
Vandag wil ek met jou gesels oor die VOLG-metode. Dis ‘n eenvoudige Bybelstudiemetode wat jou kan help om die Bybel beter te verstaan en die lesse wat jy daaruit leer, in jou lewe toe te pas.
VOLG is ‘n vereenvoudigde vorm van die WIT-Bybelstudiemetode wat ek al voorheen gebruik het. Ek het dit egter so aangepas dat dit maklik is om te onthou en eenvoudig genoeg is om op jou eie te gebruik.
Die VOLG-metode is veral handig wanneer jy deur ‘n boek van die Bybel wil werk, omdat jy net ‘n paar verse op ‘n slag bestudeer. Maar jy kan dit natuurlik ook gebruik wanneer jy ‘n kort gedeelte in die Bybel wil bestudeer.
Die naam VOLG staan vir elkeen van die stappe wat jy gebruik. Dit herinner jou ook aan wat jy eintlik besig is om te doen: jy is besig om die Here deur Sy Woord te volg. Jy vra Hom om jou te leer wat Hy wil hê jy moet weet (V), jy kyk mooi na wat in die teks staan (O), jy let op die lesse wat daar is (L) en dan gaan leef jy dit wat jy geleer het, uit (G).
Kom ons kyk na die vier stappe.
V – VRA GOD SE LEIDING.
Wanneer ons die Bybel lees of bestudeer, is dit altyd belangrik om met gebed te begin.
Dit hoef nie ‘n lang of ingewikkelde gebed te wees nie. Jy kan eenvoudig vir die Here vra om jou te help terwyl jy Sy Woord lees. Vra Hom om jou te help om te verstaan wat jy lees en om jou oë oop te maak vir die dinge wat Hy jou wil leer.
Onthou, die Heilige Gees is in jou om jou te leer (Johannes 14:26). Jy kan dus met vertroue vir die Here vra om jou deur Sy Woord te leer.
Moenie net jou Bybel oopmaak en dadelik begin lees nie. Neem eers ‘n paar minute om jou hart vir die Here oop te maak en Hom te vra om jou te lei.
O – ONDERSOEK DIE TEKS.
Nou is dit tyd om jou Bybel oop te maak by die gedeelte wat jy gaan bestudeer.
Lees die gedeelte waarna jy gaan kyk ‘n keer of wat deur. Na jy dit gelees het, gaan jy dit woord vir woord in jou notaboek of joernaal neerskryf. Dit help jou om stadiger deur die teks te gaan en regtig aandag te gee aan wat daar staan. Jy begin dinge raaksien wat jy dalk sou miskyk as jy net vinnig deur die gedeelte lees.
Nadat jy die teks neergeskryf het, gaan jy dit ook in jou eie woorde neerskryf.
Met ander woorde: Wat gebeur in hierdie gedeelte? Wie is betrokke? Wat doen hulle? Wat sê hulle? Hoekom doen hulle dit? Wat gebeur voor en ná hierdie gedeelte?
Die doel van hierdie stap is eenvoudig. Dit help jou om seker te maak jy weet regtig wat in die teks aangaan, voordat jy begin dink aan die lesse wat jy daaruit kan leer.
L – LET OP DIE LESSE.
Nou kom ons by die deel waar ons begin vra: Wat leer hierdie gedeelte my?
Die heel belangrikste ding wat die Bybel ons leer, is wie God is en wat Hy doen. Daarom begin ‘n mens hier.
Kyk na jou teks en vra: Leer hierdie gedeelte my iets oor God – oor Sy karakter, Sy hart, Sy manier van werk of die manier waarop Hy met mense omgaan?
Skryf alles neer wat jy oor God raaksien. Miskien leer jy iets oor een van Sy karaktereienskappe. Miskien is daar ‘n Naam van God. Of dalk sien jy iets wat Hy doen, hoe Hy optree of wat vir Hom belangrik is.
Wanneer jy in die gewoonte kom om altyd te vra wat ‘n gedeelte jou oor God leer, begin jy Hom al hoe meer in die Bybel raaksien.
Daarna kan jy kyk na die ander lesse wat in die gedeelte is.
Dit help om ‘n paar vrae te hê wat jou oë kan oopmaak vir die lesse in die teks. Jy kan byvoorbeeld vra:
Is daar ‘n waarheid wat ek moet glo?
Waarsku die teks my teen ‘n sonde?
Sien ek ‘n voorbeeld wat ek moet navolg?
Skryf die lesse wat jy raaksien, in jou joernaal of notaboek neer.
G – GAAN EN WEES ‘N DOENER VAN DIE WOORD.
Ons lees nie die Bybel en doen Bybelstudie net sodat ons meer van die Bybel kan weet nie. Ons lees en doen Bybelstudie sodat die Here Sy Woord kan gebruik om ons te verander sodat ons meer soos Jesus word.
Jakobus 1:22 sê dat ons nie net hoorders van die Woord moet wees nie, maar doeners daarvan. Daarom is die laaste stap van die VOLG-metode baie belangrik: Gaan en doen wat jy geleer het.
Kyk na elkeen van die lesse wat jy neergeskryf het en vra: Hoe kan ek dit in my lewe toepas?
As die Here jou iets oor Homself geleer het, kan jy byvoorbeeld skryf: Omdat die Here __________ is, gaan ek __________. As jy geleer het dat God getrou is, kan jou toepassing wees: Omdat die Here getrou is, gaan ek Hom vandag vertrou met die situasie waaroor ek bekommerd is.
Kyk dan na die ander lesse wat jy geleer het en vra by elkeen: Hoe kan ek dit doen?
Hoe kan ek dit toepas in my daaglikse lewe? In my huwelik? In my verhoudings? By die werk? In die manier waarop ek met ander mense praat? In die omstandighede waarin ek tans is?
MAAK DIT SPESIFIEK.
Maak jou toepassing so spesifiek as moontlik. Moenie net skryf: Ek moet meer liefdevol wees nie. Vra eerder: Hoe kan ek vandag meer liefdevol wees? Teenoor wie? Wat kan ek doen?
En as jy kan, skryf ook neer wanneer jy dit gaan doen.
Want dit is die hele doel van Bybelstudie: nie net om iets te leer nie, maar om iets met dit wat jy geleer het, te doen. Gaan dan en doen dit!
SLUIT AF MET GEBED.
En moenie vergeet om aan die einde weer vir die Here dankie te sê vir wat Hy jou uit Sy Woord geleer het nie. Vra Hom ook om jou te help om dit wat jy geleer het, uit te leef.
Ons kan nie die Bybel reg verstaan sonder Sy hulp nie. En ons kan beslis ook nie in ons eie krag alles doen wat Hy ons in Sy Woord leer nie.
Daarom begin ons met Vra God Se Leiding en ons eindig met Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord.
Ons lees die Woord, ons leer die Woord, en dan gaan leef ons wat ons geleer het.
JESUS, DIE BYBEL, EN JY.
As hierdie eenvoudige Bybelstudiemetode vir jou interessant klink en jy wil graag nog meer daaroor weet, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy net waarna jy op soek is.
Dis die VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié gids leer jy nie net meer oor hoe jy die metode in jou Bybelstudietyd kan gebruik nie, maar ook hoe jy dit in jou stiltetyd kan gebruik.
Saam met die gids kry jy ook die VOLG-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, sodat jy dadelik kan begin om die metode te gebruik om vertroud te raak daarmee.
Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel.

