DIE BELANGRIKHEID VAN TYD IN DIE WOORD

Dit is van kardinale belang dat ons elke dag tyd in die Woord spandeer. Hoekom? Daar is verskeie redes, maar hier is vyf.

5 Redes waarom tyd in die Woord belangrik is

Ek is seker dat ek nou al die risiko begin loop om daarvan beskuldig te word dat ek aanhoudend oor dieselfde ding skryf!

Maar in sy brief aan die gelowiges in Filippi skryf Paulis, “Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.”

Dus gaan ek myself vandag weer herhaal.

Elke keer wat ek iets lees omtrent Bybelstudie, die memorisering van verse uit die Woord en die oordenking van die Woord, word ek opnuut geraak deur die feit dat ons soveel moontlik tyd in die Woord moet spandeer.

Dit werk nie om maar net een keer ‘n week die Woord te hoor wanneer jy kerk toe gaan nie.

Nee, ons het die Woord elke dag nodig.

Op hierdie stadium is kerktoe gaan ook nie vir almal moontlik is nie. En daarom is dit nóg belangriker om daagliks tyd in die Woord te spandeer.

VYF REDES VIR TYD IN DIE WOORD.

Dalk wonder jy waarom dit so belangrik is om die Woord te lees en te bestudeer.

Wel, daar is eintlik baie redes, maar ek wil vandag net vyf met jou deel.

OM GOD TE KEN.

Ons leer God ken deur Sy Woord.

Hy leer ons wie Hy is en wat Hy doen.

Wanneer jy dus ‘n begeerte het om God te ken, is tyd in die Woord jou antwoord.

Daar is soveel valse dinge wat oor God gesê word, maar in die Woord leer jy die waarheid sodat jy Hom kan ken.

OM JOUSELF TE KEN.

Dit mag snaaks klink, maar die Woord is ook waar jy jouself leer ken.

Eerstens leer die Woord jou wie jy was voor jy Jesus as Verlosser leer ken het.

Dan leer dit jou ook wie jy is noudat jy Jesus ken.

As jy iets omtrent jou nuwe identiteit wil weet, dan gaan soek jy dit in die Woord.

DIE WAARHEID IN DIE WOORD.

Die derde rede waarom tyd in die Woord so belangrik is, is dat dit ons die waarheid leer.

So baie dinge in die lewe is ‘n leuen en kan ons bedrieg.

Daarom het ons die Woord nodig om uit te vind wat die waarheid is.

In Johannes 8:31-32 sê Jesus: “As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Maar hoe kan die waarheid ons vry maak, as ons dit in die eerste plek nie hoor nie?

Tyd in die Woord is dus ‘n noodsaaklikheid as ‘n mens die waarheid wil leer.

OM ANDERS TE DINK.

Ons vind die volgende rede vir tyd in die Woord in Johannes 17.

In verse 15-17 lees ons: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.”

Jesus bid dat die Vader ons van die Bose, van Satan, moet bewaar.

Die duiwel is heeltyd besig om ons te probeer verhinder om God te glo, en hy gebruik enige taktiek tot sy beskikking.

Daar is baie dinge in hierdie wêreld wat spesifiek ontwerp is om ons te beïnvloed sodat ons nie vir God moet glo nie.

Ons het dus nodig dat die Vader ons beskerm teen die invloed van die wêreld.

Hoe doen Hy dit?

Die antwoord staan in vers 17: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.”

God bewaar ons van die duiwel en sy invloed deur die Woord.

Die Woord leer ons om anders te dink as die res van die wêreld.

Almal van ons het te doen met dieselfde probleme. Maar wanneer ‘n gelowige ‘n probleem het, kan hy na die Woord kyk en sê, “Nee, dit is nie hoe die Woord sê my lewe moet lyk nie. Ek glo nie die omstandighede nie, ek glo die Woord.”

Ons geloof in die Woord sal die omstandighede verander sodat dit dieselfde is as wat die Woord sê.

Tyd in die Woord help ons dus om te verander hoe ons dink. Ons lewens gaan anders lyk as die res van die mense s’n wanneer ons dink soos die Woord sê ons moet dink.

GELYK AAN DIE BEELD VAN CHRISTUS.

Die laaste rede waaroor ons vandag gaan gesels, is die feit dat die Heilige Gees die Woord gebruik om ons te verander.

In 2 Korinthiërs 3:18 staan: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Die Vader se begeerte is dat ons al meer en meer soos Jesus lyk.

Die Heilige Gees help ons om Jesus in die Woord te sien. Nie net in die gedeeltes waar daar duidelik oor Hom geskryf is, soos in die Evangelies nie. Nee, Jesus is oral in die Bybel. En die Gees help ons om dit te sien en maak Hom aan ons bekend.

Wanneer ons Jesus in die bladsye van die Bybel sien, het ons die belofte dat die Gees ons sal verander om aan Sy beeld gelyk te word.

Dit gaan egter nie gebeur as ons nooit tyd in die Woord spandeer nie.

SPANDEER TYD IN DIE WOORD.

Ek wil jou weer aanmoedig om elke dag tyd in die Woord te spandeer.

Jy sal nie spyt wees nie, want jy mors nooit tyd deur op een of ander manier met die Woord besig te wees nie.

Spandeer tyd in die Woord sodat God jou kan leer en jou kan wys hoe jy wat jy leer, moet toepas in jou lewens.

Onthou, jy spandeer nie tyd in die Woord om Hom te beïndruk nie.

Jy spandeer tyd in die Woord omdat dit noodsaaklik is vir jou lewe as ‘n kind van God.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *