MINI-BYBELSTUDIES: 7 REDES WAAROM DIT WERK

Mini-Bybelstudies: 7 redes waarom dit werk

Almal van ons weet dat tyd met die Here in Sy Woord baie belangrik is. Ons weet ook dat dit ‘n goeie idee is om nie net die Bybel te lees nie, maar dit te studeer. Ongelukkig is baie van ons nie presies seker hoe ‘n mens Bybelstudie doen nie. Ons voel ook soms dat dit iets is wat ons net kan doen as ons baie kennis of baie tyd het. En daarom stel ons dit uit of begin glad nie.

Maar wat as dit nie so ingewikkeld hoef te wees nie? Wat as jy nie ure nodig het nie, maar net ‘n paar minute? Wat as een vers genoeg kan wees om jou hart aan te raak en jou lewe te verander? Dit is presies waar mini Bybelstudies inkom.

Vandag gaan ons gesels oor 7 redes waarom ‘n mini-studie ideaal is om jou te help om Bybelstudie te doen, selfs wanneer jy nie baie tyd het nie of nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie.

MAAK BYBELSTUDIE MINDER OORWELDIGEND.

As jy nog nooit regtig Bybelstudie gedoen het nie, dan is een van die redes daarvoor dalk dat Bybelstudie vir jou na iets klink wat te groot en ingewikkeld is.

    Mini-Bybelstudies breek jou studietyd in klein, hanteerbare stukkies op. Dit help jou om gereeld tyd in die Bybel te spandeer, sonder dat jy oorweldig voel.

    AKSIESTAP.

    Begin met net een vers op ‘n slag. Lees die verse voor en na die vers wat jy wil studeer ook, sodat jy weet wat die konteks van jou vers is.

    Gebruik dan ‘n metode soos die VOLG-metode om saam met die Here na die vers te kyk en raak te sien wat Hy jou daaruit wil leer.

    HELP JOU OM DIEPER TE DELF.

    Om jou Bybel te lees beteken gewoonlik dat jy ‘n hele gedeelte, dalk selfs ‘n hele hoofstuk of twee, op ‘n slag lees. Dit veroorsaak dat ‘n mens vinnig lees, veral as jy ‘n hele paar hoofstukke op een slag moet deurlees. Ongelukkig is dit so dat ‘n mens baie mis wanneer jy te vinnig lees. Jy mis ook baie wanneer jy te veel op ‘n slag lees.

      ‘n Mini-Bybelstudie gee jou die geleentheid om stadiger deur die teks te gaan omdat jy nie net lees nie, maar daaroor nadink ook. Dit help jou om dieper te delf en jy begin dus meer raaksien as net dit wat aanvanklik in die teks vir jou uitstaan.

      AKSIESTAP.

      Kies vir jou ‘n vers waaroor jy meer wil weet. Doen die volgende om vir ‘n hele week lank oor daardie vers na te dink:

      Dag 1: Skryf die vers woord-vir-woord neer. Skryf ook in kort wat in die vers vir jou uitstaan.


      Dag 2: Fokus op elke woord deur die vers ‘n paar keer hardop te lees en elke keer klem te l op ‘n ander woord in die vers. Skryf neer wat jy leer.


      Dag 3: As jy vir iemand moes verduidelik wat jy sover uit die vers geleer het, wat sou jy sê? Skryf dit neer.

      Dag 4: Stel jou vers visueel voor. Teken ‘n eenvoudige prent wat verduidelik wat die vers beteken. Hou dit so eenvoudig dat selfs ‘n kind dit sal kan verstaan.

      Dag 5: Skryf vrae wat jy oor die gedeelte het, neer. Jy kan die vrae later gebruik om nog ‘n studie oor die vers te doen.

      Dag 6: Skryf neer hoe jy dit wat jy uit die vers geleer het, kan uitleef in jou lewe.

      Dag 7: Lees weer deur jou notas om jou geheue te verfris en jou te help onthou wat jy alles geleer het.

      DIT BOU ‘N VOLHOUBARE GEWOONTE.

      Ek weet nie van jou nie, maar ek is geneig om makliker op te gee op iets nuuts wat ek probeer, wat lank vat om te doen. Maar as dit iets is wat vinnig en maklik is, dan hou ek aan en word dit later ‘n gewoonte.

        As jy Bybelstudie ‘n gewoonte wil maak, dan is mini-Bybelstudies ideaal. Omdat dit nie ure van jou tyd in beslag gaan neem nie, is dit maklik om dit elke dag of ‘n paar keer ‘n week in jou skedule in te pas.

        AKSIESTAP.

        In sy boek, Atomic Habits, skryf James Clear dat dit ‘n goeie idee is om ‘n nuwe gewoonte wat jy wil aanleer te koppel aan ‘n ou gewoonte wat jy klaar het.

        Dink ‘n bietjie na oor die daaglikse gewoontes wat jy het. Kan jy jou mini-studietyd aan een van daardie gewoontes koppel?

        GEE BEGINNERS SELFVERTROUE.

        As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, dan is jou grootste probleem dat jy tien teen een nie weet waar jy moet begin nie. En as iemand boonop vir jou ‘n Bybelstudie-metode leer wat twintig stappe het, dan is dit maklik om op te gee nog voor jy begin het.

          Mini-Bybelstudies gee jou egter die geleentheid om klein te begin en te leer wat jy moet doen. Dit gee jou die selfvertroue om self tyd in die Bybel te spandeer sonder om op iemand anders staat te maak om Bybelgedeeltes vir jou te verduidelik.

