
In Psalm 19 sien ons hoe die Here Homself openbaar deur die skepping en deur Sy Woord. Vandag gaan ons hierdie psalm van naderby bekyk om te sien wat ons alles daaruit kan leer.
PSALM 19 – VERSE 1-7.
Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
Dag ná dag bring dit ‘n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee.
Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie,
gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld.
Vir die son het Hy ‘n tent opgeslaan in die hemel.
Die son is soos ‘n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos ‘n held wat op die pad hardloop.
Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie.
GOD OPENBAAR HOMSELF IN DIE NATUUR.
In die eerste verse van Psalm 19 lees ons hoe God Homself openbaar in die natuur.
Onthou jy Job se storie? Allerhande nare dinge het met hom gebeur – hy het sy kinders, sy rykdom en sy gesondheid verloor. Sy vriende het hom probeer bemoedig, maar hulle het dinge net erger gemaak. Hulle was oortuig daarvan dat al hierdie dinge met hom gebeur het as gevolg van sonde – syne of sy kinders s’n. Omtrent die hele boek van Job bestaan dan ook uit die gesprekke tussen hom en sy vriende.
Maar dan tree God in en praat met Job. Dis interessant om daarop te let dat God Job heeltyd terugwys na die skepping. Hy vertel vir Job wat Hy gedoen het, en vra hom of hy dieselfde kan doen. Job beskuldig die Here daarvan dat Hý sy probleme veroorsaak het, wat nie waar was nie. Maar God probeer nooit vir Job oortuig van Sy onskuld in die saak nie. Hy wys net die heeltyd terug na die skepping.
Dit het my herinner aan Romeine 1:20. Daar staan: “Want Sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle [die mens] sonder verontskuldiging…“
Is dit nie wonderlik nie? Ons kan God se krag en goddelikheid sien deur maar net na die skepping te kyk. Dalk moet ons meer oplet na die wonderlike dinge wat God gemaak het. Ons mag dalk net meer oor Hom leer deur die dinge wat Hy geskep het.
PSALM 19 – VERSE 8-15.
Terwyl die eerste verse van Psalm 19 ons aandag vestig op die skepping en wat ons oor God uit die natuur kan leer, vestig die laaste verse ons aandag op God se opdragte en die seëninge wat vervat is daarin. Kom ons lees wat staan daar.
Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges.
Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.
Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig.
Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as ‘n heuningkoek wat drup.
Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer ‘n mens daarby hou, is die beloning groot.
Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes!
Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings.
Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.
DIE WET VAN DIE HERE.
In Psalm 19:8a staan daar: “Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag.“
In die 1953-vertaling van die Bybel staan daar die wet verkwik die siel. Volgens die Strongs woordeboek verwys die ‘siel’ hier na ‘n wese wat asemhaal en kan dit gebruik word vir die liggaam of die verstand.
Die Woord van God, of Sy instruksies (wet), is voordelig vir ons liggame wanneer ons daaraan aandag gee en dit gehoorsaam. In Spreuke 4:20-22 lees ons: “My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing.“
God se Woord is ook wat ons gebruik om ons denke te vernuwe. In Romeine 12:2 staan daar: “Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.“
DIE BEPALINGS VAN DIE HERE.
In die tweede gedeelte van Psalm 19:8 lees ons: “…die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges.“
Ons kan die bepalings van die Here vertrou. Hy het altyd net die beste vir ons in gedagte.
In Spreuke 3:5-7 staan daar: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad.“
Ons mag dink dat ons baie slim is en alles weet, maar ware wysheid kom van God. En ons moet aandag gee aan Sy bepalings sodat ons Sy wysheid, wat daarin vervat is, ons eie kan maak.
DIE HERE SE OPDRAGTE.
In Psalm 19:9a staan daar: “Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly.“
God is altyd reg. Hy sien die groter prentjie en kan dus vir ons die regte opdragte gee en ons so op die regte pad lei.
Gehoorsaamheid aan Hom maak die hart bly, want ons weet dat ons dié dinge doen wat vir Hom aanneemlik is en Hom behaag.
GOD SE GEBOD.
Psalm 19:9 se tweede gedeelte lui só: “…die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.“
God se Woord, of Sy gebod, gee vir ons lig om in te lewe. In Psalm 119:105 lees ons: “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.“
Sonder hierdie lig gaan ons nie weet waar om te loop nie. Ons gaan afdwaal van God se pad. Maar gelukkig weet ons ook dat God ons nie sal los om maar te verdwaal nie, want in Jesaja 30:21 staan daar: “Met julle ore sal julle ‘n woord agter julle hoor: “Hier is die pad, gaan daarop, wanneer julle regs of links wil hou!“

ONTSAG VIR DIE HERE.
Psalm 19:20a lees: “Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand.“
Ek het ‘n mooi definisie gelees van wat die beteken om ontsag vir die Here te hê. Dit beteken om Hom te respekteer vir wie Hy is en om Hom te vertrou en te gehoorsaam.
Ons as God se kinders ken Hom reeds hier op aarde. Ons weet nou al wie Hy is en moet daarom vir Hom ontsag hê. En wanneer ons vir Hom ontsag het, sal dit ook vir ongelowiges wys hoe groot, magtig en wonderlik Hy is.
DIE BESLISSINGS VAN DIE HERE.
Psalm 19:9 se tweede gedeelte lees só: “…die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig.“
Ek het reeds hierbo genoem dat God altyd reg is. Sy beslissings is dan ook altyd reg en regverdig. Wanneer ons Hom gehoorsaam, lei Sy opdragte, gebooie, beslissings, wette en bepalings ons op die paaie van geregtigheid. Dit help ons om binne Sy plan vir ons lewens te leef.
BAIE KOSBAAR.
Ons het almal besittings wat vir ons van waarde is. Sommige het waarde omdat hulle baie geld werd is. Ander is nie veel werd nie, maar hulle het sentimetele waarde.
In die volgende verse van Psalm 19 sien ons die waarde van God se Woord. In vers 11 staan: “Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as ‘n heuningkoek wat drup.“
Laat ons God se Woord dus met die nodige eerbied hanteer. Mag ons meer daarna honger as na geld en besittings. En mag ons daagliks ons gees daarmee voed, net soos ons elke dag ons liggaam met fisiese kos voed.
‘N GEBED VIR ELKE DAG.
Die laaste vers van Psalm 19 is ‘n gebed wat ons gerus maar elke dag kan bid. Daar staan: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.“
God maan ons oor en oor in die Woord om slegs die woorde te sê wat Hy sê. Dit beteken ons glo wat Hy in Sy Woord sê, en daarom sê ons dieselfde. Ons sê nooit dinge wat teenstrydig is met Sy Woord nie.
Ons word ook gemaan om die Woord dag na dag te oordink, of mymerend te prewel•, sodat ons dit kan gehoorsaam. Dít is die enigste manier om voorspoedig te wees op ons pad en sukses te behaal.
Hierdie is nie ‘n volledige Bybelstudie van Psalm 19 nie, daarom wil ek jou aanmoedig om jou eie studie te doen. Gebruik een van die Bybelstudie-metodes waaroor ons al gesels het en kyk wat jy nóg uit Psalm 19 kan leer.
- Sien nota by Joshua 1:8 in die 2020-vertaling
