
Daar was ‘n tyd in my lewe toe my tyd saam met Jesus baie eenvoudig was. Dit was net ek en Hy, Sy Woord en my joernaal waarin ek neergeskryf het wat ek geleer het.
Maar deur die jare het ek nuwe dinge bygevoeg. Ek het die Bible app ontdek en dit deel van my tyd met Jesus gemaak. Jesus het my die VOLG-metode gegee en dit het deel geword van ons tyd saam.
Later het nog apps gevolg. Sommige het my gehelp om die Bybel beter te verstaan. Ander het my gehelp om stil te word en na te dink oor dit wat Jesus my geleer het.
Party van die apps het ek intussen weer van my foon af ‘gedelete’ terwyl ander nou al letterlik jare deel is van die hulpmiddele wat ek elke oggend in my stiltetyd gebruik.
WANNEER HULPMIDDELE DEEL WORD VAN STILTETYD.
Vroeër die jaar sit ek een oggend, koffie in die hand, en lees ‘n Christelike boek op my Kindle app. Om sulke boeke te lees het op een of ander stadium ook deel geword van my tyd saam met Jesus.
Die hoofstuk waarmee ek besig is, begin met die bekende vers in Psalm 46:11. In die Afrikaanse vertaling staan: “Bedaar en erken dat Ek God is….” In die Engelse vertaling is dit: “Be still and know that I am God…” (vs.10).
Die skrywer gebruik hierdie vers om die idee oor te bring dat ‘n mens regtig die Here se stem hoor wanneer jy stil word. Jy hoor Hom wanneer jy ontslae raak van alles wat jou aandag kan aftrek, wanneer jy ophou om so besig te wees en net in stilte by Hom kan wees.
En die Here lê die gedagte in my hart dat, hoewel al die hulpmiddele wat ek in ons tyd saam gebruik goed is en vir my van waarde kan wees, kan dit ook verhoed dat ek regtig hoor wat Hy vir my wil sê.
MARIA HET DIE BESTE DEEL GEKIES.
Onthou jy wat het Jesus vir Martha gesê toe sy gekla het oor Maria wat haar nie help met die voorbereidings vir hulle gaste nie? Jesus het gesê Maria het die beste deel gekies, die een ding wat nodig is.
Maria het nie ‘n foon met ‘n klomp apps gehad wat sy gebruik het in haar tyd saam met Jesus nie. Sy het nie ‘n fisiese Bybel gehad wat sy kon lees nie. Sy het nie allerhande metodes gehad om haar te help om die Bybel beter te verstaan nie. En sy het nie ‘n pen en ‘n joernaal gehad waarin sy kon neerskryf wat Jesus vir haar sê en haar leer nie.
Maria het iets veel beter gehad. Sy het vir Jesus gehad – ‘n vlees-en-bloed Jesus wat fisies in hulle huis gesit het en by wie sy kon sit en na wie sy kon luister.
Dit klink na ‘n wonderlike voorreg, tot jy onthou dat ons iets het wat nóg beter is. Ons het Jesus nou wel nie meer in vlees-en-bloed by ons nie, maar deur die Heilige Gees het ons Hom in ons. En Hy is al wat ons nodig het om tyd saam met Hom te spandeer.
JESUS IS AL WAT ONS NODIG HET.
Die Bybel is ‘n belangrike hulpmiddel, want Jesus gebruik dit om met ons te praat en ons te leer wat Hy wil hê ons moet weet.
‘n Bybelleesplan en ‘n metode, soos die VOLG-metode, is van waarde omdat jy nooit hoef te wonder waar jy moet lees nie en die stappe jou help om dieper in die Woord te gaan.
Verskillende apps kan jou help om in die gewoonte te kom om tyd met Jesus te spandeer. Dit kan jou ook help om die Bybel beter te verstaan, om na te dink oor die Woord, of om jou gebedslewe te verbeter.
Maar al wat jy eintlik nodig het om tyd saam met Jesus te spandeer, is vir Hom. En Hy is altyd, deur die Heilige Gees, by jou en in jou.
Hy is daar wanneer mense jou eenkant toe skuif en van jou vergeet.
Hy is daar wanneer die lewensstorms om jou woed en dit lyk asof jou hele wêreld besig is om in duie te stort.
Dan is Hy daar in die vreugdes van die lewe, in elke goeie ding wat met jou gebeur, in elke volmaakte geskenk wat jy uit God se hand ontvang.
Hy is daar in die vroeë oggendure wanneer jy nie kan slaap nie en jy bemoediging, ondersteuning, rus en vrede nodig het.
Hy is daar. Altyd. En Hy het belowe om jou nooit te verlaat of in die steek te laat nie.
DIT GAAN OOR VERHOUDING, NIE HULPMIDDELE NIE.
So, word stil by Hom. Gebruik ‘n leesplan, ‘n metode of app as jy agterkom dit help jou in jou tyd met Hom. Maar onthou ook dat Hy, jy en Sy Woord eintlik al is wat nodig is.
Want dit gaan nie oor al die hulpmiddele wat jy in jou tyd saam met Hom gebruik nie.
Dit gaan oor die verhouding wat julle bou terwyl julle tyd saam spandeer.
En om ‘n verhouding met Jesus te bou is al wat nodig is Hy, jy en Sy Woord in die stilte in julle tyd saam!
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
As jy nog nie gereeld tyd saam met Jesus spandeer nie, neem dan nou die besluit dat jy dit gaan begin doen.
Kies vir jou ‘n tyd wanneer jy dit gaan doen en ‘n plek waar jy dit gaan doen. Sit jou Bybel daar neer en word sommer net daar stil en vra vir Jesus om jou te help om elke dag op te daag vir julle tyd saam.
Maak dan ‘n punt daarvan om hierdie afspraak met Jesus elke dag na te kom. Want om tyd met Hom te spandeer is die beste ding wat jy met jou tyd kan doen!
HET JY ‘N BIETJIE HULP NODIG OM TE BEGIN?
Hoewel dit waar is dat ons nie allerhande hulpmiddele nodig het vir ons tyd saam met Jesus nie, is dit ook waar dat sulke hulpmiddele nogal baie handig te pas kom wanneer ‘n mens net begin om in die gewoonte te kom om tyd met Jesus te spandeer.
So, as jy bietjie hulp nodig het hiermee, kyk gerus na die Nader Aan Jesus Versameling, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié versameling is daar drie e-gidse wat jou gaan help om stil te word by Jesus, die VOLG-metode te gebruik om te hoor wat Hy vir jou deur Sy Woord wil sê, en om met Hom in gebed te gesels.
Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel, kry jou Nader Aan Jesus Versameling en begin om gereeld tyd saam met Hom te spandeer!

