DIE GEVOLGE VAN ONGELOOF

Die gevolge van ongeloof is iets waaraan ons nie baie dink nie, maar dit kan verreikende gevolge hê.

Gevolge van ongeloof

Daar is omtrent niks wat ‘n mens in die lewe wat nie een of ander gevolg het nie.

Soms is die gevolge goeie dinge. Dink maar aan die dae toe jy hard geleer het op skool en goeie punte gekry nie. Jou harde werk het iets goeds tot gevolg gehad.

Maar ander kere is die gevolge nié so rooskleurig nie.

Die persoon wat te veel drink, dronk bestuur en ‘n ongeluk veroorsaak se gevolge was nie goeie gevolge nie.

In ons geestelike lewe is daar ook goeie en slegte gevolge van dinge wat ons kies om te doen.

Een ding wat altyd ‘n slegte gevolg het, is ongeloof.

Vandag gaan ons kyk na drie situasies, waar mense gekies het om nié vir God te glo nie, en die gevolge waarmee hulle agterna gesit het.

ADAM EN EVA SE ONGELOOF.

Onthou jy nog die storie van Adam en Eva daar aan die begin van Genesis?

God het hulle in die Tuin van Eden laat woon sodat hulle dit kon oppas en bewerk. Hulle kon van enige boom in die tuin eet, behalwe van die Boom van die Kennis van Goed en Kwaad.

Hierdie boom se vrugte was verbode.

God het ook vir hulle gesê wat met hulle sou gebeur as hulle besluit om van die boom te eet. Sy woorde was: “…want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf” (Genesis 2:17).

En toe kom die slang.

Hy begin met Eva gesels en vra vir haar of God regtig gesê het hulle mag nie van enige van die bome in die tuin eet nie?

Eva help hom reg en dan sê hy: “Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.”

Met ander woorde, God het vir julle gejok. Hy is besig om iets wat wonderlik en goed is, van julle af weg te hou.

Eva glo hom en eet van die vrugte. Sy gee ook vir Adam en hy eet.

DIE GEVOLG VAN HULLE ONGELOOF.

En daar gebeur presies wat God gesê het gaan gebeur.

Hulle gaan nie dadelik fisies dood nie, hoewel dit later ook gebeur het.

Maar iets veel erger gebeur.

Die wonderlike verhouding wat hulle met God gehad het, gaan dood.

Die intimiteit wat tussen hulle en God was, is nie meer daar nie.

En so dompel hulle die hele mensdom in ‘n gemors.

ONS ONGELOOF.

Ons trap almal vandag steeds in die slaggat waarin Eva getrap het.

Net soos sy gekies het om die slang eerder as vir God te glo, kies ons ook baie keer om iets of iemand anders as die Here te glo.

En as ons dít doen, is daar altyd negatiewe gevolge.

Ons moet dus versigtig wees om nie so maklik te glo wat die duiwel ons in ons gedagtes wil wysmaak nie. Ons moet ook nie so maklik glo wat die wêreld en ander mense ons vertel nie.

Wat ons moet doen is om vir God te glo. Hy sal nooit vir ons jok of ons ‘n rat voor die oë daai nie.

ABRAM EN SARAI.

Abraham word die vader van die geloof genoem. Maar toe hy nog die naam Abram gehad het, het hy ook ‘n keer of wat die pad byster geraak wat geloof aan betref.

In Genesis 15 lees ons dat God hom belowe het dat hy ‘n erfgenaam sou hê en dat sy nageslag so baie soos die sterre aan die hemel sou wees.

Dan staan daar dat Abram vir God geglo het.

Ek is seker hy het baie opgewonde vir Sarai vertel wat die Here alles vir hom gesê het. Al staan dit nie so in die Bybel nie, moes sy daarvan geweet het.

Stadig maar seker het die tyd verby gegaan en niks het gebeur nie. Daar was geen teken van ‘n kind en ‘n nageslag nie.

Toe kry Sarai ‘n plan. Sy oortuig, sonder veel moeite, vir Abram om met Hagar, haar slavin, te trou.

Hagar raak swanger en Ismael word gebore.

Dalk het Sarai gedink God het vergeet van Sy belofte. Of dalk het sy gedink sy help Hom om Sy belofte na te kom. Ons weet nie regtig wat sy gedink het nie, maar ons kan sien dat sy getwyfel het aan die belofte van God.

