
Hier by Bybel En Gebed gesels ons elke nou en dan oor ‘n Bybelstudie metode wat jy kan gebruik wanneer jy jou Bybel wil studeer. Vandag gaan ons weer so maak. Hierdie keer wil ek jou graag van die ABC Bybelstudie metode vertel. (Jy kan ‘n gratis ABC Bybelstudie-vorm, wat jy tydens jou studietyd kan gebruik, HIER aflaai.)
Die metode kan gebruik word om enige gedeelte in die Bybel te studeer, maar dit werk die beste wanneer die stuk nie te lank is nie.
HOE DIE ABC BYBELSTUDIE METODE WERK.
Begin deur ‘n gedeelte te kies wat jy wil studeer.
As dit in ‘n Bybelboek voorkom wat nie te lank is nie, lees op dag een die hele boek deur.
As die boek egter te lank is, lees op dag een net die hoofstuk waarin die gedeelte staan een keer deur.
Op dag twee lees jy die gedeelte wat jy wil studeer ‘n paar keer deur. Doen dit ‘n keer of wat hardop, as jy kan.
Nadat jy die gedeelte ‘n paar keer gelees het, kan jy begin om die vorm in te vul. Onthou om die gedeelte wat jy studeer weer en weer te lees terwyl jy die vorm invul.
DIE BASIESE UITLEG.
Die basiese uitleg van die vorm lyk so:
A. TITEL.
Die titel wat jy kies vir jou gedeelte moet altyd kort en kragtig wees.
Moenie sommer die titel wat in die Bybel gebruik word, neerskryf nie. Dink jou eie uit nadat jy die gedeelte klaar studeer het. (Dis die beste om hierdie te los tot jy heeltemal klaar is met jou studie.)
B. BESTE VERS.
Watter vers vat die kern van die gedeelte die beste saam? Skryf dit hier neer.
Jy kan ook jou gunsteling vers uit die gedeelte hier neerskryf.

C. UITDAGING OF TOEPASSING.
Elke goeie Bybelstudie metode het ‘n vraag of vrae wat jou help om te sien hoe jy die teks in jou lewe kan toepas. Hierdie is die ABC Bybelstudie metode se toepassingsgedeelte. Hier skryf jy dus neer wat die teks jou uitdaag om te doen.
Vra die volgende vrae om jou te help om die vraag te antwoord:
God – Wat leer die gedeelte my oor God?
Belofte – Is daar ‘n belofte in die gedeelte wat ek moet glo?
Sonde – Is daar ‘n sonde in die gedeelte wat ek moet vermy?
Voorbeeld – Is daar ‘n voorbeeld wat ek moet volg? Of is daar dalk ‘n voorbeeld wat ek liewer nié moet volg nie?
Opdrag – Is daar ‘n opdrag wat ek moet uitvoer?
D. MOEILIKE DINGE.
Nie alle gedeelte in die Bybel is maklik nie. Jy mag dalk iets in die gedeelte wat jy studeer, nie verstaan nie.
As daar iets is wat jy nie verstaan nie, of as daar enige vrae is wat jy oor die gedeelte het, skryf dit hier neer.
Jy kan ook vrae wat ander oor die gedeelte mag vra, hier neerskryf. Antwoord dan die vrae, sodat jy ‘n idee het van wat om te sê as iemand jou met so ‘n vraag konfronteer.
E. KERN.
Dit is goed om ‘n oorsig of ‘groot prentjie’ idee van die gedeelte wat jy studeer het, te hê.
Die maklikste manier om so ‘n oorsig te kry, is om een van twee dinge te doen.
Jy kan die gedeelte wat jy studeer het, in jou eie woorde oorskryf (parafrase).
Jy kan ook ‘n uiteensetting van die gedeelte neerskryf.
Albei is goeie maniere om ‘n ‘groot prentjie’ idee oor die gedeelte te kry.
EENVOUDIG MAAR EFFEKTIEF.
Die ABC Bybelstudie metode is ‘n baie eenvoudige metode, maar dit is ook baie effektief. Dit gaan jou beslis help om die gedeelte wat jy studeer, in meer detail te bekyk.
As jy van hierdie metode hou en jy is op soek na nóg eenvoudige Bybelstudie metodes, dan is die Bybelstudie Metode E-boek net die ding vir jou. Dit is ‘n gratis boekie waarin daar nege ander studiemetodes behandel word.
Vul net jou inligting hieronder in en ek stuur die skakel waar jy dit kan aflaai, direk na jou e-posbus.
Moet ook nie vergeet om die gratis vorm af te laai, wat jy by jou Bybelstudie kan gebruik nie. Jy kan dit HIER doen.
En, as jy bietjie meer wil leer oor drie van die Bybelstudie metodes in die e-boek, kan jy dit hier doen:

Goeie more kind van God as ek mag vra is daar mense wat se hulle is van God af,se dat die vrou niks moet down in die kerk nie net die man maak my so deurmekaar????
Sandra, ek stuur vir jou ‘n e-pos met my antwoord.
goeie dag
ek het so rukkie gelede aangesluit by logos se beginners plan maar dis als in engels en eers het ek gedink ek sal dit baas raak maar my intellek van die engels is duidelik maar beperk en ek het hulle toe gevrae of hulle nie dalk LOGOS ook in afrikaans het nie , maar nie . So het ek begin soek en net uitgevind dat daar bleikbaar in LOGOS 5 n afrikaanse deel was .
my vraag is dan dievolgende het julle nie dalk so n weergawe nie of miskien kan een van julle ondersteuners of medegelowiges dalk nog so n weergawe ,en as hulle het dit miskien met ons kan deel , daar is bleikbaar talryke bybelstudie hulpmiddels in ek hoop my vraag is in orde. Ek sal dit baie hoop op die prys stel as iemand kan help. groete n mede broeder byvoorbaat dank