STILTETYD: HOE OM TYD SAAM MET JESUS TE SPANDEER

As jy ‘n Christen is, het jy waarskynlik al van stiltetyd gehoor.

Hierdie woord kom nêrens in die Bybel voor nie, maar die dissiplines wat deel vorm van stiltetyd, is beslis Bybels. Die gewoonte om daagliks tyd alleen met die Here in Sy Woord en in gebed te spandeer, is nie net op die Bybel gebaseer nie, maar is absoluut noodsaaklik vir elke kind van God.

Die term stiltetyd het eers in die laat 1800’s ontstaan en is later, gedurende die 1950’s, deur Billy Graham meer populêr gemaak.

Maar wat behels stiltetyd nou eintlik? Waarom is dit so belangrik? En hoe kan jy dit deel maak van jou daaglikse lewe?

Kom ons kyk daarna.

WAT IS STILTETYD?

Anders as die meeste ander geestelike dissiplines, is stiltetyd eintlik drie dissiplines wat saamgevoeg word. Dit is die dissiplines van Bybellees, gebed en om stil te wees by die Here.

Hierdie is die kerndissiplines, hoewel daar ander is wat ‘n mens ook kan byvoeg. Dis nou dinge soos om ‘n joernaal te hou, na geestelike musiek te luister, Bybelstudie te doen, ‘n Christelike boek te lees, ensovoorts.

Hoewel die term stiltetyd nie in die Bybel voorkom nie, sien ons dat hierdie drie kerndissiplines oral in die Bybel genoem word.

Jesus het gereeld weggeglip van die dissipels en die skare wat Hom gevolg het, en alleen tyd met die Vader spandeer (Lukas 5:16). En as Hy dit nodig gehad het, hoeveel te meer het ons dit nie nodig nie!

Ons word ook gereeld aangemoedig om te bid. Kolossense 4:2 sê byvoorbeeld: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar…”

Dan word ons ook aangemoedig om tyd in die Woord te spandeer. Dink maar aan die bekende Psalm 1, waar die psalmis sê: “Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (Psalm 1:1-2).

Stiltetyd is dus eenvoudig tyd wat jy alleen met die Here spandeer sodat jy op Hom kan fokus en al jou aandag aan Hom kan gee. Jy lees en oordink Sy Woord, gesels met Hom in gebed en neem tyd om stil te word voor Hom.

WAAROM IS STILTETYD BELANGRIK?

Die Bybel maak een ding baie duidelik: God wil ‘n verhouding met ons as mense hê. Hierdie verhouding is veronderstel om een te wees waar ons Hom regtig ken, verstaan wie Hy is en persoonlike ervarings van Sy karakter en handelinge het.

ONS WIL GOD BETER LEER KEN.

As jy dink aan jou verhoudings met jou man, jou kinders of jou vriende, sal jy weet dat jy hierdie mense regtig ken omdat jy gereeld tyd met hulle spandeer. Dieselfde is waar van ons verhouding met God. Ons leer Hom beter ken deur gereeld tyd met Hom in Sy Woord en in gebed te spandeer.

Die eerste rede waarom ons dus tyd met God spandeer, is omdat ons Hom beter wil leer ken.

ONS WIL JESUS SE VOORBEELD VOLG.

Ons spandeer tyd met God omdat ons sien dat dit is wat Jesus gedoen het.

Hy het gereeld alleentyd met die Vader spandeer (Lukas 5:16).

Hy het gereeld tyd in gebed spandeer (Matteus 6:6).

En Hy het ook die Skrif soos die palm van Sy hand geken. Dis waarom Hy, toe die duiwel Hom versoek het, die Woord aangehaal het en dinge gesê het soos: “‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matteus 4:4; Deuteronomium 8:3).

As ons Jesus se voorbeeld wil volg, moet ons hierdie drie dissiplines ook in ons lewens toepas. En stiltetyd is die ideale manier om dit te doen.

ONS WIL DEUR GOD GEVORM WORD.

Daar is soveel dinge wat deesdae ‘n invloed op ‘n mens se lewe het. Daar is die mense met wie jy elke dag skouers skuur en wat jou kan beïnvloed. Dan is daar sosiale media, alles wat jy op Netflix sien, artikels en video’s op die internet, ensovoorts. Al hierdie dinge het ‘n invloed op jou groei en op die mens wat jy besig is om te word.

Maar waar pas God in daardie prentjie in?

Hoeveel van jou tyd spandeer jy daaraan om Hóm die geleentheid te gee om jou te beïnvloed en jou te vorm sodat jy die mens word wat Hy bedoel het jy moet wees?

Hoe meer tyd jy met die wêreld se dinge spandeer, hoe meer gaan jy soos die wêreld begin leef. Maar hoe meer tyd jy met God in Sy Woord en in gebed spandeer, hoe meer gaan Hy jou verander sodat jy soos Jesus begin lyk.

ONS WIL IN JESUS BLY EN VRUG DRA.

Jesus sê dat ons in Hom moet bly, want dit is wanneer ons in Hom bly dat ons vrug dra (Johannes 15:4-5). Ons bly in Christus deur in ‘n lewende verhouding met Hom te wees. Sy Woord moet in ons bly, en dit gebeur wanneer ons tyd daaraan bestee om dit te lees, te bestudeer, daaroor te dink, dit te memoriseer en prakties uit te leef.

As ons nie in Jesus bly nie, gaan ons nie vrug dra nie. Onthou, Hy het gesê dat ons sonder Hom niks kan doen nie.

Tyd saam met Hom in Sy Woord, in gebed en deur stil te word by Hom, is dus van uiterste belang.

Dit is nie ‘n manier om God se guns te verdien of om Hom te probeer beïndruk nie. Dit is ‘n geleentheid om tyd te spandeer met die Een wat ons eerste liefgehad het, om Hom beter te leer ken en toe te laat dat Hy ons lewens verander.

WANNEER MOET EK STILTETYD HOU?

Ons is almal unieke mense met unieke omstandighede, en daarom is daar nie ‘n regte of verkeerde antwoord op hierdie vraag nie.

Sommige mense se beste tyd is in die oggend. Ander s’n is weer in die aand. En sommige se ideale tyd is iewers in die middel, soos byvoorbeeld net voor of net ná middagete.

Die belangrike ding om te onthou, is dat jy jou stiltetyd moet hou op ‘n tyd wanneer jy kan fokus. Moet dus nie probeer om dit aan die einde van jou dag te doen as jy dan al so flou is dat jy net in die bed wil val en slaap nie.

En as jy ‘n naguil is, moenie dit eerste ding in die oggend probeer doen wanneer jy nog half aan die slaap is en nie eers koffie jou kan wakker kry nie!

Die tyd om stiltetyd te hou, is dus die tyd wat vir jou, met jou unieke omstandighede en persoonlikheid, gaan werk.

Want dit gaan nie regtig oor wanneer jy dit doen nie, maar dat jy doelbewus tyd daarvoor maak.

‘N STAP-VIR-STAP PLAN VIR STILTETYD.

Ons het nou gesels oor wat stiltetyd is, waarom dit belangrik is en ook wanneer jy dit moet doen.

Nou kom ons by die hoe. Hoe gaan ‘n mens te werk om te begin stiltetyd hou? En wat doen jy nou eintlik wanneer jy gaan sit om tyd met die Here te spandeer?

Hier is ‘n eenvoudige stap-vir-stap plan wat jy kan volg.

KIES ‘N TYD EN PLEK.

Jou eerste stap is om ‘n tyd te kies wanneer jy jou stiltetyd wil hou. Onthou dat dit ‘n tyd moet wees wanneer jy kan fokus. Dit moet ook verkieslik ‘n tyd wees wat jy elke dag min of meer op dieselfde tyd kan hou. Hoe meer gereeld jy dit doen, hoe makliker gaan dit word om dit deel van jou daaglikse roetine te maak.

Volgende gaan jy ‘n plek kies waar jy dit wil doen. Probeer om ‘n plek te kies waar niemand jou gaan pla nie. En as jy kan, maak dit ‘n plek wat jy elke dag kan gebruik.

Op dié manier gaan jou brein naderhand daardie plek met jou tyd saam met God assosieer. Dit kan baie help om jou aan te spoor om tyd met Hom te spandeer en om daardie tyd te geniet.

Jy het nie ‘n spesiale vertrek of duur hulpmiddele nodig nie. ‘n Stil hoekie, jou Bybel, ‘n notaboek en ‘n pen is meer as genoeg.

BEGIN MET GEBED.

Begin altyd jou tyd met God in gebed. Loof Hom vir wie Hy is en sê vir Hom dankie vir wat Hy vir jou doen en gee.

Dit help jou om van die begin af te fokus op die Een met wie jy tyd spandeer en wat jy beter wil leer ken.

In hierdie gebedstyd kan jy ook ander gebedselemente inbring. Jy kan ander mense en dinge waarvoor jy wil bid, voor die Here bring. Jy kan alles wat jy in jou eie hart saamdra voor Hom uitstort en met Hom daaroor gesels.

Dan kan jy Hom ook dankie sê vir allerhande ander dinge in jou lewe. En natuurlik kan en moet jy sondes waarvan Hy jou bewus gemaak het, voor Hom bely en Hom vra om jou te verander sodat dit nie meer deel van jou lewe is nie.

DIE LUISTER-GEBEDSMETODE.

Ek verkies om, voordat ek tyd met die Here in Sy Woord spandeer, al hierdie elemente in my gebede in te sluit. Op dié manier is my kop en hart gefokus op die Here en kan ek met ‘n oop hart luister na wat Hy deur Sy Woord vir my wil sê en leer.

Dis dan ook waarom ek die LUISTER-gebedsmetode ontwikkel het. Hierdie metode help jou om al die verskillende gebedselemente in jou gebed in te sluit en gee jou ‘n eenvoudige riglyn wat jy kan volg, sodat jy nie hoef te wonder waaroor jy nou eintlik moet bid nie.

Jy kan meer oor hierdie metode lees in my gids In Gesprek Met Jesus.

Maar onthou, daar is nie net een regte manier om jou gebedstyd in te deel nie. As jy verkies, kan jy aan die begin net die Here loof en prys en die ander gebedselemente insluit in die gebed wat jy bid nadat jy tyd met Hom in die Woord spandeer het.

Die belangrikste is dat jy met Hom gesels.

SPANDEER TYD IN DIE WOORD.

Om jou Bybel te lees, is ‘n belangrike deel van jou stiltetyd. Dis deur Sy Woord wat ons Hom beter leer ken. Sy Woord is ook die primêre manier waarop Hy met ons praat en waardeur Hy ons laat groei en verander sodat ons meer soos Jesus word.

Wat jy lees en hoeveel jy lees, is jou keuse. Maar ‘n Bybelleesplan is altyd handig, want dit help jou om nie te sit en wonder waar jy moet lees nie. Jy volg eenvoudig net die plan!

En as jy ‘n leesplan gebruik wat jou help om met verloop van tyd deur die hele Bybel te lees, soveel te beter!

Jy kan ook sommer net ‘n boek in die Bybel kies en elke dag ‘n gedeelte daarvan lees. Onthou, jy hoef nie ‘n lang gedeelte te lees om iets uit die Woord te kry nie.

Die belangrikste is dat jy gereeld tyd in die Woord spandeer en moeite doen om te verstaan wat jy lees.

DELF DIEPER MET DIE VOLG-METODE.

Net omdat jy in jou stiltetyd die Bybel lees en nie noodwendig ‘n volledige Bybelstudie doen nie, beteken dit nie dat jy sommer gou deur jou gedeelte vir die dag moet jaag en niks daaruit kry nie!

Om die meeste uit die Woord te kry, moet jy jou tyd neem. Jy moet stadiger daardeur lees, daaroor nadink en saam met die Heilige Gees bepaal hoe jy dit wat Hy jou leer, in jou lewe kan toepas.

Die VOLG-metode is ideaal hiervoor. Die letters van die metode staan vir die vier stappe wat jy gebruik:

V – Vra God se leiding.

O – Ondersoek die teks.

L – Let op die lesse.

G – Gaan en wees ‘n doener van die Woord.

Die doel van tyd met die Here in Sy Woord is nie om net meer kennis oor die Bybel te kry nie, maar om toe te laat dat Sy Woord jou denke, gesindheid en optrede verander.

As jy meer wil leer oor hoe om die Bybel self te bestudeer en dit prakties in jou lewe toe te pas, kan jy gerus na my gids Jesus, Die Bybel, En Jy kyk. In hierdie gids leer ek jou hoe om die VOLG-metode te gebruik om God se Woord te ondersoek en toe te pas.

HOU ‘N JOERNAAL.

‘n Belangrike deel van stiltetyd is om neer te skryf wat die Here jou leer. Op dié manier gaan jy dit beter onthou. Jy gaan ook later kan teruggaan en weer lees wat Hy jou voorheen geleer het.

Hou dus altyd ‘n notaboek of joernaal byderhand waarin jy die volgende dinge kan neerskryf:

  • Die datum;
  • die Skrifgedeelte vir die dag;
  • die lesse wat jy geleer het;
  • hoe jy dit in jou lewe gaan toepas.

Jy kan ook jou gebede in jou joernaal neerskryf. Dit is veral ‘n goeie idee as jou gedagtes geneig is om te dwaal wanneer jy bid.

En onthou, niemand anders gaan jou joernaal lees nie, so jy hoef nie jou mooiste handskrif te gebruik wanneer jy daarin skryf nie. Jy hoef ook nie bladsye vol op ‘n slag te skryf nie. Skryf eenvoudig neer wat vir jou uitgestaan het en wat jy nie wil vergeet nie.

EINDIG MET GEBED.

Nadat jy die gedeelte gelees en oordink het, neem ‘n paar oomblikke om met die Here daaroor te gesels.

Praat met Hom oor dit wat jy geleer het. Vra Hom om jou te help om Sy Woord te verstaan en dit wat jy geleer het, in jou daaglikse lewe toe te pas. As daar iets is wat jy moet verander of waarmee jy moet ophou, vra Hom om jou daarmee te help.

Jy kan ook vir Hom dankie sê vir wat Hy jou deur Sy Woord geleer het en enige ander dinge wat op jou hart is, met Hom deel.

Onthou, gebed is nie net iets waarmee jy jou stiltetyd begin nie. Dis ook hoe jy deur die loop van jou dag met die Here in gesprek bly. Neem dus dit wat jy tydens jou stiltetyd geleer het saam met jou en probeer om deur die dag daarop te fokus.

MAAK DIT ‘N GEWOONTE.

Stiltetyd is nie veronderstel om iets te wees wat jy net so nou en dan doen nie. Dis veronderstel om ‘n daaglikse gewoonte te wees. Beskou dit as jou daaglikse afspraak met die Skepper van die heelal.

Dit beteken nie dat elke dag se stiltetyd dieselfde gaan lyk of ewe lank gaan wees nie. Daar gaan dae wees wanneer jy meer tyd het en dae wanneer jou omstandighede dit moeilik maak om lank stil te sit. Die belangrike ding is om aan te hou om tyd vir die Here te maak.

Moenie dat een besige dag of ‘n dag waarop jy nie jou stiltetyd gehou het nie, jou laat tou opgooi nie. Begin eenvoudig weer die volgende dag.

Hou aan om op te daag vir hierdie afspraak. Hou aan om dit ‘n prioriteit in jou dag te maak en vertrou die Here dat Hy wat “die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Filippense 1:6).

KOM SIT BY JESUS.

Dalk is jy iemand wat al jare lank stiltetyd hou. Dalk is jy iemand wat graag wil begin, maar nie mooi weet waar om te begin of hoe om dit te doen nie.

Of dalk het stiltetyd vir jou iets geword wat jy bloot doen omdat jy voel jy moet, eerder as ‘n tyd waarna jy uitsien.

Wat ook al jou situasie is, onthou dat stiltetyd nie oor ‘n perfekte roetine, ‘n klomp afgemerkte blokkies of ‘n sekere hoeveelheid Bybelhoofstukke gaan nie.

Dit gaan oor Jesus.

Dit gaan daaroor dat jy tyd maak om by Hom te wees, om Hom beter te leer ken deur Sy Woord, met Hom te gesels in gebed en stil te word in Sy Teenwoordigheid.

As jy graag wil leer hoe om jou tyd saam met Jesus te begin en ‘n eenvoudige, betekenisvolle stiltetydroetine te ontwikkel, het ek die gids Kom Sit By Jesus spesiaal daarvoor saamgestel.

Dit is ‘n praktiese gids wat jou help om met stiltetyd te begin sodat jy in die gewoonte kan kom om tyd met Jesus te spandeer, in Sy Woord na Hom te luister en in gebed met Hom te gesels.

So, moenie dat die gedagte aan stiltetyd jou oorweldig nie.

Kom sit eenvoudig by Jesus. Maak tyd om Hom te leer ken. En kom ontdek die vreugde daarvan om elke dag ‘n bietjie meer tyd saam met Hom te spandeer.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *