ONTWIKKEL JOU GELOOF

Geloof is om God op Sy Woord te neem. Dit is om ten volle oortuig te wees Hy kan en sal doen wat Hy sê. Ontwikkel jou geloof deur hierdie vier stappe.

4 Stappe om jou geloof te onwikkel

In Johannes 10:10 verduidelik Jesus vir ons waarom Hy gekom het: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Hy het gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê. Van die Engelse vertalings voeg by dat Hy gekom het om vir ons ‘n oorvloedig lewe te gee, wat ons met oorgawe kan geniet.

Regoor die wêreld, selfs gedurende hierdie moeilike tyd, ervaar Christene God se goedheid. Hulle sien hoe Hy vir hulle sorg, hoe Hy hulle beskerm, en ook hoe Hy hulle genees, vertroos en bemoedig.

Wanneer hulle die lewe saam met Hom aandurf, gee Hy hulle die wysheid en leiding wat hulle nodig het. As hulle tot Hom bid, ervaar hulle hoe Hy intree in enige situasie en doen wat net Hy kan doen. Hulle beleef God op wonderlike maniere en kan getuig van Sy getrouheid en genade.

Dit is ongelukkig ook so dat nie alle gelowiges hiervan kan getuig nie. Sommige ken Jesus as Verlossser, en God as Vader, en dit op sigself is al ‘n groot seën. Maar Jesus het gekom om vir ons die lewe in oorvloed te gee, en baie gelowiges ervaar nie veel hiervan nie.

DIE OORSAAK VAN DIE PROBLEEM.

Nou mag jy dalk vra waarom dit so is?

Deel van die probleem is omdat baie nie regtig weet wat in die Bybel staan nie. Hulle besef nie hoe belangrik God se Woord in ons lewens is nie. Onthou, jy moet dit lees om te weet wat dit sê!

Nog ‘n probleem is dat baie nie weet hulle moet glo wat God in Sy Woord sê nie.

Om te weet wat daar staan gaan jou nie veel help as jy dit nie glo ook nie.

God se Woord is vol beloftes, maar ons moet dit glo voordat dit ‘n werklikheid in ons lewens gaan word.

In Hebreërs 4:1-2 lees ons die volgende: “Terwyl die belofte om in Sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.”

Die skrywer praat hier van die Israeliete. Hulle het God se beloftes, Sy Woord gehoor, maar hulle het dit nie geglo nie.

En die uiteinde was dat die beloftes hulle niks gebaat het nie.

WAT IS GELOOF?

Dalk is al hierdie dinge vir jou nuus en jy wonder wat geloof nou eintlik is?

God gee self vir ons die antwoord in Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Geloof is ‘n vaste sekerheid en dit dra baie krag.

In 1 Johannes 5:4 lees ons: “…want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.”

Geloof kan jou lewe verander!

Dit moet egter ontwikkel en in stand gehou word.

Hoe?

Ontwikkel jou geloof deur hierdie vier praktiese stappe.

FOKUS OP DIE WOORD.

Geloof is ‘n geskenk van God. Dit is nie iets wat ons self hoef te genereer nie. God gee dit vir ons wanneer ons die Woord oor Jesus Christus hoor (Romeine 10:17).

Dit is een van die redes waarom dit so belangrik is om elke dag tyd in die Woord te spandeer. Tyd in die Woord ontwikkel geloof en hou dit in stand.

Doen dus elke dag wat jy moet om seker te maak jy spandeer genoeg tyd in die Woord.

Lees dit.

Doen Bybelstudie.

Luister na preke of na die oudio Bybel.

Skryf die Woord.

Daar is nog baie ander maniere wat jy kan gebruik om die Woord in jou hart te bêre. Kry ‘n paar maniere wat vir jou werk.

God praat met ons deur Sy Woord en deur Sy Gees. As jy sukkel om die stem van die Gees te onderskei tussen al die ander stemme, dan is tyd in die Woord deel van die oplossing. Hoe meer tyd jy in die Woord spandeer, hoe makliker gaan dit vir jou word om die Gees se stem te herken.

LEES OOK: SES MANIERE OM MEER TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER

Sê WAT GOD IN SY WOORD Sê.

Ons weet nou dat geloof ‘n geskenk van God is en dat dit in ons harte gewek word wanneer ons die Woord oor Christus hoor.

Maar die geloof wat jy in jou hart het, moet op een of ander manier uitgewerk word na buite – dit moet as’t ware vrygestel word.

Hoe doen jy dit?

Die eerste manier is met jou woorde.

Wanneer jy dieselfde sê as wat God in Sy Woord sê, dan stel jy jou geloof vry en kan dit begin werk om Sy beloftes ‘n werklikheid in jou lewe te maak.

Ongelukkig is meeste van ons so gewoond daaraan om te sê wat ons op die nuus hoor. Ons praat aanhoudend oor ons probleme in plaas daarvan om die oplossing in die Woord te soek, en daaroor te praat!

Ons val so maklik in by die geselskap van vriende en kollegas en praat saam oor die negatiewe wat nie strook met die Woord nie.

Maar met God se hulp kan ons verander.

Dit gaan nie aan die begn maklik wees nie, maar moenie moed opgee nie.

Vra die Heilige Gees om jou te help om te let op jou woorde. Vra Hom ook om jou te wys wanneer jy nie sê wat die Woord sê nie.

As Hy jou wys, onderwerp jou aan Sy gesag en erken dat jou woorde nie saamstem met God s’n nie. En begin dan om te sê wat God sê.

DOEN WAT DIE WOORD Sê.

In Jakobus 1:22 en 25 lees ons: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself…. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”

Geloof moet ondersteun word deur gehoorsaamheid aan die woord.

Dit is om te glo wat God sê, maar ook op te tree asof dit waar is.

Dit beteken jy doen wat God vir jou sê om te doen in die Woord.

Jy doen ook wat die Heilige Gees jou lei om te doen.

En as die Here jou wys jy is besig om die verkeerde rigting te gaan of die verkeerde ding te doen, wees gehoorsaam. Draai om en gaan waar Hy jou wys om te gaan. Of doen wat Hy jou wys om te doen.

LEEF LIEFDE UIT.

In Galasiërs 5:6 lees ons: “In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”

Sonder liefde gaan geloof nie werk nie.

Eerstens moet jy glo God het jou lief.

Dan moet jy ook glo Hy het Sy liefde deur die Gees in jou hart geplaas, sodat jy ander kan liefhê (Romeine 5:5).

En laastens moet jy ander vergewe net soos God jou vergewe het. Om ander nie te vergewe nie, is om jouself in ‘n tronksel te sit. Dit benadeel nie die ander persoon nie, maar vir jou. Moenie toelaat dat die duiwel jou op hierdie manier gevange hou nie.

Onthou, 1 Korinthiërs 13:5 sê die liefde hou nie boek van die kwaad nie.
Vergewe dus, en laat jou geloof deur liefde tot dade oorgaan.

OM OP TE SOM.

Ontwikkel jou geloof deur die volgend stappe te neem:

Glo God se Woord en vertrou Hom dat Hy die vermoë het om te doen wat Hy beloof het.
Spandeer elke dag tyd in die Woord. Bêre dit in jou hart deur dit te sien en te hoor.
Let op jou woorde. Maak seker jy sê dieselfde as wat God in Sy Woord sê.
Wees gehoorsaam aan die Woord en die Gees.
Leef liefde uit.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *