JOU IDENTITEIT IN CHRISTUS: 7 WAARHEDE

Jou identiteit in Christus: 7 waarhede

Daar is baie verse in die Bybel waar ons lees wie ons was voor ons Jesus as Verlosser aangeneem het. En daar is ook baie verse wat ons meer leer oor ons identiteit in Christus. Dis belangrik dat ons hierdie dinge weet. As ons nie weet wie en wat ons is sonder Jesus nie, gaan ons nie besef hoe nodig ons Hom as Verlosser het nie. En as ons nie weet wie ons is noudat ons aan Hom behoort nie, dan gaan ons bly leef asof ons nog ons ou identiteit het. “And that will never do!” soos die Engelse sal sê.

In die vorige artikel het ons dan ook gekyk na ons nuwe identiteit in Christus. Vandag gaan ons ‘n paar van daardie waarhede van nader bekyk.

VERLOS EN VERGEWE.

Efesiërs 1:6-8: Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

Jesus se dood aan die kruis het twee wonderlike dinge vir ons bewerkstellig – verlossing en vergifnis van sonde.

Verlossing: In die tyd van die ou Israeliete, was daar ‘n gebruik dat ‘n slaaf vrygekoop kon word sodat hy nie meer in slawerny was nie. Jesus se dood was die prys wat betaal is om ons vry te koop van ons verslawing aan die sonde.

Vergifnis: Toe God die Wet vir die Israeliete gegee het, het Hy voorsiening gemaak daarvoor dat hulle dit nie sou kon onderhou nie en vergewe moes word vir wat hulle verkeerd gedoen het. Wanneer iemand dus die Wet oortree het, het hy ‘n dier geoffer. Op grond van die bloed van daardie dier, is sy sonde dan vergewe. Jesus het Sy bloed gegee om vir ons die vergifnis van sonde moontlik te maak. Hy was die volmaakte en laaste Offerlam van God en het die sonde van die wêreld weggeneem.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

Ek kan elke dag my lewe leef met die wete dat ek vrygekoop is van die houvas wat sonde op my gehad het. Al my sonde is vergewe. God dink nie weer daaraan nie en sal my ook nie weer daarvoor straf nie, want Jesus het die straf gedra en die prys betaal.

NIE MEER ‘N SLAAF VAN DIE SONDE.

Romeine 6:6: Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.

Ons het in die vorige vers gesien dat Jesus die prys betaal het om ons vry te koop van die houvas van sonde. Hier sien ons dit weer. Omdat ons sondige mens saam met Christus gekruisig is, is ons nie meer slawe van die sonde nie.

Dit beteken nié dat ons nooit weer gaan sonde doen nie. Ek en jy weet altwee dat ‘n mens nog steeds verkeerde dinge doen, selfs al weet jy wat die regte ding is om te doen.

Wat dit wél beteken, is dat sonde nie meer ons baas is nie. Ons is nie meer willoos daaraan uitgelewer nie, maar kan nou ‘n wilsbesluit neem om die versoeking om sonde te doen teen te staan.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

Jesus het vir ons ‘n nuwe lewe gegee, wat vry is van die houvas van sonde. Ons kan nou elke dag kies om daardie nuwe lewe al hoe meer uit te leef. Ons kan kies om ‘nee’ te sê wanneer die duiwel met sy slimstreke na ons toe kom. Hy is nie meer in beheer nie. Ons kan hom teenstaan en as oorwinnaars uit die stryd tree.

LEWEND SAAM MET CHRISTUS.

Efesiërs 2:5: Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Voor ‘n mens se redding, maak jy net soos jy wil. Wat ookal in jou gedagtes opkom, waarvoor jy ookal lus is, dis wat jy doen.

As jy terugdink aan jou verlede sonder Jesus, sal jy moet erken dat hierdie nie ‘n baie lekker manier van doen was nie. Dinge het gewoonlik op een of ander manier skeefgeloop en dan het jy een sonde met ‘n ander een probeer toesmeer of regmaak.

Maar God het die sondaar innig lief en daarom het Hy Sy Seun gestuur om ons van hierdie doodsbestaan vry te maak.

Ons is nou nie meer uitgelewer aan ‘n bestaan van sonde en dood nie. Nee, ons is lewend gemaak saam met Christus en het nou reeds die ewige lewe.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

In Johannes 17:3 sê Jesus die ewige lewe is om God die Vader, en Hom die Verlosser, te ken. Dis iets wat ons hier op aarde al ervaar.

Ek en jy kan elke dag moeite doen om God beter te leer ken. Ons doen dit, onder andere, deur tyd saam met Hom in Sy Woord en in gebed te spandeer. Onthou, God het die Woord vir ons gegee om Homself aan ons te openbaar. Dis deur die Woord wat ons Sy stem leer ken sodat ons weet wanneer Hy deur Sy Gees met ons praat.

Elke gelowige besluit self hoe goed hy of sy hier op aarde die Here leer ken deur die dinge hierbo te doen. Dis ‘n geleentheid wat jy het, so moet dit nie weggooi nie.

.

VREDE TUSSEN MY EN GOD.

Romeine 5:1: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Om vrede met God te hê, beteken nie jy het ‘n gevoel van rustigheid, vertroue of sekuriteit nie. Vrede met God beteken jy is met Hom versoen. Daar is nie meer vyandskap tussen jou en Hom nie, want jou sonde staan nie meer tussen julle nie. En daar is net een rede waarom daar vrede tussen jou en God is: Jesus se dood aan die kruis.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

Omdat jy met God versoen is en jou sonde nie meer tussen julle staan nie, kan jy in ‘n intieme verhouding met Hom wees. Jy kan met alles na Hom toe kom en eerlik met Hom wees oor jou hele lewe. Saam met Hom kan jy werk aan julle verhouding sodat dit dag na dag al hoe sterker word.

Jy hoef ook nie bang te wees dat sonde ooit weer jou verhouding met God gaan verbreek nie. Wanneer jy iets verkeerd doen, erken dit teenoor Hom en aanvaar die vergifnis wat reeds joune in Christus is.

HEILIG EN ONBERISPELIK.

Efesiërs 1:4: So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

God het ons, nog voor Hy die wêreld geskep het, reeds uitverkies. Dit beteken dat die verlossing van die mens net van Hom afhang. Ons kan ons redding nooit verdien nie, dis genade van God alleen.

As die redding van die mens van ons afgehang het, sou dit nooit gebeur het nie. God sou geen mens ooit as Sy kind kon aanneem nie. Maar deur wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, is ons nou heilig en onberispelik voor God. Ons is skoongewas deur Sy bloed en dit is hoe God ons sien wanneer Hy na ons kyk.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

Jou verlossing was nie ‘n ongeluk nie. God het jou gekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Dit beteken Hy het jou geskei van die wêreld wat verlore is en jou geroep om aan Hom te behoort.

GOD SE GEES IS IN MY.

1 Korinthiërs 2:12: Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.

Die dag toe jy in Jesus as Seun van God en Verlosser van jou lewe geglo het, het die Heilige Gees in jou kom woon. Jy is dus nou Sy tempel.

Hy is nie die gees van die wêreld nie, want hoewel ons nog in die wêreld is, is ons nie meer van die wêreld nie (Johannes 17:14,16). Ons is dus nie meer langer onder die beheer van die duiwel en sy sisteem nie.

Nee, die Heilige Gees is die Gees wat vryheid bring. Hy is die Gees wat ons beseël as God se eiendom. Hy is God se geskenk aan ons en sal ons in alle ewigheid nooit verlaat nie. En dit is Sy werk om ons te leer en te help verstaan wat alles aan ons behoort omdat ons in Christus is.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

Die Heilige Gees wil alles wat God vir jou het aan jou bekend maak. So, vra Hom om dit te doen! En moenie ophou by geestelike dinge, wat jy dalk nie verstaan nie. Vra Hom om jou te wys wat jy moet doen wanneer jy ‘n probleem het. Vra Hom om jou te help om te sien wat jy moet sien, te verstaan wat jy moet verstaan en te doen wat jy moet doen.

Dis deel van wat Hy in jou en vir jou wil doen, so vra Hom!

GESEëN MET ELKE GEESTELIKE SEëNING.

Efesiërs 1:3: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

Hoe wonderlik is dit nie dat God ons seën met al die seëninge wat in die hemel is nie! Hierdie uitdrukking verwys na al die goeie dinge waarmee God ons seën.

Hy het ons geseën met verlossing.

Hy het ons ook geseën met die gawes van die Gees.

Dan het Hy ons verder geseën met die vermoë om te doen wat Hy wil hê ons moet doen.

En Hy het ons geseën met die verwagting van die ewige lewe saam met ons Here Jesus Christus.

Al hierdie dinge is nou al ons s’n en ons kan dit nou al hier op aarde geniet.

WAT BETEKEN DIT VIR MY?

As hierdie seëninge nou al ons s’n is, en ons kan dit nou al geniet, dan beteken dit dat ons nou al daarin moet begin leef.

Dink ‘n bietjie oor die dinge wat ek hierbo genoem het.

Hoe kan jy jou verlossing uitleef?

Hoe kan jy die gawe of gawes, wat God deur Sy Gees vir jou gegee het, in ander se lewens gebruik?

Wat is daar wat God wil hê jy moet doen? Hoe kan jy gehoorsaam wees daaraan?

En sien jy uit na die dag wat jy vir altyd saam met Jesus in Sy Koninkryk gaan wees?

Onthou ook sommer om gereeld vir die Here dankie te sê vir al die wonderlike dinge wat Hy vir jou gegee het.

VERSE OM JOU TE HERINNER.

Daar is nog soveel ander verse wat ons herinner aan ons identiteit in Christus. As jy meer daaroor wil weet, of dit dalk wil studeer, kan jy hier ‘n gratis PFD aflaai om jou daarmee te help.

Deel hierdie blad

3 comments

    1. Hallo Prof Colin. So baie dankie vir die mooi boodskap. Ek is regtig bly dit wat ek skryf beteken iets vir julle. Alle eer aan die Here daarvoor!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *