DIE WYSHEID VAN GOD

Gebruik hierdie verse as deel van jou Bybelstudie om jou te help om meer te leer oor die wysheid van God.

die wysheid van God

In Afrikaans het ons ‘n spreekwoord wat lui: Wysheid met die grysheid. Daarmee sê ons dat ‘n mens veronderstel is om wyser te word, hoe ouer jy word.

In meeste gevalle is dit waar, want ons leer uit elke ervaring wat ons het wat ons moet doen en nie moet doen nie. Ongelukkig pas nie almal van ons dit wat ons leer in ons lewens toe nie. En dan help daardie wysheid wat ons deur ervaring gekry het, nou nie juis veel nie.

God se Woord is vol verse oor wysheid. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie verse en wat ons daaruit kan leer.

SPREUKE 1:7.

Ontsag vir die Here is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.

Hierdie vers leer ons wat ware wysheid is. Dit is om ontsag vir die Here te hê.

Wanneer ons ontsag vir die Here het, sal ons ons aan Hom onderwerp en Hom eer.

Met ander woorde, geen mens kan regtig wys wees as hy nie die Here in sy lewe het nie.

SPREUKE 8:1-4.

Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie? Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem. Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit: “Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders.”

Hier sien ons dat wysheid as ‘n vrou uitgebeeld word, wat by die kruisings en by die ingange na die stad gaan staan en mense roep om na haar toe te kom sodat sy hulle kan leer.

Dit sê vir ons dat God Sy wysheid graag met alle mense wil deel. Maar al is Sy wysheid beskikbaar vir enige een wat dit wil hê, gaan dit nie sommer net in ons skote val nie.

JAKOBUS 1:5-7a.

As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie.

Wanneer ons wysheid nodig het, moet ons dit in geloof van God vra.

Dit beteken ons moet glo dat Hy weet wat die oplossing vir ons probleem is. Ons moet ook glo dat Hy vir ons wil, kan en sal wys wat ons moet doen.

Dan moet ons vra en rustig wag tot Hy vir ons wys wat om te doen.

Soms gaan Hy gou vir ons wys wat ons moet doen. Ander kere gaan dit dalk ‘n tydjie neem.

En dit kan selfs gebeur dat Hy nooit vir ons wys om iets te doen nie, omdat ons veronderstel is om Hom te vertrou om die oplossing te bring.

SPREUKE 2:6.

Ja, net die Here gee wysheid, uit Sy mond kom kennis en verstandigheid.

As ‘n mens lank genoeg op hierdie aarde leef, gaan jy agterkom dat daar gereeld situasies opduik wat jy nie verstaan. Jy gaan agterkom dat jou eie insig ver tekort skiet.

Wanneer dít gebeur, moet ons onthou God is ons bron van wysheid.

Ons moet onthou dat, al verstaan ons nie wat aangaan nie, ons God kan vertrou. Ons moet doen wat Spreuke 3:5-6 ons leer.

SPREUKE 3:5-6.

Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

Die Hebreeuse woord wat hier met ‘ken’ vertaal is, is ‘n woord wat met intimiteit te doen het. Dis dieselfde woord wat byvoorbeeld in Genesis 4:1a met ‘gemeenskap’ vertaal word. Ons lees daar: “Die mens het met Eva, sy vrou, gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Kain geboorte gegee.”

Sien jy die intimiteit van die woord?

Spreuke 3:6 sê dus vir ons dat ons die Here intiem moet betrek by alles wat ons doen. Want dit is wanneer ons in ‘n intieme verhouding met Hom is, en Hom betrek by alles wat ons doen, wat ons die wysheid gaan hê om die lewe te leef soos Hy dit bedoel het.

.

NOG VERSE OOR WYSHEID.

Hierdie is maar net ‘n paar verse oor wysheid. Maar daar is nog baie ander waarna ons kan kyk. Baie van dié verse gee vir ons eenvoudige antwoorde op van die vrae wat ons in die lewe het.

JAKOBUS 1:5: VRA GOD VIR WYSHEID.

As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God…

Wat moet jy doen as jy wysheid nodig het? Vra vir God om dit vir jou te gee.

SPREUKE 1:7a: DIE BEGIN VAN WYSHEID.

Ontsag vir die Here is die begin van kennis…

Waar begin ‘n mens wanneer jy wysheid nodig het? Jy begin by God – om Hom te dien en te eer.

SPREUKE 19:8: WAARDEER DIE WYSHEID.

Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind.

Iemand wat regtig wys is, waardeer die wysheid wat die Here hom gegee het.

SPREUKE 16:16: WYSHEID SE WAARDE.

Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer.

Wysheid het baie waarde. Om die waarheid te sê, dit is meer werd as geld of besittings.

EFESIëRS 5:16-17: KOOP DIE TYD UIT.

Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is.

Wysheid is nie net iets wat ons leer of kry nie. Dis iets wat ons elke dag moet gebruik. Ons moet dit toepas in die manier hoe ons lewe en in die besluite wat ons neem.

SPREUKE 2:6: WYSHEID KOM VAN GOD.

Ja, net die Here gee wysheid, uit Sy mond kom kennis en verstandigheid.

God is die bron van wysheid. Daarom is dit belangrik dat ons tyd met Hom spandeer. Ons moet die Bybel lees en tot God bid. Ons kan vir Hom vrae vra en ons moet ook luister wat Hy vir ons wil sê.

JAKOBUS 3:17: DIE EIENSKAPPE VAN WYSHEID.

Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

In hierdie vers sien ons ‘n lys van die eienskappe van wysheid.

Dit is, onder andere, suiwer, vredeliewend, onpartydig, vol deernis.

Sien jy waarom wysheid – ware wysheid – net van God af kan kom?

SPREUKE 4:11: DIE PAD VAN WYSHEID.

Op die pad van wysheid sal ek jou begelei, ek sal jou laat loop op reguit paaie.

Baie keer vra ons God vir wysheid omdat ons leiding in ons lewens nodig het.

Hierdie vers verseker ons dat God ons altyd op die regte pad sal lei.

KOLOSSENSE 4:5-6: WYSHEID IN WOORD EN DAAD.

Tree met wysheid teenoor buitestaanders op, en koop die tyd uit. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.

God wil vir ons wysheid gee sodat ons die regte woorde het om op die regte tyd te sê.

Hy wil ook vir ons wysheid gee om die regte ding op die regte tyd te doen.

EFESIëRS 1:17: KENNIS VAN GOD EN WYSHEID.

Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring wat in die kennis van Hom bestaan…

As wysheid by God begin, dan maak dit sin dat ons, hoe beter ons Hom leer ken, meer en meer wysheid ook kry.

WYSHEID IN SPREUKE.

Ek vertrou dat die verse waaroor ons gesels het, vir jou van waarde was en jou sommer lus gemaak het om ‘n Bybelstudie oor wysheid te doen.

As jy graag so ‘n studie wil doen, is Spreuke ‘n goeie boek om mee te begin.

En die onderwerp-studiemetode is ‘n goeie metode om vir so ‘n studie te gebruik.

Deel hierdie blad

6 comments

  1. hi Risa baie dankie vir die woord oor wysheid mens kom dit baie kort in ons daagliks lewe waar ons moet besluite neem oor baie dinge. Weereens dankie dat God ons paaie laat kruis het. God se rykste seen oor jou

  2. Mre vrou van God ek dank die Here dat ek jou moet ontmoet en ek wil hoor of jy die pad saam met my wil stap want ek is lank opsoek na iemand wat my kan help so baie baie dankie vir aanvaarding die Here seën

    1. Hallo Anita. Ek gaan my bes doen om die pad saam met jou te stap en jou te help om God se Woord beter te verstaan!

  3. Risa, baie dankie vir Bybelstudie oor die wysheid van God. mens kom elke dag te staan voor keuses wat gemaak moet word, maar Hy sal vir ons insig en wysheid gee om regte besluite te neem. God se rykste seen oo jou werk. groete, Elize

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *