
Hier by Bybel En Gebed gesels ons gereeld oor verskillende Bybelstudie-metodes. Een van die metodes waaroor ons al gesels het, is hoe om ‘n agtergrond-studie te doen. In hierdie artikel gaan ek ‘n paar dinge oor 1 en 2 Konings met jou deel, wat jou gaan help wanneer jy so ‘n agtergrond-studie wil doen.
Maar dis nie al nie. Ons gaan ook kyk na ‘n paar ander dinge wat jy oor die twee boeke moet weet. Hierdie dinge sal jou help om die boeke beter te verstaan.
1 EN 2 KONINGS.
In antieke tye was daar nie boeke soos ons dit vandag ken nie. ‘n ‘Boek’ het bestaan uit ‘n boekrol, of dalk selfs twee of drie, wat met die hand geskryf was.
Aanvanklik was 1 en 2 Konings ‘n eenheid, maar die boekrol het te groot en ongemaklik geword, toe is daar besluit om dit in twee dele te verdeel.
DIE NAAM VAN DIE BOEKE.
In Hebreeus staan die twee boeke bekend as ‘Melachim Alef’ en ‘Melachim Bet’. Dit beteken die Boeke Van Die Konings 1 en 2.
WAAR DIE BOEKE AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.
1 en 2 Konings speel op verskeie plekke af.
Die gedeelte oor Salomo speel af in Jerusalem, wat die hoofstad van Israel was.
Dan deel die koninkryk in twee. Nou speel dit af in Samaria, die hoofstad van Israel, en Jerusalem, die hoofstad van Juda.
2 Konings speel weer af in Israel en Assirië (die gedeeltes oor Israel) en ook in Juda en Babilonië (die gedeeltes oor Juda).
Die twee boeke saam dek ‘n tydperiode van ongeveer 420 jaar.
WIE HET 1 EN 2 KONINGS GESKRYF?
Niemand weet regtig wie die twee boeke geskryf het nie. Volgens Joodse tradisie was dit Jeremia. Maar dit is meer waarskynlik dat ‘n hele paar mense daaraan gewerk het. Hulle sou dan ook gebruik gemaak het van bestaande geskrifte soos die Annale van die Konings van Israel en die Annale van die Konings van Juda.
WAT SE TIPE BOEKE IS 1 EN 2 KONINGS?
Vir die moderne leser is die twee boeke historiese boeke. Maar in die Hebreeuse Bybel het dit deel gevorm van die eerste profete boeke.
Die Hebreeuse Bybel is dan ook opgedeel in die Wet (die eerste vyf boeke in ons Bybel), die eerste profete (Joshua, Rigters, 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings) en die latere profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël en die klein profete-boeke).
DIE DOEL VAN DIE BOEKE.
1 en 2 Konings het ‘n tweeledige doel.
In die eerste plek is daar die fisiese doel. Dit gee die geskiedenis van die konings van Juda en Israel weer.
Die tweede doel is geestelik. Uit die twee boeke leer ons dat die mens God se wil moet gehoorsaam, of die gevolge van ongehoorsaamheid dra.
In die tyd toe Konings geskryf is, het God Sy wil vir hulle in die Wet uiteengesit. Hy het ook die profete gebruik om hulle te waarsku.
Vandag het ons die Bybel, God se wil in geskrewe vorm. Dan is daar ook Jesus, die Woord, wat ‘n openbaring van die Vader se wil is.
HOOFTREKKE VAN 1 EN 2 KONINGS.
1 en 2 Konings kan in agt hoofdele verdeel word.
Eerste hoofdeel: Die einde van die troonopvolgerstryd met die dood van Dawid (1 Konings 1-2).
Tweede hoofdeel: Salomo as koning (1 Konings 3-11).
Derde hoofdeel: Twee koninkryke (1 Konings 12-16).
Vierde hoofdeel: Die tyd van Elia (1 Konings 17-22).
Vyfde hoofdeel: Die einde van Elia se tyd (2 Konings 1:1-18).
Sesde hoofdeel: Die era van Elisa (2 Konings 2-8:15).
Sewende hoofdeel: Die era van die konings van twee ryke (1 Konings 8-17).
Agtste hoofdeel: Die era van die ryk van Juda (1 Konings 18-25).
BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEKE.
Hoewel daar oor baie verskillende karakters in die twee boeke geskryf word, is daar ‘n paar persone wat uitstaan.
In 1 Konings is dit mense soos Dawid, Salomo, Rehabeam, Jerobeam, Elia, Elisa, Agab en Isebel.
