
Elke boek van die Bybel is uniek. Dit het ‘n eie geskiedenis, konteks en boodskap wat die Here daardeur aan ons wil oordra. Wanneer ons iets van die agtergrond verstaan – wie dit geskryf het, vir wie dit geskryf is, en wat destyds in die wêreld aan die gang was – dan word die boodskap soveel dieper en meer persoonlik. Hierdie artikel is deel van ‘n reeks waarin ek agtergrond-inligting oor verskillende boeke van die Bybel deel. Dis ideaal om as hulpmiddel te gebruik wanneer jou self Bybelstudie doen. Vandag kyk ons na die boek Daniël – ‘n boek vol profetiese visioene, drome en getrouheid aan God te midde van ‘n vreemde kultuur.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Hierdie boek is vernoem na een van die hoofkarakters in die boek: Daniël.
Dié naam beteken: God Is My Regter of Regter Van God.
ONTSTAANTYD, AGTERGROND EN SKRYWER.
Net soos met ‘n paar ander boeke in die Bybel, stem Bybelkenners nie heeltemal saam oor wanneer die boek geskryf is nie.
Sommige is van mening dat dit tydens die Babiloniese ballingskap, 586-538 vC, ontstaan het. Ander dink weer dit was rondom 165 vC.
Die verhale in die boek dui daarop dat Daniël gedurende die sesde eeu vC geleef het. Maar die baie besonderhede oor die tweede eeu vC dui daarop dat die boek tien teen een sy finale vorm gekry het rondom 165 vC.
Omdat die boek Daniël se naam dra, en sommige hoofstukke in die eerste persoon geskryf is, lyk dit of Daniël die skrywer van die boek was. Maar weereens is daar kenners wat dink iemand het die verhale en visioëne van Daniël na sy dood saamgestel. Dus is niemand regtig seker presies wie die boek geskryf het nie.
VIR WIE IS DIE BOEK GESKRYF?
Daniël is oorspronklik geskryf vir die Jode wat in ballingskap was. Later was dit bedoel vir die ballinge wat teruggekom het toe hulle swaar gekry het onder die Griekse bewind.
WAT SE TIPE BOEK IS DANIëL?
Daniël is een van die sogenaamde groot profete-boeke en is dan ook ‘n profetiese boek. Daar is egter ook geskiedenis by betrokke, wat dit in ‘n mate ‘n geskiedenisboek ook maak.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
God se mense was besig om swaar te kry. Hierdie boek is ‘n troosboek vir hulle om hulle daaraan te herinner dat God in beheer is van die geskiedenis.
BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.
Ons lees van agt belangrike karakters in Daniël. Hulle is Daniël self, dan ook sy vriende, Sadrag, Mesag en Abednego.
Dan is daar natuurlik ook die verskillende konings: Nebukadnesar, Belsasar, Darius en Kores (Sirus).
HOOFTEMANS VAN DANIëL.
Daar is drie hooftemas in hierdie boek.
GOD SE KONINKRYK.
Ons sien in Daniël hoe een koninkryk die ander opvolg. Maar nie een van hulle sal vir altyd bly staan nie.
Op die ou end gaan daar net een Koninkryk oorbly, wat sal voorbestaan: die Koninkryk van God.
GOD IS IN BEHEER.
Sommige mense dink die sterre voorspel die toekoms, maar dis nie waar nie. God is in beheer van die geskiedenis en daarom is die toekoms van elke mens in Sy hande.
Wanneer wêreldheersers hulle mag misbruik, lê Hy dit aan bande. Hy beskerm en red ook elke gelowige wat op Hom vertrou en aan Hom getrou bly.
VOLHARDING EN HOOP.
Ons sien hoe Daniël die Here vir ongeveer 70 jaar in ‘n vreemde land getrou bly dien het.
Hy bly volhard in die dinge wat God eer en stel nie daarin belang om persoonlik mag of eer te hê nie.
STATISTIEK BESONDER AAN DANIëL.
Dis interessant dat Daniël 12:2 die Ou Testamentiese teks is wat die derde meeste in die Nuwe Testament aangehaal word.
Dit kom voor in Mattheus 24:21; Makrus 13:19; Filippense 4:3; Judas vers 9; Openbaring 3:5; 7:14; 12:7; 13:8; 16:18; 17:8 en 20:12.
GELOOFSLES IN DANIëL.
‘n Belangrike geloofsles wat ons uit dié boek leer, is dat gelowiges in hierdie wêreld gaan swaarkry. God het immers nooit in die Bybel beloof dat ons as gelowiges op aarde ‘n lewe wat vry is van swaarkry, gaan leef nie.
Maar dis nie die einde van die storie nie.
God is en bly in beheer en ons kan Hom vertrou om die pad saam met ons – ook in die swaarkry – te stap en ons veilig anderkant te bring.
GOD SE KARAKTER IN DANIëL.
Die karakter van God wat ons baie duidelik in Daniël sien, is dat Hy soewerein is.
Dit beteken eenvoudig dat Hy die Gebieder is wat die hoogste gesag beklee, met ander woorde, Hy is in beheer.
JESUS IN DANIëL.
Ons sien Jesus op ‘n hele paar plekke in die boek.
In hoofstuk 2:34-35 en 44 is Hy die ‘groot rots’ wat die aardse koninkryk verpletter.
Dan sien ons Hom as die Seun van die Mens vir wie die eer, koninskap en ewige heerskappy gegee word (Daniël 7:13-14).
Verder sien ons Hom as die terugkerende Messias (Daniël 9:25-26).
Laastens het Daniël ook ‘n visioen oor Jesus gehad (Daniël 10:5-9) wat ooreenstem met Openbaring 1:12-16.
‘N LAASTE OPMERKING.
Daniël het ‘n hele paar visioene gehad. Elkeen van dié visioene gee vir ons ‘n kykie in die plan wat God vir die toekoms het.
VORIGE ARTIKELS.
As jy nuuskierig is oor ander boeke van die Bybel, kan jy gerus gaan loer na die ander artikels in die reeks.
