stukkie vir stukkie.

Nadat jy jou lysie van geestelike doelwitte gemaak het, is dit tyd om dit in kleiner stappe af te breek.

Maak die stappe so klein en eenvoudig as moontlik. As ‘n stap nog oorweldigend lyk, beteken dit dat jy dit nog nie klein genoeg afgebreek het nie. Hou aan om dit kleiner en kleiner te maak totdat jy met ‘n klompie stappe sit wat jy maklik kan uitvoer, sonder om gestres te raak daaroor.

VORDERING, NIE PERFEKSIE NIE.

Daar gaan dae wees waar jy nie veel aan jou geestelike doelwitte gaan werk nie.

En dis, soos die Engelse sal sê, ‘okay’.

Moenie te hard wees op jouself wanneer dit gebeur nie.

Onthou, vordering is wat saakmaak, nie om dinge perfek te doen nie.

Onthou ook dat dit nie altyd die bestemming is wat ‘n mens die meeste vreugde verskaf nie. Daar is net soveel, indien nie meer, vreugde in die reis op pad na die eindbestemming.

So, as jy vir ‘n dag of wat nie aan jou geestelike doelwitte werk nie, moenie daaroor ontsteld raak nie. Gaan net weer aan waar jy opgehou het. Doen die volgende stap en die volgende een, en kort voor lank het jy baie verder gevorder as wat jy gedink het moontlik was.

IDEES VIR GEESTELIKE DOELWITTE.

As jy nie seker is watter geestelike doelwitte jy vir die jaar wil stel nie, kan hierdie idees jou help.

DIE BYBEL IN JOU LEWE.

‘n Goeie geestelike doelwit is om elke dag tyd in die Bybel te spandeer.

Jy hoef nie hoofstukke op ‘n slag te lees nie. Net ‘n paar verse is ook waardevol. Jy kan die Bybel van voor tot agter deurlees. Of jy kan vir jou ‘n leesplan kry en elke dag die gedeelte vir die dag lees.

Jy kan ook besluit om te begin om Bybelstudie te doen. Hier by Bybel En Gebed is daar baie hulpmiddele wat jy kan gebruik om jou daarmee te help.

JOU GEBEDSLEWE.

Maak gebed ‘n daaglikse dissipline. As jy nie gewoond is daaraan om elke dag te bid nie, kan hierdie na ‘n moeilike doelwit klink. Maar dit hoef nie te wees nie.

Begin met net ‘n paar minute in die oggend of in die aand. Hoe meer jy bid, hoe makliker gaan dit word. Maak ‘n lysie van dinge waarvoor jy wil bid. Dit sal jou help wanneer jy nie weet wat om te bid nie.

Onthou ook om elke dag vir ‘n rukkie net stil te wees wanneer jy bid. Luister of God iets deur Sy Gees vir jou sê. Aan die begin gaan jy dalk nie veel hoor nie, maar moenie moed opgee nie. Hou aan om dit te doen. Jy sal naderhand leer om God se stem te herken.

‘N GEESTELIKE JOERNAAL.

As jy lief is daarvoor om te skryf, is ‘n geestelike joernaal dalk net die ding vir jou.’

In dié joernaal kan jy skryf wat God jou leer wanneer jy met die Bybel besig is. Jy kan neerskryf wat Hy vir jou sê wanneer jy stil na Hom luister. Of jy kan skryf hoe jy God in jou lewe sien werk.

Jou joernaal is ook ‘n goeie plek om dinge neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. En natuurlik kan jy jou gebede daarin skryf voor jy dit tot God bid.

So ‘n geestelike joernaal is iets kosbaars, want jy kan dit elke nou en dan uithaal en weer lees. Jy kan dit ook vir jou kinders of kleinkinders nalaat sodat hulle kan sien wat God in jou lewe gedoen het.

LEES GEESTELIKE BOEKE.

Nie almal hou van lees nie, maar as dit iets is wat jy graag wil doen, is dié doelwit iets wat jy kan probeer.

Daar is baie boeke op die mark wat ons iets oor een of ander geestelike onderwerp leer.

Maak ‘n lysie van onderwerpe waarvan jy meer wil weet. Kry dan vir jou boeke daaroor.

Moenie net die boeke lees nie. Onderstreep dinge wat vir jou uitstaan. Maak aantekening in die kantlyn. Kyk hoe jy dit wat jy leer, in jou lewe kan toepas.

KERKLIKE AKTIWITEITE.

Nog ‘n doelwit wat jy kan stel is om aktief deel te neem aan die aktiwiteite by die kerk.

As jy ‘n erediens bywoon, neem deel. Sing jou hart uit. Neem notas oor die preek. Sorg dat jy nie net in liggaam daar is nie, maar dat jy regtig aandag gee aan dit wat gebeur.

Jy kan ook besluit om deel te neem aan die ander aktiwiteite wat by die kerk aangebied word.

Het julle ‘n Bybelstudie-groep in die gemeente? Word deel daarvan.

Hou julle basaar? Bied aan om by een van die stalletjies te werk.

Gaan van die gemeentelede soms op uitreike? Gaan volgende keer saam.

Jy kan Sondagskool hou, diens doen by die deur, help geld tel na die erediens, ensovoorts.

Probeer elkeen van die aktiwiteite ten minste een keer, sodat jy kan sien of dit iets is waarvan jy hou. Een van dié dinge is dalk presies waar God jou in jou plaaslike gemeente wil gebruik.

GEE VAN JOUSELF.

Jesus het vir ons die voorbeeld gestel dat ons van onsself vir ander moet gee.

Hy het Sy tyd gegee, wat beteken Hy het van Homself gegee, want jou tyd is jou lewe.

Ons moet dieselfde doen deur ook vir ander van ons tyd te gee.

Jy kan byvoorbeeld gereeld by die ouetehuis ‘n draai maak en bietjie met die bejaardes gesels en kuier.

Of jy kan aanbied om by julle plaaslike sopkombuis uit te help.

As daar ‘n enkelmamma naby jou bly, kan jy aanbied om so nou en dan na haar kinders te kyk, sodat sy bietjie tyd alleen kan spandeer.

Jy kan ook vir die bejaardes wat in jou omgewing bly, gaan inkopies doen.

Daar is soveel dinge wat ‘n mens vir ander kan doen om so die lewe vir hulle makliker te maak.

Dink aan dinge wat jy wil doen, maak ‘n lysie, en doen dan elke week of maand iets op jou lysie.

NOG IDEES.

Hierdie is maar net ‘n paar idees van geestelike doelwitte wat jy vir jaar kan stel.

Hier is nog ‘n paar:

Leer die gewoonte aan om mense dadelik te vergewe. Dit sal jou verhoudings verbeter en jou vrede in jou hart gee.

Praat gereeld deur die dag met God. Stel die alarm op jou selfoon om elke uur af te gaan en word dan vir ‘n paar minute stil by die Here. Jy sal naderhand nie meer die alarm nodig hê om jou te herinner om dit te doen nie.

Gee gereeld finansieel vir liefdadigheid of vir een of ander bediening wat jou na aan die hart lê.

Begin ‘n dankbaarheidsjoernaal. Skryf elke dag drie tot vyf dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Probeer om nie dieselfde dinge oor en oor neer te skryf nie. Dit sal jou help dinge waarvoor jy dankbaar kan en moet wees, te begin raaksien.

Leer die gewoonte aan om oor God se Woord na te dink. Dit gee die Heilige Gees die geleentheid om jou meer oor ‘n gedeelte in die Bybel te leer.

DIE KEUSE IS JOUNE.

Net soos met ander doelwitte is dit jý wat moet besluit wat jou geestelike doelwitte gaan wees. Gebruik die idees hierbo of dink aan jou eie idees. Maak net seker dis iets wat jy graag wil doen en wat jou geestelik gaan laat groei.

Maak ‘n punt daarvan om elke einde van die maand weer na jou doelwitte te kyk om seker te maak jy maak vordering.

Onthou, ‘n mens verander nie oornag nie. Moet dus nie moed opgee as jy nie dadelik verandering sien nie. Hou aan om die klein stappe wat jy neergeskryf het in jou lewe toe te pas.

Mag 2023 dié jaar wees waar jy elke geestelike doelwit wat jy gestel het, met God se hulp bereik!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *