DIE WAARHEID AS GORDEL OM DIE HEUPE.

Dra die waarheid as gordel om die heupe. Bou jou lewe op die waarheid van die Woord. Die waarheid maak vry.

Die Waarheid as gordel om die heupe

Ek het so drie jaar gelede begin om elke weeksdag Pilates te doen.

In Pilates is daar een woord wat jy omtrent gedurende elke sessie hoor – die woord ‘core’. (Ek het ‘n Afrikaanse woord hiervoor gesoek, maar kon nie een kry wat sin maak nie!)

Om ‘n ‘strong core’ te hê, is baie belangrik vir jou hele liggaam.

Dit beskerm jou teen beserings, help met jou postuur, ensovoorts.

Baie mense verkeer onder die indruk dat sterk maagspiere of ‘n plat magie en dun middeltjie beteken jy het ‘n sterk ‘core’.

Maar volgens Robin Long van The Balanced Life is dit nie die waarheid nie.

Sy skryf: “Building a strong core means strengthening muscle groups related to the glutes, lower back, abdomen (including hip flexors and pelvic floor), adductors (think hips and outer thighs), and the transverse abdominis (deep core stabilizers).”

Dit is sommer ‘n mondvol, maar die punt is dat daar ‘n klomp verskillende spiere is wat geoefen moet word om ‘n sterk ‘core’ te hê.

DIE WAARHEID AS GORDEL.

In Efesiërs 6:10-20 lees ons van die wapenrusting wat God vir elke gelowige gegee het.

Die eerste deel van die wapenrusting is die waarheid as gordel om die heupe.

Net soos wat jy ‘n sterk ‘core’ nodig het om jou te help met verskillende dinge wat jou liggaam aan betref, het jy ook die regte en ‘n sterk fondasie nodig vir jou hele lewe.

Hierdie fondasie is die waarheid van God se Woord.

Sonder die Woord en die waarheid gaan jou lewe in duie stort.

Ons sien dit baie duidelik in Jesus se verhaal in Mattheus 7.

BOU OP DIE ROTS.

In Mattheus 7:24-27 vertel Jesus van twee maniere waarop ons die Woord kan hanteer.

Ons kan dit hoor en ons lewens daarop grond deur dit te gehoorsaam.

As die storms van die lewe dan kom, gaan ons staande bly.

Óf ons kan die Woord hoor en dit ignoreer en nie gehoorsaam nie.

Wanneer die lewenstorms dan kom, gaan ons nie staande bly nie.

In teendeel, ons lewens gaan uitmekaar begin val.

LEES OOK: DIE BELANGRIKHEID VAN TYD IN DIE WOORD

KEN DIE WOORD.

Het jy opgelet dat Jesus sê ‘n mens moet eers die Woord hoor voor jy kan besluit wat om daarmee te doen?

As jy nie weet wat die Woord sê nie, kan jy nie jou lewe daarop bou nie.

En as jy nie die Woord hoor en ken nie nie, sal jy nie die waarheid as gordel om die heupe kan dra nie.

Daar is verskeie manier om die Woord te hoor en dit in te neem en te leer ken.

Bybelstudie is een daarvan.

Aan die bokant van hierdie blad is daar ‘n skakel na ‘n gratis Bybelstudie oor Markus. Kliek daarop, of kliek sommer HIER om elke hoofstuk se studiestuk af te laai.

Laat die Here toe om jou die waarheid in Sy Woord te wys sodat jy dit kan gehoorsaam en so jou lewe op die rots bou.

Maak seker jy het ‘n sterk ‘core’ – die waarheid as gordel om die heupe – sodat die duiwel jou nie met sy leuens bedrieg nie.

Jesus sê in Johannes 8:31-32 “As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik My dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *