
Aan die begin van Markus 4 lees ons die gelykenis van die saaier en die tipes grond waarop hy gesaai het. Ons lees ook later in die hoofstuk die verduideliking wat Jesus oor die gelykenis gegee het. Daar is heelwat wat ons uit hierdie gelykenis kan leer.
‘N HART WAT NET HOOR.
Kom ons begin met vers 14. Dit sê: “Die saaier saai die woord.”
Die Woord word in ons lewens gesaai wanneer ons dit hoor. As jy deur die verduideliking lees wat Jesus gee, sal jy sien dis waar, want Jesus sê telkens dat die mense die Woord gehoor het. In Romeine 10:17 lees ons ook geloof kom deur die prediking of Woord wat ons hoor wanneer Christus verkondig word.
Iemand het een keer gesê dat die Here vir hom gesê het dat die Woord nooit bedoel was om stil gelees te word nie, maar hardop, sodat ons dit kan hoor. Daarom is dit ‘n goeie idee om jou Bybel hardop te lees wanneer jy stiltetyd hou.
DIE KEUSE.
Wanneer ons die Woord hoor, het ons ‘n keuse wat ons daarmee gaan doen. Die duiwel is heeltyd op soek na maniere om die Woord by ons te steel, sodat dit nie vrug dra nie. Daarom moet ons baie mooi dink oor wat ons met die Woord doen wat ons hoor.
Wat ons behoort te doen, is om dit te glo en daaroor na te dink, sodat dit in ons harte kan insink. Ons moet ook die Woord wat ons in ons harte het, beskerm, sodat die duiwel dit nie van ons kan steel nie.
Ongelukkig doen ons dit nie altyd nie. Ons hoor baie keer die Woord, en dis al wat ons daarmee doen.
En dis presies wat die duiwel wil hê ons moet doen, want dan is dit vir hom so maklik om die Woord van ons af weg te vat.
Die eerste tipe grond waarvan Jesus gepraat het, is die persoon wat die Woord hoor, maar dis al wat hy doen. Die duiwel kom dan en neem die Woord wat gesaai is, weg: “Daar is mense by wie daar soos op ‘n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is” (vs.15).
‘N HART WAT GLO TOT VERVOLGING KOM.
Dan is daar ander kere wanneer ons die Woord hoor en dit met blydskap aanneem, soos ons in vers 16 lees: “Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan.” Wanneer ons die Woord met blydskap aanneem, stem ons daarmee saam; ons glo dit is waar.
Maar vers 17 sê daar is ‘n tipe grond, of ‘n hart, wat die Woord met blydskap aanneem, maar die persoon laat die Woord nie wortel skiet nie. Daarom hou hy nie lank uit nie. Sodra hy ter wille van die Woore verdruk of vervolg word, word hy gou afvallig.
Dit beteken ons hoor die Woord, ons glo dit is waar. Nou is dit nie so maklik vir die duiwel om daardie Woord te steel nie, so hy moet met ‘n nuwe plan vorendag kom.
Soms gebruik hy ‘n situasie wat strydig is met wat ons glo om ons te oortuig dat die Woord nie waar is nie. Of hy gebruik iemand, soms selfs ‘n familielid of vriend, om teen ons te draai en vir ons te sê die Woord wat ons glo, is nie waar nie. Daardie persoon kan ons selfs spot oor wat ons glo. Wanneer dit moeilik genoeg raak om die Woord te bly glo, vergeet ons liewer daarvan en die duiwel wen die geveg.
Soos jy in vers 17 kan sien, gebeur dit omdat die Woord nooit wortel geskiet het nie. Vir die Woord om wortel te skiet, moet ons daaroor nadink sodat dit deel van ons kan word. Dan maak dit nie saak wat enige ander persoon sê nie; ons sal so gewortel wees in geloof in die Woord, dat hulle ons nie sal kan oortuig om iets anders te glo nie.
DIE HART EN SORGE EN VERLEIDING.
Die derde tipe grond waarvan ons lees, is grond wat vol onkruid is. Dis die persoon wat die Woord hoor, dit glo en daaroor nadink sodat dit in sy hart ingaan. Maar dan laat hy toe dat al die dinge van die wêreld ook in sy hart inkom en die Woord word verstik.
Ek het netnou gesê ons moet die Woord wat ons hoor en in ons harte ontvang, beskerm, want die duiwel is heeltyd op soek na geleenthede om dit te steel. Die hartseer ding is dat hy nie eers altyd hard hoef te werk om dit te doen nie. Ons help hom sommer daarmee.
Let op dat die saad nie die onkruid verstik nie; die onkruid verstik die saad. “Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”
Ons moet dus mooi dink oor dit waaroor ons dink. As ons byvoorbeeld oor die ekonomiese toestand van die land dink, sal ons so bekommerd en bang raak dat ons heeltemal uit die oog verloor dat God belowe het om in al ons behoeftes te voorsien. Die vrees en bekommernis sal daardie waarheid in ons harte verstik en ons sal nie die vrug van daardie Woord dra nie.
‘N HART WAT VRUG DRA.
Die laaste tipe grond is die een wat hoor, glo en die Woord toelaat om wortel te skiet deur dit te bestudeer en daaroor na te dink. Dis iemand wat die Woord teen die duiwel en die wêreld beskerm en dan vrug dra.
Jy sien, die Woord dra vanself vrug, maar dit moet gehoor word, dit moet geglo word en in ons harte geplant word, en dit moet beskerm word. Dit is ons werk. As ons dit doen, sal die Woord elke keer vrug dra.
Jy is dalk nie iemand wat graag tuin maak nie – ek is glad nie! Maar ons is almal tuiniers waar dit die Woord aan betref.
So, kom ons maak seker dat ons harte goeie grond is. Kom ons maak seker dat ons, met die hulp van die Heilige Gees, doen wat gedoen moet word om die Woord wat ons ontvang te beskerm. Ons mag dalk net verstom staan oor die vrug wat dit ons lewens gaan dra!
NOG ARTIKELS OM TE LEES:
HOE OM ‘N GOEIE GROND HART TE Hê
MARKUS 4: GELYKENISSE VAN JESUS