En in 2 Konings sluit dit vir Naäman, Jehu, Joas, Hiskia, Sanherib, Jesaja, Josia, Sedekia en Nebukadnesar in.
BELANGRIKE SAKE IN 1 EN 2 KONINGS.
In 1 en 2 Konings is daar ‘n paar kernsake wat ons in gedagte moet hou wanneer ons ‘n Bybelstudie oor die boeke wil doen.
- God is die enigste God en daarom verdien Hy dat ons Hom alleen aanbid. Dis dan ook die basis van die verbond wat God met Israel gesluit het. Ongelukkig was daar van die konings, soos Salomo, Jerobeam 1 en Agab, wat afgodediens in Israel begin het. Daar was egter ook konings soos Hiskia en Josia wat probeer het om die volk weer aan te moedig om net vir God te dien. Maar al hulle harde werk is deur hulle kinders ongedaan gemaak.
- Profete en die profetiese woord speel ‘n belangrike rol in Konings. Die profete was lojaal teenoor die koning, maar het nie geskroom om kritiek te lewer wanneer die koning God se woord of wil geminag het nie.
- Israel en Juda se konings word nie gemeet aan die suksesse wat hulle in die politiek, die ekonomie of op militêre gebied bereik het nie. Hulle word beoordeel aan hulle gehoorsaamheid aan God. Het hulle gedoen wat reg of verkeerd was in die oë van die Here? Daar is maar min van hulle wat positief beoordeel is en dit vorm dan ook die basis vir beide ryke se straf.
- Nie Israel of Juda steur hulle aan die voorwaardes van die verbond wat hulle met God gehad het nie. Daarom besluit Hy om hulle te straf deur hulle as ballinge te laat wegvoer. Dit lei tot die vernietiging van Israel, terwyl Juda vir ‘n halfeeu in die vreemde moes woon. God het in die verbond, in Deutronomium 27-28, beskryf wat met dié gaan gebeur wat Sy verbond verbreek. Dis dan ook presies wat met Israel en Juda gebeur.
- Israel en Juda se geskiedenis word in ‘n preek gebruik om die Jode wat in ballingskap was daarop te wys dat hulle ‘n geskiedenis van ongehoorsaamheid en ontrouheid aan die Here het en dat die situasie waarin hulle hulle bevind, die straf daarvoor is.
GELOOFSLESSE UIT DIE BOEKE.
Daar is baie dinge wat ‘n mens uit 1 en 2 Konings kan leer, maar ek wil net die volgende twee dinge noem:
- Leer uit jou foute.
- God is altyd getrou. In Hom het ons altyd hoop op ‘n toekoms, maak nie saak wat se foute ons maak of in watter omstandighede ons is nie. Dis genade.

JESUS IN 1 EN 2 KONINGS.
In Konings sien ons God se getrouheid aan Sy verbond met Dawid. Hy beskerm Dawid se bloedlyn – die bloedlyn waaruit Jesus baie jare later sou kom.
Dan is daar ook twee karakters in Konings wat tipes van Christus is. (‘n Tipe is ‘n karakter in die Ou-Testament, wat in sy persoon of werk ‘n sekere skadubeeld van Christus se persoon of werk vertoon.)
In die eerste plek is Salomo ‘n tipe van Christus in Konings. Sy wysheid, roem, rykdom en eer is ‘n skadubeeld van Jesus se wysheid en Koninkryk.
Dan is Elisa ook ‘n tipe van Christus. Hy lê klem op genade, lewe en hoop.
SLEUTELVERSE IN 1 EN 2 KONINGS.
In 1 Konings is daar twee verse wat as sleutelverse beskou kan word. Die eerste een kry ons in hoofstuk 9:4-5: “En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, met ‘n eerlike hart en in opregtheid, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings nakom, sal Ek jou koninklike troon oor Israel vir altyd laat standhou, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek op die troon van Israel nie.'”
Die tweede een staan in 1 Konings 18:21: “Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” Maar die volk het hom nie met ‘n enkele woord geantwoord nie.”
2 Konings se sleutelverse kry ons in hoofstuk 17:13-15: “Die Here het Israel en Juda by monde van elkeen van sy profete, deur elke siener, gewaarsku: “Draai terug van julle verkeerde paaie af! Kom my gebooie en vaste voorskrifte na, volgens die hele wet wat Ek julle voorouers beveel het en wat Ek by monde van my diensknegte, die profete, aan julle voorgehou het.” Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was so hardnekkig soos hulle voorouers, wat hulle vertroue nie gestel het in die Here hulle God nie. Hulle het sy vaste voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorouers gesluit het, verwerp, ja, sy bepalings waardeur Hy hulle gewaarsku het. Hulle het agter nuttelose afgode aangeloop en self nutteloos geword. Hulle het die nasies wat rondom hulle was, gevolg – nasies oor wie die Here hulle opdrag gegee het om nie soos hulle te maak nie.”
