DIE HERE HOOR EN ANTWOORD GEBED

Die Here hoor en antwoord gebed

Daar is min dinge wat ons geloof só versterk soos om te sien dat die Here regtig luister wanneer Sy kinders bid. Van Genesis tot Handelinge sien ons weer en weer: die Here hoor en Hy antwoord. Partykeer kom die antwoord dadelik. Ander kere moet die een wat bid lank wag, maar die Here vergeet nooit Sy kinders nie. Hierdie verhale uit die Bybel herinner ons dat gebed nie bloot woorde is wat die lug in verdwyn nie, maar ‘n heilige gesprek met ons Here wat hoor, onthou en optree.

Kom ons kyk na ‘n paar mense in die Bybel wie se gebede verhoor is. Ek gee net ‘n kort beskrywing by elkeen, maar gaan lees gerus elke karakter se volle verhaal. Laat dit wat jy lees jou geloof versterk. Laat dit jou daaraan herinner dat die Here nie net in staat is om gebede te antwoord nie, maar dat Hy ook elkeen wat tot Hom bid, se gebede antwoord!

HANNA.

Hanna bid vir ‘n kind. Die Here verhoor haar gebed deur Samuel vir haar te gee.

Hanna bid: “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: ‘Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.'” (1 Samuel 1:10-11)

God antwoord: “Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ‘n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: ‘Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!'” (vs.19-20)

DIE PROFEET ELIA OP KARMEL.

Elia bid dat God met vuur sou antwoord om Homself aan Israel te openbaar — en God het dit gedoen.

Elia bid: “Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” (1 Konings 18:36-37)

God antwoord: “Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.” (vs.38)

MOSES BID VIR ISRAEL.

God is toornig oor Israel se sonde met die goue kalf en wil hulle vernietig. Maar Moses tree in vir hulle en God sien af van Sy plan om hulle te vernietig.

Moses bid: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig. Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. Dink aan wat U met ‘n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.” (Eksodus 32:11-14)

God antwoord: “Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.” (vs.14)

ABRAHAM BID VIR SODOM.

God vertel Abraham van Sy plan om Sodom te vernietig. Abraham pleit vir Sodom, en hoewel die stad vernietig is, het God sy gebed verhoor deur Lot te red.

Abraham bid: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” (Genesis 18:23-25)

God antwoord: “Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.” (Genesis 19:29)

HISKIA SE SIEKTE.

Toe koning Hiskia op sterwe lê, het hy bitterlik gehuil en tot die Here gebid en God het sy lewe met 15 jaar verleng.

Hiskia bid: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” (2 Konings 20:3)

God antwoord: “Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: ‘Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.'” (vs.4-6)

ELIA BID VIR REëN.

Elia het gebid dat dit moet ophou reën en dit het vir drie jaar nie gereën nie. Toe het hy weer gebid en dit het kom reën.

Elia bid: “Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, sê hy vir sy slaaf: ‘Gaan kyk in die rigting van die see!’ Hy gaan kyk toe, en kom sê: ‘Daar is niks.’ Elia het vir hom gesê: ‘Gaan kyk weer.’ Dit het sewe keer gebeur. Na die sewende keer het hy kom sê: ”n Wolkie so groot soos ‘n man se hand kom uit die see uit op.'” (1 Konings 18:42-44a)

God antwoord: “Elia sê toe: ‘Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.’ Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery.” (vs.44b-45)

DANIëL IN BABEL.

Nadat Nebukadnesar ‘n droom gehad het, bid Daniël vir wysheid om dit uit te lê en God het dit aan hom geopenbaar.

Daniël bid: “Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie.” (Daniël 2:17-18)

God antwoord: “Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ‘n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys.” (vs.19)

JONA IN DIE VIS.

Terwyl hy in die maag van die vis is, bid Jona tot die Here en Hy het hom op droë grond laat uitspoeg.

Jona bid: “U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. (Jona 2:3-4 – lees die hele Jona 2 om die volle gebed te lees.)

God antwoord: “Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.” (vs.10)

ABRAHAM SE DIENAAR.

Abraham se dienaar het gebid dat God hom die regte vrou vir Isak sou wys. Rebekka het presies volgens sy gebed opgetree.

Die dienaar bid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. As ek vir ‘n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

God antwoord: Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan… Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: ‘Laat my tog ‘n bietjie water uit jou kruik drink.’ En sy sê: ‘Drink gerus, Meneer!’ Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: ‘Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.’ (vs.15a; 17-19).

SIMSON.

Toe Simson aan die einde van sy lewe vir krag bid om die Filistyne te vernietig, het God hom nog een keer versterk.

Simson bid: ““Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!… Laat my sterf saam met die Filistyne.” (Rigters 16:28;30a)

God antwoord: “Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander… Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.” (vs.29;30b)

SAMUEL BID VIR ISRAEL.

Toe Israel teen die Filistyne veg, het Samuel tot die Here geroep en Hy het die Filistyne verslaan.

Samuel bid: “Samuel het ‘n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor.” (1 Samuel 7:9)

God antwoord: “Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here ‘n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan.” (vs.10)

NEHAMIA.

Nehemia het gebid dat God hom guns sou gee voor die koning en Hy het sy gebed beantwoord deur die koning se hart sag te maak.

Nehemia bid: “Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ‘n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”

God antwoord: “My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.” (vs.8c)

SALOMO SE WYSHEIDSGEBED.

God vra vir Salomo wat hy wil hê dat Hy vir hom moet doen. Salomo bid vir wysheid om Israel te lei en God het hom wysheid én rykdom gegee.

Salomo bid: “Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” (1 Konings 3:9)

God antwoord: “Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het. Hy het vir hom gesê: ‘Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou ‘n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie. Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie.'” (vs.10-13)

GIDEON.

God roep vir Gideon om Israel uit die hand van die Midianiete te red. Gideon bid dat God sy roeping sou bevestig deur ’n teken en Hy verhoor sy gebed nie net een keer nie, maar twee keer.

Gideon bid: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek ‘n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.” (Rigters 6:36-37)

God antwoord: “En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, ‘n hele kom vol water.” (vs.38. Lees ook verse 39-40 om die tweede keer wat Gideon gebid en God geantwoord het, te sien.)

ELISA.

Elisa bid vir die seun van die Sunamitiese vrou. Hy het gesterf, maar die Here laat hom weer lewe.

Elisa bid: “Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het.” (2 Konings 4:33-34)

God antwoord: “Nadat hy [Elisa] ‘n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.” (vs.35)

SAGARIA.

Sagaria het lank gebid vir ‘n seun vir hom en sy vrou Elisabet. God verhoor die gebed wanneer dié twee mense al oud is.

God antwoord: “Sagaria het geskrik toe hy hom [die engel] daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: ‘Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.'” (Lukas 1:12-13)

JESUS EN LASARUS.

By Lasarus se graf bid Jesus en toe roep Hy Lasarus uit die graf.

Jesus bid: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 11:41b-42)

God antwoord: “Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: ‘Lasarus, kom uit!’ Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ‘n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: ‘Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.'” (vs.43-44)

DIE KERK BID VIR PETRUS.

Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente vir hom gebid en God het ’n engel gestuur om hom vry te laat.

Die gemeente bid: “So is hy [Petrus] dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.” (Handelinge 12:5)

God antwoord: “Meteens staan daar ‘n engel van die Here en skyn daar ‘n lig in die sel. Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: ‘Staan gou op.’ Onmiddellik het die boeie van sy hande afgeval… Petrus het agter die engel aan uitgegaan sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Vir hom het dit gelyk asof hy ‘n gesig sien. (vs.7;9)

PAULUS EN SILAS.

Paulus en Silas is in die tronk. Daar bid en sing hulle tot eer van die Here. ‘n Aardbewing laat die tronk se deur oopgaan.

Die twee bid: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.” (Handelinge 16:25)

God antwoord: “Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.” (vs.26)

Wanneer ons hierdie verhale lees, sien ons ‘n duidelike patroon. Elkeen van hierdie mense het na die Here toe gekom met hulle nood, pyn of geloof en Hy het geantwoord op Sy eie, volmaakte manier. Hy het die trane van Hanna gesien, die vrees van Hiskia verstaan, die verlange van Abraham geken, en die lofliedere van Paulus en Silas gehoor.

Dieselfde God wat hulle gebede verhoor het, hoor jóú ook wanneer jy bid, al dink jy nie altyd so nie. Sy tydsberekening is perfek. Sy antwoord goed. So bly bid en bly glo dat die Here jou nie net hoor nie, maar ook op die regte tyd jou gebed gaan antwoord.

HULP VIR JOU GEBEDSLEWE.

As jy enigsins hulp met gebed nodig het, loer dan gerus in ons aanlyn-winkel na ons gebedsgids, Hart Tot Hart.

In dié e-gids gaan jy die basiese beginsels van gebed leer. Dié beginsels is nie net belangrik vir iemand wat nog nie veel gebid het en ‘n gebedslewe wil begin nie. Dis ook belangrik vir almal wat al lank bid, want dis op die basiese beginsels wat ons ons gebedslewens bou en wat ons gebruik om ons gebedslewens te laat groei.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *