KLAAGLIEDERE – AGTERGROND-INLIGTING

In 587-586vC kom Jerusalem tot ‘n val en word vernietig. Dis ‘n krisistyd vir die mense en hulle sit met baie vrae en wonder sommer of God nog daar is en vir hulle omgee. Dis dan ook kort na daardie tyd wat die boek Klaagliedere geskryf is. Kom ons kyk na ‘n bietjie agtergrond-inligting oor hierdie boek, wat nuttig kan wees wanneer jy ‘n Bybelstudie daaroor wil doen.

NAAM VAN DIE BOEK.

Die naam van die boek dui vir ons aan dat dit ‘n versameling liedere is, waarin die skrywers met hartseer terugkyk na die val en vernietiging van Jerusalem.

ONTSTAAN EN TYDPERIODE VAN KLAAGLIEDERE.

Die boek het kort na die val van Jerusalem in 586vC ontstaan.

Daar is verdeeldheid oor waar die boek sy ontstaan gehad het. Dit kon in Babel by die ballinge of in Jerusalem by die wat agtergebly het, gebeur het.

WIE HET KLAAGLIEDERE GESKRYF?

In 2 Kronieke 35:25 staan daar dat Jeremia ‘n treurlied oor Josia gedig het en dat dit in ‘n boek Die Treurliedere opgeneem is. Dit het daartoe aanleiding gegee dat kenners gedink het Klaagliedere is deur Jeremia geskryf. Dit boek staan dan ook in ons Afrikaanse Bybels bekend as die Klaagliedere van Jeremia.

Maar dis nie ‘n uitgemaakte saak dat dit regtig hy is wat dit geskryf het nie. Dit lyk eerder of elkeen van die vyf treurliedere deur ‘n ander persoon geskryf is.

WAT SE TIPE BOEK IS KLAAGLIEDERE?

Soos heelwat van die ander boeke, wat ons voor en na Klaagliedere kry, is dit ook een van die poëtiese boeke in die Bybel.

DOEL VAN DIE BOEK.

Die inwonders van Jerusalem, en sommer Israel in die algemeen, is in rou oor wat gebeur het. Die skrywer van die boek gebruik dan ook hierdie geleentheid om hulle daaraan te herinner dat God getrou is. Hy roep hulle op om tot inkeer te kom en God te vertrou.

Vir ons as Nuwe Testament-gelowiges sê hierdie boek dat ons bestaans- en geloofskrissise gaan teëkom in die lewe. Dit kan ‘n gelowige ontnugter, maar ons moet onthou dat God ons steeds vashou. Selfs midde-in ‘n krisis kan ons geloof verdiep en kan ons ‘n dieper toekomsperspektief kry.

HOOFTREKKE VAN KLAAGLIEDERE.

Daar is vyf hoofstukke in die boek Klaagliedere. Elkeen van dié hoofstukke bevat ‘n treurlied oor Jerusalem wat verwoes is.

In hoofstuk 1:1-22 is Jerusalem soos ‘n weduwee wat treur, maar niemand wil haar troos nie.

Hoofstuk 2 se treurlied is ‘n belydenis dat dit die Here is wat hulle getref het omdat hulle nie aan Hom gehoorsaam was nie. Maar ten spyte daarvan kan hulle nog op Hom hoop.

In hoofstuk 3 erken die skrywer dat dinge swaar gaan. Maar hy weet ook dat die Here diegene wat by Hom kom hulp soek, weer ophelp.

In hoofstuk 4 sien ons die Here se hulp kom nie altyd dadelik nie. Die mense in Jerusalem moet wag vir uitkoms en die spanning is besig om hoog te loop.

Hoofstuk 5:1-22 eindig met ‘n vraag aan die Here. Die skrywer wil weet of God so kwaad is vir hulle dat Hy hulle heeltemal verwerp het? Was hulle sonde so groot dat Hy hulle nie genade wil gee nie?

JESUS IN KLAAGLIEDERE.

Net soos die skrywers van Klaagliedere oor die val van Jerusalem treur, treur Jesus baie jare later ook oor Jerusalem.

Toe Klaagliedere geskryf is, het die stad fisies in puin gelê. In Jesus se tyd was die stad weer herbou, maar Jesus treur oor die Jode wie se geestelike lewens in puin lê.

SLEUTELVERSE IN KLAAGLIEDERE.

Daar is twee sleutelverse in die boek, albei in hoofstuk 3.

In Klaagliedere 3:24 staan: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

En in Klaagliedere 3:31-33 lees ons: “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”

KLAAGLIEDERE IN ONS LEWENS.

Die tempel in Jerusalem was vir die mense die simbool dat God by hulle is en hulle beskerm. Toe Jerusalem verwoes is, is die tempel ook verwoes. Die mense se simbool van God se nabyheid en beskerming is dus van hulle af weggevat. Nou moes hulle, te midde van twyfel en teluerstelling oor wat gebeur het, leer om steeds in God te glo en op Hom te hoop.

Ons het vandag ook baie ‘simbole’ van God se nabyheid. Ons sien byvoorbeeld ons geld, ons werk, of selfs die mense naby aan ons as bewyse van God se nabyheid en sorg. Maar hierdie dinge kan enige tyd van ons af weggevat word. En dit beteken nie dat God dan ook van ons af weggevat is nie! Nee, Hy is steeds by ons. Maar, net soos die Israeliete van ouds, moet ons leer om op God te vertrou ongeag wat in ons lewens aangaan.

VORIGE ARTIKELS.

Ons trek in hierdie reeks oor agtergrond-inligting oor die boeke van die Bybel nou al by Klaarliedere. As jy enige van die vorige artikels gemis het, of dit net weer wil lees of in jou Bybelstudies gebruik, maak dan hier ‘n draai. Al die artikels is op een blad bymekaar gesit om dinge vir jou makliker te maak.

Seën en sterkte met jou studies van God se Woord!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *