OM DIE BYBEL PRAKTIES UIT TE LEEF

Bybel prakties uitleef

Het jy al ooit ‘n opdrag in die Bybel gelees, of dit in ‘n preek of lering gehoor, en jou onmiddellike gedagte was: “Here, ek wil regtig graag aan U gehoorsaam weet, maar ek is nie so seker hoe ek dit moet doen nie!”?

Ek het agtergekom daar sekere opdragte in die Bybel wat baie ingewikkeld klink, maar wat nie regtig ingewikkeld is nie. Dis nou as iemand net die moeite doen om prakties te verduidelik hoe ‘n mens veronderstel is om dit uit te voer!

Vandag wil ek drie van hierdie opdragte met jou deel. Ek wil ook die ‘hoe om dit te doen’ verduidelik. Ek het elkeen van hierdie ‘hoe om…’-verduidelikings by iemand anders gehoor, so moenie my krediet gee daarvoor nie! Maar ek glo dit sal jou help in jou verhouding met die Here, sodat jy die volgende drie opdragte, prakties kan uitleef.

WANDEL DEUR DIE GEES.

Die eerste opdrag kry ons in Galasiërs 5:16. Daar staan: “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie…” (OAV). In van die Engelse vertalings staan daar baie keer, “Walk in the Spirit…”

Jare gelede het ek ‘n verduideliking van Andrew Wommack gelees, wat my gehelp het om presies verstaan het wat ek moet doen om deur (in) die Gees te wandel.

Ons wandel deur of in die Gees deur “te leef volgens, ons dade te rig volgens en die leiding van die Woord van God te volg soos dit deur die Heilige Gees aan ons geopenbaar word.”

Dit is eintlik so eenvoudig en maklik. Gehoorsaam net die Woord van God, want Jesus het gesê Sy woorde is gees en lewe (Johannes 6:63). Wanneer ons dus aan die Woord gehoorsaam is, gee ons die Heilige Gees deur ons gees beheer oor ons lewens. En dan vervul ons nie die begeertes van die vlees nie.

LEES OOK: DIE WOORD VAN GOD

BLY IN DIE WINGERDSTOK.

Die volgende opdrag het Jesus Self vir ons gegee. Dit staan in Johannes 15:5: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Ek het die verduideliking hiervoor ook jare gelede in ‘n dagstukkie deur Joseph Prince gekry.

Jesus sê Hy is die wingerdstok en ons is die lote. Let op dat Hy gesê het ons is die lote, nie dat ons moet probeer om die lote te word nie. As Sy lote hoef ons net in Christus, ons wingerdstok, te bly of te woon.

Maar hoe doen ons dit?

Ons doen dit deur eenvoudig bewus te wees van ons posisie in Christus. Jesus is ons Here en Verlosser, daarom is ons in Hom – dit is ons posisie. Ons is deur God aanvaar omdat ons in die Geliefde is en Hy in ons is.

Die duiwel se groot begeerte is dat ons ons fokus skuif van wie ons in Christus is, na al die dinge wat met ons gebeur. Hy wil hê ons moet fokus op ons ‘kondisie’, in plaas van op ons posisie. Maar om jou fokus op jou posisie in Christus te hou, sal selfs jou ‘kondisie’ verander. Want as jy in Hom bly (jou posisie), dra jy baie vrug.

Herinner jouself daagliks aan jou kosbare posisie in Christus!

LEES OOK: WIE IS EK IN CHRISTUS?

NEEM JOU KRUIS OP.

Die laaste opdrag kry ons in Mattheus 16:24. Daar staan: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg…'”

Oor die jare heen het ek baie verduidelikings gehoor oor wat dit beteken om jou kruis op te neem. Hierdie een van Ron Edmondson het my egter bygebly.

Hy skryf: “Jesus moedig ons aan om Sy kruis voort te dra. Sy agenda. Sy missie. Ons moet die sout van die aarde wees. Ons moet die Goeie Nuus versprei. Ons moet Christus se ambassadeurs vir die wêreld wees, sodat ander Hom in ons kan sien.”

Dis weereens eintlik baie eenvoudig. Leef op ‘n manier wat na Jesus wys en na wat Hy vir mense gedoen het.

Wees Sy hande en voete op die aarde, sodat ander Hom kan sien.

Vertel hulle van die wonderlike dinge wat Hy vir ons, en vir jou spesifiek, gedoen het. Wees Sy getuie.

LEES OOK: OM OOR JESUS TE GETUIG

OPSOMMING.

In opsomming wil ek jou daaraan herinner dat, wanneer jy aan die Woord gehoorsaam is, jy in of deur die Gees wandel.

En wanneer jy gefokus bly op jou posisie in Christus, in plaas van om te fokus op dit wat met jou gebeur, dan is jy aktief besig om in die Wingerdstok te bly.

Onthou ook om Jesus se kruis voort te dra deur ander van Hom te vertel en só te leef, dat hulle Hom altyd in jou kan raaksien.

Ek vertrou dat hierdie verduidelikings jou sal help om prakties te doen wat God ons beveel het om te doen.

Mag Sy Heilige Gees jou vul met Sy krag en jou help om in gehoorsaamheid uit te voer wat Hy ons gesê het om te doen!

Deel hierdie blad

1 comment

  1. Ek is besig as eerte jaar student by die Kollege by die Hugenote Kollege.
    Wil baie graag al die kennis en inligting wat ek kan kry, he sodat dit my kan help met my studies.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *