
Daar is iets besonders aan die psalms. Hulle neem ons op ‘n reis van aanbidding, eerlikheid, verwondering en waarheid. Elke psalm wys vir ons iets van God se hart én van ons eie. Psalm 15 is een van daardie kort maar kragtige psalms wat nie net vrae vra nie, maar ook wys hoe ons daagliks in God se teenwoordigheid kan leef.
PSALM 15.
Kom ons lees Psalm 15 saam. Ons lees dit uit die 1933/1953 vertaling van die Bybel:
Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;
wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;
in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die Here vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;
wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.
WIE MAG IN U TENT WOON?
Dawid begin met ‘n vraag wat diep geestelike betekenis dra: Wie mag in God se heilige teenwoordigheid leef?
Die antwoord lê nie in seremoniële reëls of uiterlike godsdiens nie, soos die Israeliete nie Bybelse tyd dit gesien het nie.
Nee, dit lê in ‘n lewe wat gekenmerk word deur opregtheid, geregtigheid en liefde teenoor ander.
OPREGTHEID EN WAARHEID.
Dawid beskryf ‘n lewe waar iemand “met sy hart die waarheid spreek”.
Dit beteken nie noodwindig om Bybelverse aan te haal nie, hoewel dit goed is om God se Woord in jou hart te bêre. Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Lukas 6:45)!
Om die waarheid “met die hart te spreek” beteken ons is liefdevol en eerlik in alles wat ons sê.
Ons skinder nie, verdraai nie die waarheid nie en doen nie ander se naam skade met ons woorde nie. God roep ons om ander te eer en lief te hê met ons woorde.
GETROUHEID – SELFS WANNEER DIT SEERMAAK.
David sê ook dat dié wat God eer, hulle woord hou al is dit tot hulle eie skade.
Hoe kosbaar is dit nie vir die Here wanneer ons integriteit wys nie!
Hy het nog altyd al Sy beloftes wat Hy gemaak het, nagekom. Hy het dit selfs gedoen ten koste van Sy eie Seun.
Daardeur was Hy vir ons ‘n voorbeeld van getrouheid.
OM VRYGEWIG EN REGVERDIG TE WEES.
Psalm 15 prys ook die een wat aan die armes uitleen sonder om rente te vra, en wat nie omkoopgeskenke aanvaar nie.
Ons leef in ‘n wêreld waar geld maklik belangriker as mense word. Maar God se kinders wys Sy karakter wanneer hulle gee sonder om iets terug te verwag, soos God self met ons doen.
WIE Só LEEF, SAL NOOIT WANKEL NIE.
Wat ‘n bemoedigende belofte: Wie hierdie dinge doen, sal nie wankel nie.
Ons veiligheid lê nie in omstandighede nie, maar in ‘n lewe wat op God se Woord en liefde gebou is.
So ‘n lewe is soos ‘n huis op rots – standvastig en onwankelbaar te midde van storms.
LEEF LIEFDE UIT.
Jesus het alles gedoen wat nodig is sodat ons vergewe kon word en regverdig voor God verklaar word. Maar ons word steeds geroep om elke dag die liefde van God uit te leef.
God die Vader het ons so lief gehad dat Hy Jesus vir ons gegee het.
Jesus het ons so lief gehad dat Hy sy lewe vir ons gegee het.
Kom ons volg Hulle voorbeeld en wees lief vir ander en behandel hulle soos ons wil hê dat hulle ons behandel.