DIE GEVOLG VAN HAAR TWYFEL.

Jare later word Isak gebore, net soos God belowe het.

Op ‘n dag sien Sara, soos haar naam nou was, dat Ismael vir Isak uitlag. Dis een te veel vir haar moederhart en sy sê vir Abraham om vir Hagar en Ismael weg te jaag.

Abraham stem nie saam nie, maar na God vir hom sê dat om dit te wel te doen, maak hy so.

God belowe egter dat Hy vir Ismael ook tot ‘n nasie sal maak omdat hy Abraham se nageslag is.

Hagar en Ismael wat nie meer deel van die familie is nie, is een van die gevolge van Sara se ongeloof en twyfel.

WANNEER ONS TWYFEL AAN GOD SE WOORD.

Ons is ook baie keer skuldig daaraan dat ons twyfel wanneer dit by God se Woord kom.

Sara het gesien hoe die tyd verbygaan en dat daar nie veel gebeur het wat gewys het God gaan Sy belofte nakom nie.

Ons kyk ook baie keer na omstandighede en twyfel dan of God regtig Sy beloftes gaan nakom.

Maar ons sien net wat in die hier en nou gebeur. Ons sien nie die groter prentjie nie en daarom sien ons ook nie hoe God agter die skerms werk nie.

Ongelukkig kies ons dan baie keer om ons eie ding te doen en self ons probleme te probeer oplos in plaas daarvan om op God te bly vertrou.

En wanneer ons dit doen, is daar altyd gevolge waarmee ons sit, wat ons eintlik nie wou gehad het nie.

DIE ISRAELIETE.

In Genesis 12 lees ons dat Abram in Kanaän aangekom het. Hier het God hom belowe dat Hy die land vir sy nageslag sou gee.

Baie jare later gebruik Hy Moses om die Israeliete uit Egipte na die Beloofde Land toe te lei.

Daar aangekom stuur Moses 12 manne om die land te gaan verken (Numeri 13).

Met hulle terugkoms word daar verslag gelewer.

Twee van die manne, Josua en Kaleb, is baie opgewonde oor wat hulle gesien het en sê hulle moet dadelik die land in besit neem. Hulle is oortuig daarvan dat hulle die oorhand sal kry.

Die ander tien is egter nie so oortuig nie. Hulle vertel van die ommuurde stede en die reuse wat hulle gesien het.

En wie kies die Israeliete om te glo?

Jy’s reg, die tien wat ‘n negatiewe verslag gelewer het.

DIE GEVOLG VAN HULLE ONGELOOF.

In Numeri 14, en verder aan, lees ons wat die gevolge was van hulle ongeloof.

Almal wat twintig jaar en ouer was, sou in die woestyn sterf. Eers wanneer daardie geslag uitgesterf het, sou God hulle terugbring na die Beloofde land. Die volgende geslag sou dan die land in besit neem.

Die gevolge van ongeloof in hulle geval het ‘n hele generasie die Beloofde Land ontneem.

ONS ONGELOOF.

Net soos in die vorige twee gevalle, is ons ook geneig om te doen wat die Israeliete gedoen het.

Ons weet wat God belowe het. Maar dan laat ons toe dat ander ons beïnvloed met hulle negatiewe praatjies.

Hoe meer ons na hulle luister, hoe meer verloor ons geloof in wat God gesê het.

Dan sit ons ook agterna met gevolge wat ons nié sou gehad het as ons gekies het om vir God te glo, ongeag die omstandighede.

Uit hierdie drie verhale sien ons hoe gevaarlik dit is om te twyfel of om sommer net nie te glo nie. Ons sien wat die gevolge van ongeloof en twyfel is. En ek is seker jy het jouself ook in een, of dalk in meer as een, van die verhale raakgesien.

On 1 Korinthiërs 10 se eerste gedeelte lees ons van ‘n paar dinge wat met die Israeliete gebeur het. Dan staan daar in vers 11-12: “Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer. Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!”

Laat ons die lesse wat ons uit die drie gedeeltes geleer het, ter harte neem.

Kom ons kies liewer om vir God te glo as om in twyfel en ongeloof die verkeerde ding te doen, wat ernstige gevolge kan hê!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *