
Ons is besig met ‘n reeks geselsies oor Johannes 14. Johannes 13 tot 17 is die laaste woorde wat Jesus met Sy dissipels gedeel het voor Hy gekruisig is.
Ons het gesien dat Johannes 14 begin en eindig met die idee dat ons harte nie ontsteld moet wees nie. Op dié stadium is daar soveel dinge wat in die wêreld aan die gebeur is, dat dit amper moeilik is vir ‘n mens om nie ‘n ontstelde, bekommerde en bang hart te hê nie.
Maar Jesus het vir die dissipels ses dinge gegee wat soos ankers was waaraan hulle kon vashou toe dinge in húlle wêreld begin moeilik raak het. Dié dinge is vandag steeds ankers waaraan ek en jy kan vashou om ons te help wanneer ons harte ontsteld en bang raak.
Vandag gaan ons gesels oor die vierde anker waaraan ons kan vashou wanneer die lewe moeilik raak en dit lyk asof alles rondom ons in duie stort.
As jy die vorige artikels misgeloop het, loer dan aan die onderkant van dié artikel vir skakels waar jy hulle kan gaan lees.
ANKER 4: JY HET DIE HEILIGE GEES.
Voor ons gesels oor wat ons uit die gedeelte oor die Heilige Gees as anker kan leer, kom ons lees dit eers wat in die gedeelte vir vandag staan.
Johannes 14:16-18:
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,
naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
In Sy gesprek met die dissipels in die bokamer, het Jesus nogal baie te sê gehad oor die Heilige Gees, want sonder Hom is dit nie vir ons moontlik om ons lewens te leef soos God wil hê nie.
Daarom is dit belangrik dat ons weet wie die Heilige Gees is, wat Hy doen, en ook hoe Hy dit doen.
DIE HEILIGE GEES AS TROOSTER.
Jy weet seker dat name in die Bybel belangrik is. Elke naam in die Bybel het ‘n betekenis en ‘n mens kan nogal heelwat oor ‘n persoon of ‘n plek leer wanneer jy weet wat die naam beteken. Die Name van God is dan ook nie anders nie en God gebruik Sy Name om Homself aan ons bekend te stel.
In die gedeelte hierbo lees ons twee Name wat Jesus vir die Heilige Gees gee om ons te leer wie Hy is en wat Hy doen.
Die eerste Naam is die Griekse woord ‘parakletos’. Hierdie woord word in ons Bybels vertaal as Voorspraak, Parakleet of Trooster.
Die woord word net deur Johannes gebruik en beteken ‘geroep om bystand te verleen’.
Die Heilige Gees is die Persoon wat in ons en deur ons werk. Hy is die Helper, Bemoediger en Pleitbesorger wat ons nie net deur die lewe begelei nie, maar ons ook in staat stel om te doen wat God ons vra om te doen.
DIE GEES VAN DIE WAARHEID.
Die tweede Naam vir die Heilige Gees, wat Jesus in die gedeelte hierbo gebruik, is die Gees van die waarheid.
Iemand skryf dat, as Gees van die waarheid, is die Heilige Gees verwant aan Jesus, die Waarheid, en aan die Woord van God, wat op sigself die waarheid is (Johannes 14:6; Johannes 17:17). Die Gees het die Woord geïnspireer en dit is ook Hy wat ons help om dit te verstaan.
Omdat Hy die Gees van die Waarheid is, kan Hy nooit vir ons jok nie. Hy kan ons dus nooit lei om iets te doen wat teenstrydig is met die Woord van God nie.
As ons wil hê dat die Heilige Gees in ons moet werk, dan moet ons daarna streef om Jesus te verheerlik.
Ons moet ook die Woord van God ernstig opneem en in ons lewens wil uitleef.
Om gevul te wees met die Gees is dieselfde as om deur Hom beheer te word.
Die Gees van die Waarheid gebruik die Woord van waarheid om ons te lei in die wil en werk van God.
DIE HEILIGE GEES IS ALTYD BY ONS.
As jy so ‘n bietjie deur die Ou Testament lees, sal jy sien dat die Heilige Gees ook daar teenwoordig was.
Maar Hy het net soms op mense gekom om hulle te bekragtig om iets te doen en dan het Hy hulle weer verlaat.
Jesus belowe egter dat die Heilige Gees ons nooit sal verlaat nie. Wanneer Hy in jou lewe inkom, kom Hy om te bly. Jy is Sy tempel en selfs as jy dinge doen wat Hom bedroef, bly Hy steeds in jou.
Jesus het ons dus nie alleen, hulpeloos en hooploos gelos nie. Hy het ons die Heilige Gees gegee om vir altyd in ons en by ons te wees.
Ons hoef dus nooit toe te gee daaraan om ‘n ontstelde hart te hê nie, want die Heilige Gees – die Gees van God – bly in elkeen van ons wat in Jesus glo!
Hy is daar om ons te help, by te staan, te lei, te vertroos, te bemoedig, te bekragtig, te leer, ensovoorts.
Wanneer dinge moeilik raak kan ons aan Hom as anker vashou, want ons weet dat Hy altyd in ons en deur ons werk en dat Hy ons nooit gaan verlaat nie.
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Ek het netnou genoem dat dit belangrik is dat ons weet wie die Heilige Gees is, wat Hy doen en hoe Hy dit doen.
Sit vir die volgende week elke dag ‘n tydjie opsy om meer te leer oor die Heilige Gees.
Gebruik ‘n konkordansie – sommige Bybels het een agterin of gebruik een van die wat aanlyn beskikbaar is – en soek gedeeltes oor die Heilige Gees.
Gebruik die VOLG-metode om vers-vir-vers deur die gedeeltes te gaan sodat die Here jou meer oor Sy Gees kan leer.
As jy nog nie voorheen die VOLG-metode gebruik het nie en jy wil meer daaroor weet, maak dan ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kyk na Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis ons VOLG e-gids wat jou alles gaan leer wat jy oor dié metode moet weet.
Saam met die e-gids kry jy ook die VOLG e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, waar jy meer gaan leer oor hoe ‘n kind van God anders leef as die wêreld.
Maak dus sommer nou ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry dié twee hulpmiddele om in jou tyd saam met die Here te gebruik.

