
Ons het in vorige artikels gekyk na die eerste vyf boeke van die Bybel, en wat jy alles daaroor moet weet om die boeke so ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag gaan ons stilstaan by Josua, die sesde boek van die Bybel.
Hierdie boek beskryf hoe die Israeliete die Beloofde Land ingeneem en verower het. Dit vertel ook vir ons hoe God hulle daarmee gehelp het. En laastens kry ons ‘n kykie op hoe die land onder die verskillende stamme verdeel is.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Hierdie boek is die eerste een in die Bybel wat vernoem is na ‘n fisiese persoon.
Josua was die seun van Nun uit die stam van Efraim. Sy naam was eers Hosea, wat ‘verlossing’ beteken. Maar Moses het hom die naam Josua gegee, wat ‘God verlos’ beteken.
Josua was een van die twaalf manne wat die Beloofde Land gaan verken het. Hy was ook, saam met Kaleb, die enigstes wat op daardie stadium geglo het dat God hulle sou help om die land in besit te neem.
Na Moses se dood neem Josua die leierskap oor.
WAAR JOSUA AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.
Josua speel af in Kanaän, aan beide kante van die Jordaanrivier.
Die eerste gedeelte van die boek kyk na die sewe jaar waartydens die Israeliete die land ingeneem en verower het.
Die laaste gedeelte gaan oor die agt jaar waartydens die land tussen die verskillende stamme verdeel is.
WIE HET JOSUA GESKRYF?
Daar is min twyfel daaroor dat Josua self die boek, wat sy naam dra, geskryf het. Uit Josua 24:26 kan ons aflei dat hy die boek geskryf het ná die land onder die stamme verdeel is.
Die gedeelte oor sy dood, aan die einde van die boek, is later bygevoeg, waarskynlik deur Samuel of Esra.
WAT SE TIPE BOEK IS JOSUA?
Josua is ‘n historiese boek, wat in storievorm vertel word. Dis ‘n boek oor oorwinning.
Dit is ook ‘n teologiese boek waar ons leer dat God getrou is. Hy is ‘n Verbondsgod wat altyd Sy beloftes nakom.
DIE DOEL VAN JOSUA.
Die boek het ‘n tweeledige doel.
In die eerste plek gaan die boek oor die militêre oorwinning en inname van die land.
Die eerste keer toe die verkenners uitgestuur is, het die Israeliete gekies om nie vir God te glo nie. Hulle het eerder die tien verkenners geglo, wat gesê het daar is reuse in die land en dat hulle soos koringkrieke in hulle eie oë was (Numeri 13).
Hier in Josua sien ons hoe ‘n hardkoppige volk verander word in ‘n gedugte, gedissiplineerde weermag.
Daar is ook ‘n geestelike doel omtrent die boek.
Dit leer ons dat God getrou is. Hy het die land aan Israel beloof en het Sy belofte nagekom.
Net soos God die land aan die Israeliete beloof het, het Hy ook sekere dinge aan ons as Sy kinders beloof. En Hy kom ook al dáárdie beloftes na.
HOOFTREKKE VAN JOSUA.
Ons kan Josua se hoofstukke só opdeel:
1-2: Voorbereidings om die land binne te gaan.
3-5: Die oorsteek van die Jordaanrivier.
6-12: Die verowering van die Kanaänitiese stede.
13-21: Die verdeling van die land.
22-24: Slot.
BELANGRIKE KARAKTERS IN JOSUA.
Daar is drie belangrike karakters in Josua.
Josua is natuurlik ‘n belangrike karakter. Hy neem die leierskap by Moses oor en maak sy werk klaar. Hy lei dan ook die volk tydens die intog en vestiging van Israel in die land.
‘n Tweede belangrike karakter is Eleasar. Hy is een van Aäron se seuns en tree as hoëpriester op. Hy verstewig ook die grondslag waarop die priesterdom van Israel gebou was.
Die derde belangrike karakter is Ragab. Sy was ‘n prostituut wat die verkenners in Jerigo help. Wanneer sy met die verkenners praat, bely sy wie die Here is en wat Hy alles vir Israel gedoen het tydens die intog.

GOD SE NAME IN JOSUA.
Ons kry drie van God se name in Josua.
Daar is die naam ‘JHVH’, wat HERE beteken. Elke keer wat daardie naam in die Bybel vertaal is, sal jy sien dit is alles met hoofletters geskryf.
Dan is daar die naam ‘Elohim’, wat God beteken.
En laastens is daar ‘Adonai’, wat die Heer of my/ons Heer beteken.
GELOOFSLESSE UIT JOSUA.
Daar is ‘n paar geloofslesse wat ons uit Josua kan leer.
ONS ERFPORSIE IN CHRISTUS.
Net soos God die land aan die Israeliete beloof het, het Hy ook sekere dinge aan ons as Sy kinders beloof. Ons kan dit sommer ons ‘erfporsie in Christus’ noem.
Ons lees meer oor hiérdie erfporsie in Efesiërs 1, waar ons onder andere sien ons is:
- geseën met elke geestelike seëning in die hemel;
- uitgekies om heilig en onberispelik in liefde voor God te wees;
- vooruitbestem om deur Jesus as Sy kinders aangeneem te word.
Hierdie is net drie van die wonderlike dinge wat aan ons behoort omdat ons in Jesus glo. Gaan lees gerus die res van Efesiërs 1 en kyk wat nog alles deel is van jou erfporsie in Christus.
KARAKTERTREKKE VAN GELOOF.
Ons sien ook drie verskillende karaktertrekke van geloof in Josua.
In die eerste plek beteken om te glo dat ons God se standaard van heiligheid aanvaar. In 1 Petrus 1:15 lees ons: “Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees.” Sien jy dit? Jou hele lewenswandel. Dit beteken jou gedagtes, jou innerlike lewe, jou woorde, jou dade, ensovoorts.
Tweedens beteken geloof dat ons glo in God se wil. Soms maak Sy wil nie sin nie – dink aan die strategie wat Hy die Israeliete gegee het toe hulle Jerigo gaan inneem het. Maar ons sien nie die groter prentjie nie, en daarom wil ons nie altyd glo God se wil is die beste nie. Ons moet egter, selfs al verstaan ons nie, God genoeg vertrou om te doen wat Hy sê.
En laastens beteken geloof dat ons glo in God se mag en krag om die oorwinning te behaal.
Ons moet nooit die fout maak om ons onsself te vertrou nie.
Onthou, sonder God kan ons niks doen nie (Johannes 15:5). Maar met God is alle dinge moontlik en wanneer Hy ons krag gee, kan ons enige iets doen (Mattheus 19:26; Filippense 4:13).
JESUS IN JOSUA.
Josua se naam is die Hebreeus vorm van die naam Jesus.
Deur hom het God die Israeliete na ‘n plek van rus in die Beloofde Land gebring. Dis ‘n skadubeeld van wat Jesus vir ons gedoen het, deur ons die ware rus te gee (sien Hebreërs 3 en 4).
Die verhaal van Ragab is ‘n beeld van die verlossing wat ons in Jesus het. Onthou jy hoe sy die verkenners met ‘n rooi tou by haar huis, wat in die stadsmuur was, se venster laat afsak het (Josua 2)?
Dit is ‘n beeld van die verlossing wat beskikbaar is deur die bloed van Jesus.
Ons sien ook ‘n Ou Testamentiese verskyning van Jesus in Josua 5:13-15.
INTERESANTHEDE IN JOSUA.
Daar is ‘n paar interessante dinge wat ons in Josua sien.
God het die Israeliete uit slawerny bevry en in die Beloofde Land ingebring. Hy het ons as gelowiges uit die mag van die duisternis gered en ons verplaas na die Koninkryk van Sy Seun (Kolossense 1:13).
Ons sien ook in Josua dat daar sewe verskillende volke was wat die Israeliete se vyande was. Hulle was die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en die Jebusiete (Josua 24:11).
In die antieke tye was ‘n naam ‘n belangrike deel van ‘n persoon se karakter, tradisie of werk. Dis interessant dat elkeen van die name van die sewe volke ‘n betekenis het wat ons ‘n idee gee van die geestelike vyande wat óns het. Maar dis ‘n artikel vir ‘n ander dag!
ARTIKELS OOR DIE PENTATEUG.
Ek het voorheen genoem dat ons reeds die eerste vyf boek van die Bybel, wat die Pentateug genoem word, behandel het.
As jy daardie artikels gemis het, of dit dalk weer wil lees, kan jy dit HIER doen.

Baie dankie, die studie oor josua is baie interesant.
sou graag meer wil hoor.
Hallo Arthur. Bly dit het iets vir jou beteken!
Ek lees tans Josua – en hierdie uiteensetting voeg beslis waarde toe!
Bly dit het jou gehelp.
Baie dankie vir die Bybelstudie Ek kan dit nie neersit nie! Is dit asb moontlik om vir my ook dieerste 5 boeke te epos? Ek sal dit baie waardeer.
Groete
Magriet
Ek antwoord jou per e-pos.