1 EN 2 KONINGS IN ONS LEWENS.
Mense wonder baie keer of die Bybel, veral die Ou Testament, enige waarde in vandag se lewe het.
Hier is ‘n paar belangrike dinge wat ons uit Konings leer, wat steeds op vandag se lewe van toepassing is.
- Soms vra mense die vraag of God regtig by die geskiedenis van ons wêreld betrokke is? Konings is eintlik ‘n preek wat bevestig dat God in en deur die geskiedenis Sy doel met Sy volk en die wêreld bereik. Die geskiedenis van die twee ryke word gebruik om hierdie waarheid te demonstreer.
- God het die mens vrye keuse gegee. Hy openbaar Homself en Sy wil aan ons, maar dan laat Hy die keuse aan ons oor wat ons met ons lewens gaan doen. In Konings sien ‘n mens baie keer die hart van God. Hy is hartseer oor Sy volk se verkeerde keuses, wat noodlottige gevolge het. Hy meng egter nie in nie. Hy het die mens vrye keuse gegee en Hy los hulle (en ons) om self te besluit wat ons gaan doen.
- Die verhaal wat in 1 en 2 Konings vertel word, is een van hartseer en smart, want dis ‘n verhaal van mense. Dinge is vandag nie veel beter nie omdat mense hulle steeds nie aan God en Sy gebod steur nie.
- Uit die lewens van Elia en Elisa leer ons dat God belangstel in die wel en weë van mense. Hy het ook belang by die natuur, want natuurverskynsels word deur Hom bepaal.
- Laastens lees ons in Konings van die oordeel van God. Ons sien dat die tragedie wat Israel en Juda tref nie die gevolg van politieke gebeure is nie. Dis God se straf op sonde. Die straf hou verband met die verbreking van die verbond wat God met die volk gehad het. Die Jode moes saamleef met die gevolge van hulle dade. Ek en jy moet vandag ook saamleef met die gevolge van die dinge wat ons doen.
NET VIR INTERESSANTHEID.
Partykeer is daar dinge omtrent ‘n Bybelboek wat interessant is, en wat ‘n mens nie regtig hoef te weet om die boek te verstaan nie. Hier is ‘n paar van dié interessanthede:
- Die skeiding tussen 2 Samuel en 1 Konings is nie in alle vertalings op dieselfde plek nie. Partykeer is die dood van Dawid deel van 2 Samuel se einde. 1 Konings begin dan by die gedeelte wat in ons Bybels 1 Konings 2:11 is.
- Daar is nie regtig ‘n skeiding tussen die Samuel- en Koningsboeke nie, want dis op een boekrol geskryf. Die enigste rede waarom daar ‘n ‘verdeling’ in afsonderlike boeke is, is omdat die boekrolle meer hanteerbaar te maak. As dit te swaar was, kon dit maklik skeur.
- Konings vorm deel van ‘n groter werk, wat bekend staan as die ‘Deuteronomistiese geskiedwerk’. In die werk word die hele geskiedenis van Israel, van die uittog uit Egipte tot die Babiloniese ballingskap, bespreek. Die skrywers van dié werk se doel daarmee was om te wys dat God jou seën wanneer jy Hom getrou dien en jou straf wanneer jy die bepalings van Sy verbond verwerp. Later het mense egter begin besef dat hierdie teologiese stelling nie in alle omstandighede geldig was nie.
- As ‘n mens Konings en Kronieke lees, lyk dit asof die een net ‘n herhaling van die ander is. Maar die skrywers van die twee boeke het elkeen ‘n ander doel daarmee gehad. Konings is laat in die ballingskap- en/of vroeg in die na-ballingskapperiode geskryf. Kronieke is weer in die Persiese of Griekse tyd geskryf. Hoewel die twee skrywers dieselfde gegewens gebruik, rangskik hulle dit verskillend. Hulle interpreteer dit ook verskillend.
VORIGE ARTIKELS.
Ons het reeds in vorige artikels oor boeke soos Genesis, Eksodus, Deuteronomium, 1 en 2 Samuel, ensovoorts gesels. Ek het skakels na al dié artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om ‘n artikel te kry.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.
