
Gebruik hierdie eenvoudige metode in jou Bybeltyd om jou te help om te leer om na God te luister sodat weet wanneer Hy met jou praat.
Ek weet nie van jou nie, maar ek sukkel soms om die Here te hoor. Nee, eintlik is dit nie regtig die probleem nie. Ek hoor, want die Here het belowe almal wat aan Hom behoort, hoor Sy stem. Die eintlike probleem is dat ek soms mis wat die Here vir my sê omdat ek te besig is. Ander kere hoor ek, maar ek is nie seker dis die Here wat met my praat nie.
Sukkel jy ook hiermee? Dan is jy vandag op die regte plek, want die Bybeltyd-metode waaroor ons gaan gesels, gaan jou daarmee help. Dit gaan jou help om stil te word by die Here en op Hom te fokus. Dit gaan jou ook help om Sy stem te leer ken. En verder gaan dit jou help om te leer om te luister, sodat jy nie, wanneer Hy met jou praat, dit mis nie. Laastens gaan dit jou ook leer om die verwagting te hê dat die Here wel met jou gaan praat.
Die metode is sommer baie eenvoudig, so eenvoudig dat jy dit selfs vir jou kinders of kleinkinders kan leer.
STAP 1: PRAAT.
Begin deur vir ‘n paar minute met die Here te praat.
Vertel vir Hom hoe lief jy vir Hom is. Of sê vir Hom dankie vir een van Sy karaktertrekke, waarvoor jy dankbaar is.
Jy kan ook verse uit die Bybel, wat vir ons vertel wie Hy is, gebruik en tot Hom bid. Psalm 34:9 en Hebreërs 11:6 is is twee verse wat jy kan oorweeg.
STAP 2: VRA.
Die volgende stap is om die Here te vra om met jou te praat.
Net soos met die vorige stap, kan jy hier jou eie woorde gebruik. Maar jy kan ook ‘n vers uit die Bybel gebruik en tot Hom bid.
1 Samuel 3:10 is ‘n vers wat hier lekker gaan werk. Daar staan: “Praat, Here, u dienaar luister!”
Of wat van Psalm 85:9? Daar staan: “Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien.” (Hierdie een sal jy in ‘n gebed moet verander, maar dis nie moeilik nie, so probeer dit.)
STAP 3: LEES.
Volgende gaan jy ‘n gedeelte in die Bybel kies, wat jy wil lees.
Dit hoef nie ‘n hele hoofstuk te wees nie. ‘n Kort gedeelte is eintlik beter.
Lees die gedeelte stadig deur. Jy kan, as jy wil, dit twee of drie keer deurlees, maar een keer is ook genoeg.
STAP 4: LUISTER.
Meeste van ons het die gewoonte om, na ons die Bybel gelees het, dit toe te maak en aan te gaan met ons dag.
Maar dis nie wat jy nou gaan doen nie!
Nee, die volgende stap is om vir ‘n paar minute stil te sit en na God te luister.
Sit gemaklik en maak sommer jou oê toe, sodat dit wat jy rondom jou sien, nie jou aandag kan aftrek nie.
Na jy vir ‘n paar minute geluister het, kan jy jou oë oopmaak en neerskryf wat die Here vir jou gesê het.
Dalk dink jy dat die Here nie regtig met jou gepraat het nie, maar dis nie waar nie. Enige iets wat in jou gedagtes opgekom het, kan van Hom af wees. So skryf dit alles neer. Jy kan later weer daardeur gaan en Hom dan vra om jou te help om raak te sien watter van die dinge wat jy neergeskryf het, van Hom af kom.
STAP 5: ONDERSOEK.
Die volgende stap is om weer ‘n slag na die gedeelte wat jy gelees het, te kyk en die volgende vrae daaroor te antwoord.
- Waaroor gaan die gedeelte? OF Wat het in die verhaal gebeur?
- Wat leer dit my oor God?
- Hoe is God? (Soek na byvoeglike naamwoorde, Name, of karaktereienskappe wat God beskryf om hierdie vraag te antwoord.)
- Wat doen God? (Dink hier aan werkwoorde, aksies en handelinge of emosies wat op God van toepassing is.
- Wat, dink ek, probeer die Here vir my sê?
STAP 6: PRAAT.
Jy gaan jou tyd met God afsluit soos jy dit begin het – deur met Hom te praat.
Sê vir Hom dankie dat Hy met jou gepraat het en dat Hy jou meer oor Homself geleer het.
As jy dit wat Hy jou geleer het al in jou lewe ervaar het, sê vir Hom dankie daarvoor.
En as jy dit nog nié ervaar het nie, vra Hom om Homself aan jou te openbaar sodat jy ook hierdie deel van Sy karakter, of wat dit ookal is, in jou lewe kan ervaar.
BYBELGEDEELTES OM MEE TE BEGIN.
As jy graag hierdie Bybeltyd-metode wil gebruik en leer om na God te luister, kan jy met die volgende Bybelgedeeltes begin:
Psalm 23
Psalm 103:1-5
Johannes 15:1-5
Jesaja 40:18-31
Filippense 4:4-9