
‘n Mens besef dit nie altyd nie, maar ons gedagtes het ‘n groot invloed op die mens wie ons word en die manier hoe ons leef. Wat ons dink, beïnvloed die dinge wat ons glo en ook uiteindelik die dinge wat ons doen. Om die waarheid te sê, wat jy dink bepaal op die ou end die pad wat jy in die lewe volg.
Vir ons as kinders van God is dit belangrik om te besef dat ons self kan besluit waaroor ons dink. ‘n Gedagte kan sommer skielik by jou opkom, maar jy kan steeds besluit of jy daaroor gaan bly dink of nie. Want as jy aan ‘n negatiewe gedagte bly dink, kan dit baie skade in jou fisiese en geestelike lewe veroorsaak. Daarom is dit belangrik om te dink waaroor ons dink of, soos Joyce Meyer sou sê: “You must think about what you think about.”
As jy nog nooit regtig aandag gegee aan wat in jou gedagtes aangaan nie, dan is vandag die ideale tyd om daarmee te begin. Gebruik hierdie 26 Bybelverse oor gedagtes om jou daarmee te help.
LEES OOK: JOU IDENTITEIT IN CHRISTUS – 7 WAARHEDE
PSALM 19:15.
Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.
JESAJA 43:18.
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
PSALM 94:11.
Die Here ken die gedagtes van die mens, Hy weet dit beteken niks.
SPREUKE 3:5.
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.
MATTHEUS 22:37.
Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.”
ROMEINE 8:5-8.
Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.
PSALM 139:23-24.
Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.
SPREUKE 4:23.
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
FILIPPENSE 2:5.
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…
1 KORINTHIëRS 2:11.
Want watter mens ken die dieptes van ‘n mens, behalwe sy eie gees in hom? Net so ken niemand die dieptes van God nie, behalwe die Gees van God.
ROMEINE 12:2.
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
EFESIëRS 4:23-24.
Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
MATTHEUS 6:25.
Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?
JAKOBUS 1:6-8.
Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
ROMEINE 7:25.
Aan God die dank – deur Jesus Christus, ons Here! So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.
1 PETRUS 1:13.
Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.
MARKUS 7:21-22.
Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.
FILIPPENSE 4:6-7.
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
1 KORINTHIëRS 2:16.
“Want wie het die gedagte van die Here geken, om vir Hom te kan voorskryf?” Wat ons betref, ons het die denkwyse van Christus.
ROMEINE 7:22-23.
In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, maar ek sien ‘n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is.
KOLOSSENSE 3:2.
Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie.
MARKUS 12:30.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.
2 KORINTHIëRS 10:4-5.
Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.
ROMEINE 12:3.
3Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.
FILIPPENSE 4:8-9
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
2 TIMOTHEUS 1:7.
Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
DINK WAAROOR JY DINK!
Ek en jy kan elke dag kies waaroor ons dink. Ons kan die wêreld toelaat om ons gedagtes te beïnvloed, of ons kan God en Sy Woord toelaat om dit te doen.
Ons kan kies om die negatiewe gedagtes wat by ons opkom eenkant toe te skuif en te fokus op dit wat opbouend en waar is. As ons dít doen, gee ons God die geleentheid om ons denke te vernuwe en ons lewens te verander.
So, neem vandag nog die besluit om die Woord van God te gebruik as gids vir wat in jou gedagtes aangaan. Laat Sy woord toe om dit wat jy glo en dit wat jy doen te beïnvloed, sodat jy werklik ‘n lewe kan leef wat Sy lig en liefde weerspieël.