          En as jy eers die nodige selfvertroue het, gaan dit vir jy makliker wees om later langer en meer ingewikkelde studies aan te pad.

          AKSIESTAP.

          Die VOLG-metode, waaroor ons gereeld hier by Bybel En Gebed gesels, is die ideale metode vir iemand wat wil begin met Bybelstudie. Dis ‘n eenvoudige metode, wat nie baie tyd hoef te vat nie en wat regtig maklik is om te gebruik.

          As jy meer wil weet oor dié metode, loer dan na Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis die VOLG-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Saam met die gids kry jy ook die VOLG-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees. Die studie gaan jou help om te begin om die VOLG-metode te gebruik.

          MAAK TOEPASSING MAKLIKER.

          Een van die redes waarom ‘n mens Bybelstudie doen, is sodat die Woord jou kan verander. En ‘n mens verander net wanneer jy dit wat jy uit die Woord leer op een of ander manier in jou lewe toepas.

            Mini-Bybelstudies help jou om op een waarheid op ‘n slag te fokus. Dit help jou om regtig raak te sien wat ‘n vers vir jou wil leer en om dan ook te sien hoe jy dit in jou lewe kan toepas.

            AKSIESTAP.

            Na jy jou vers van nader bekyk het, vra jouself: “Hoe kan ek vandag hierdie vers gaan leef?”

            Soms gaan dit beteken jy moet iets gaan doen om die vers te leef.

            Ander kere gaan dit beteken jy moet iets anders glo as wat jy tot nou toe geglo het.

            Dit kan ook beteken dat jy op ‘n ander manier gaan moet begin dink oor iets.

            Skryf neer wat jy gaan doen om jou vers uit te leef en onthou om te doen wat jy neergeskryf het.

            HELP JOU OM GOD SE STEM BETER TE HOOR.

            Ek het netnou gesê dat ‘n mens maklik dinge in die Bybel mis wanneer jy te veel op een slag probeer lees of studeer. Jy mis nie net belangrike inligting nie, maar jy mis veral dit wat die Here persoonlik vir jou uit ‘n gedeelte wil sê.

              Wanneer jy egter na net ‘n kort stukkie op ‘n slag kyk, help dit jou om regtig na te dink oor dit wat jy lees. Dit gee die Heilige Gees kans om met jou en in jou te werk. Dit help jou ook om die Here se stem te leer ken sodat jy weet wanneer Hy met jou praat.

              AKSIESTAP.

              Skryf alles wat jy uit ‘n gedeelte leer neer. Skryf ook enige gedagtes wat by jou daaroor opkom, neer.

              En as die vers wat jy studeer jou aan ‘n ander vers in die Bybel herinner, blaai na daardie vers en kyk ook daarna.

              Dis baie keer die Heilige Gees se manier om ‘n mens te help om iets wat Hy vir jou wil sê beter te verstaan, so moenie ‘n gedagte wat jy oor ‘n ander vers kry sommer net afskiet nie. Gaan kyk wat die vers sê en skryf dit ook alles neer.

              WYS KLEIN BIETJIE OP ‘N SLAG BRING GROOT GROEI.

              Ons leef in ‘n kitswêreld waar ons gewoond geraak het daaraan dat meeste dinge vinnig gebeur.

                Maar dit is nie hoe God se skepping werk nie. Die dinge wat Hy geskep het – dink maar aan alles in die natuur – neem tyd om te groei. Jy plant nie vanoggend ‘n saadjie en teen vanaand het jy ‘n oes nie. Nee, dit vat tyd. Net so vat dit ook tyd vir ‘n mens om geestelik te groei.

                In die gelykenis van die saaier het Jesus gesê die saaier saai die Woord. Jou tyd in die Woord kan dus vergelyk word met die versorging van ‘n tuin. Soms is jy besig om saadjies te plant. Ander kere is jou Woord-tyd ‘n tyd waarin jy die saadjies water gee. Nog ander kere is dit ‘n tyd waar jy bossies uittrek, kunsmis gee, of bietjie snoeiwerk doen.

                Die Here weet wat jy elke dag nodig het om geestelik te groei, maar dis jou verantwoordelikheid om tyd in te ruim in jou skedule om tyd in die Woord te spandeer.

                AKSIESTAP.

                Neem jou dagboek en kyk waar jy elke dag ‘n paar minute het om ‘n mini-studie te doen.

                Skryf jou studietyd in jou dagboek neer en beskou dit as ‘n afspraak met die Here en met jouself, wat jy nie gaan verbreek nie.

                TEN SLOTTE.

                Onthou, jy gaan nie alles in die Bybel op dag een al verstaan nie, en dis ‘okay’. Net soos geestelike groei tyd vat, vat dit ook tyd om die Bybel beter te verstaan. Maar hoe meer tyd jy saam met die Here in Sy Woord spandeer, hoe beter gaan jy dit verstaan en hoe meer gaan jy groei.

                Elke keer wat jy stil word en saam met die Here na een of twee verse kyk, elke keer wat jy daaroor nadink en dit met Sy hulp begin uitleef, is jy besig om nader aan Hom te groei. Moet dus nie die krag van mini-Bybelstudies onderskat nie.

                Elke oomblik in die Woord gee die Here die geleentheid om ‘n groot werk in jou hart te doen. So, begin sommer vandag nog om gereeld mini-studies te doen. Jy sal beslis nie spyt wees nie!

                Deel hierdie blad

                1 comment

                Leave a Reply

                Your email address will not be published. Required fields are marked *